Is jy seker God bestaan nie?

Is jy seker God bestaan nie?

Net die dwaas sê in sy hart: “Daar is nie ‘n God nie. Daar is deesdae baie mense, veral ook in Suid-Afrika, wat hierdie stelling maak. Ek glo elke mens is geregtig op sy eie mening, maar om so ‘n stelling te maak, is na my beskeie mening ietwat arrogant. Verder is dit my eie keuse of ek so ‘n persoon gaan glo of nie. (Dit is immers ‘n kwessie van lewe of dood!) Ek sou hom graag wou glo, maar dit sou dwaas van my wees om sy stelling sonder enige nadenke van my kant af goedsmoeds te aanvaar. Die gevolge kan rampspoedig wees. Om my standpunt te staaf, moet ons teruggaan na die begin.

In Genesis maak die Here ‘n stelling dat Hy die wêreld gemaak het in ses letterlike 24-uur dae, en op die sewende dag het Hy gerus. (Genesis 1:1-31 en Genesis 2:1-3) Dit is ‘n feitelike stelling en Hy neem aan dat ons dit sal glo; dit kom immers van Homself af. Om God se stellings oor Homself te verwerp, kom daarop neer om Hom te verwerp. Die persoon wat beweer dat God nie bestaan nie, demonstreer twee van sy eie gebreke wat daartoe bydra dat ek geen rede het om sy stelling te glo nie: hy demonstreer dat hy arrogant is en boonop ‘n leuenaar. So ‘n persoon hoef nie ernstig opgeneem te word nie, ongeag hoe slim of geleerd hy mag wees.

Kom ek verduidelik: Om te beweer dat God nie bestaan nie, impliseer dat die persoon wat die stelling maak, alwetend is. Hy neem dus ‘n onmeedeelbare attribuut van God en maak dit sy eie. En ek weet hy is nie alwetend nie – kyk maar net hoeveel nuwe ontdekkings elke dag gemaak word. Waarom het die persoon nie vooraf daarvan geweet nie? Die antwoord is dat die persoon nie alwetend is nie, en dus nie geregtig is om so ‘n dogmatiese stelling te maak nie. Hoe kan hy weet daar is nie ‘n God nie? Wat so ‘n stelling nog erger maak, is die feit dat die persoon dan ‘n attribuut wat slegs God toekom, op homself van toepassing wil maak. In effek verklaar hierdie persoon dat hy alwetend is!

Verder leer die Bybel ons dat geen mens werklik ‘n verskoning het nie. In Romeine 1 skryf Paulus dat God se onsigbare eienskappe duidelik uit die skepping geken kan word:
Rom. 1:18 “Want die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat die waarheid in ongeregtigheid onderdruk, 19 omdat wat van God geken kan word, in hulle openbaar is, want God het dit aan hulle geopenbaar. 20 Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie.”
Hierdie teks bevestig dat die persoon wat sê God bestaan nie, besig is om die waarheid “in ongeregtigheid te onderdruk”. Dit is nie ‘n tekort aan bewyse nie, maar ‘n doelbewuste verwerping van die getuienis wat God reeds in sy hart en in die natuur geplaas het.

Vir so ‘n persoon om sy geloofwaardigheid te behou, sou beteken dat hy ten minste alomteenwoordig moet wees. Ons almal weet die heelal is ontsaglik groot. Hoe kan hy sê God bestaan nie indien hy nie oral in die heelal op dieselfde oomblik was nie? Kruip God dalk nie daar iewers in ‘n hoekie van die heelal vir hom weg nie? Om sy stelling geloofwaardig te maak, sal hy alomteenwoordig moet wees, aangesien die Here hom baie maklik in so ‘n groot ruimte kan vermy. Dus impliseer die persoon dat hy alomteenwoordig is, wat ek weet hy nie is nie. Hy neem weereens ‘n onmeedeelbare eienskap waaroor slegs God beskik en maak dit op homself van toepassing.

Ter afsluiting: Om te sê God bestaan nie, sou beteken die persoon self buite tyd moet kan beweeg – iets wat net God kan doen. Die Bybel stel dit duidelik dat God alles geskape het (tyd ingesluit) en dus buite Sy skepping staan.
Joh. 1:1 “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. 2 Hy was in die begin by God. 3 Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.”

Deur die Bybel te verwerp, maak hy indirek die stelling dat God lieg. Hy insinueer dat hy daar moes gewees het om te sien dat God nie werklik geskape het nie. Hy stel homself dus gelyk met God – presies wat die duiwel wou doen. Ironies, is dit nie?

As ek al die feite in aanmerking neem, kan ek met sekerheid sê die persoon lieg en het ‘n te hoë indruk van homself. Hy verhef homself tot die posisie van God en noem die Skepper ‘n leuenaar. Dit is ‘n uiters gevaarlike ding om te doen. In kort: Ek glo hom nie, en dink hy is ‘n dwaas, net soos wat die Woord sê.
Ps.14:1 “Vir die musiekleier. ‘n Psalm van Dawid. Die dwaas sê in sy hart: Daar is geen God nie. Sleg, afskuwelik maak hulle hul dade; daar is niemand wat goed doen nie.”

Seëngroete, Vic

Deel met ander asb.