Agtergrond tot die Gelykenis
Jesus het Homself as die Koning en die Messias van die Jode voorgestel toe Hy Jerusalem op die rug van ‘n donkie ingery het (Matteus 21:1-11). Vir enige Jood wat die Skrifte geken het, sou dit duidelik gewees het wat die Here hier doen, aangesien die profete vooraf daarvan getuig het:
Sagaria 9:9 “Verheug jou grootliks, o dogter van Sion! Juig, o dogter van Jerusalem! Kyk, jou Koning kom na jou; regverdig en ‘n oorwinnaar is Hy; nederig en Hy ry op ‘n esel—op ‘n jong esel, die vul van ‘n eselin.”
Later het Jesus die tempel binnegegaan en almal wat handel dryf, uitgejaag; Hy het ook die tafels van die geldwisselaars omgegooi (Matteus 21:12-17). Dit was die tweede keer dat Jesus die tempel gereinig het. Die vorige keer het ongeveer ‘n jaar voor hierdie gebeurtenis plaasgevind en dit het geen blywende vrugte opgelewer nie (Johannes 2:13-16). Nadat Jesus die handelaars verjaag het, het die blindes en kreupeles na Hom gekom en Hy het hulle gesond gemaak (Matteus 21:14).