Vraag: Is dit skriftuurlik om in die Gees te val?
Antwoord: Die vraag wat ons hier moet beantwoord, is of die apostels van Jesus ons op enige plek in die Bybel beveel het om “in die Gees te val”. Die antwoord is nee; ons word nêrens in die Bybel so ’n opdrag gegee nie. Ons word wel beveel om in die Gees te wandel. Die vraag wat ons dan moet vra, is: Hoe wandel ’n mens in die Gees? Kom ons raadpleeg die Skrif vir die antwoord.
Johannes 15:5 “Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.”
Hier sien ons dat die Here ons die opdrag gee om in Hom te bly, en dan gee Hy aan ons die versekering dat ons veel vrug sal dra. Is dit deel van vrug dra om “in die Gees te val”, soos wat sommige mense beweer? Vir ’n antwoord gaan ons weer na die Skrifte om te sien wat die vrugte is waarvan die Here hier praat.
Galasiërs 5:22 “Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.
Efesiërs 5:9 Want die vrug van die Gees bestaan in alle goedheid en geregtigheid en waarheid.”
Ek kan vele ander verse hier byvoeg, maar nêrens word “val in die Gees” genoem nie. Ek vind dit merkwaardig dat die Heilige Gees, wat die Skrifte geïnspireer het, nêrens die opdrag gee om in die Gees te val nie. Waarom nie? Omdat “val in die Gees” nie ’n vrug van die Gees is nie. Die teendeel is egter waar: Die Heilige Gees wil ons meer soos Jesus Christus maak, en ek kan geen plek in die Bybel vind waar Jesus “in die Gees geval” het soos wat deesdae verkondig word nie.
Die Bybel het egter baie te sê oor die vrug van die Gees: Weereens: Waar het Jesus rondgeval terwyl Hy hier op aarde was? Die antwoord is nêrens. Ek het al gesien hoe helpers by sulke byeenkomste moet rondloop en handdoeke oor vroue gooi omdat hulle op onbetaamlike wyse neergeval het. Dink self: Sou die Here toelaat dat ’n vrou op ’n onbetaamlike manier val net om te bewys dat sy deur die Heilige Gees gesalf is? Die Skrif leer dat selfbeheersing en geregtigheid vrugte van die Gees is. Sal die Heilige Gees, wat God self is, mense so laat val dat hulle nie eers hul eie eerbaarheid kan bewaar nie? Absoluut nie!
Wat het geword van selfbeheersing? Dit is duidelik dat sulke persone nie onder hul eie beheer is nie. Dit geld ook vir die sogenaamde “dronk word in die Gees”. Dit impliseer dat die persoon nie beheer oor homself het nie – weereens ’n gebrek aan selfbeheersing. ’n Persoon wat “in die Gees val”, tree in direkte stryd op met wat die Here in Sy Woord beveel, naamlik om in die Gees te wandel. Wandel in die Gees beteken juis dat selfbeheersing as vrug sal manifesteer. Die sogenaamde “val in die Gees” kom nie van die Here af nie en is nie ’n Bybelse leerstelling nie.
Om deur die Gees gelei te word, beteken nie om rond te val of rukkings te kry nie. Dit beteken dat Hy ons lewenswandel toenemend heilig; dit is die proses van heiligmaking. Verder sal die Heilige Gees ons van sonde oortuig en van ons verwag om met daardie sonde te breek. Heiligmaking (fase twee van ons verlossing) volg direk op wedergeboorte (fase een van ons verlossing), en die Heilige Gees se doel is om die gelowige toenemend na die beeld van die Here Jesus Christus te vorm. (Lees asseblief die artikel “Drie fases van Verlossing“).
Dit beteken dat ons Christus se voorbeeld, soos in die Skrif opgeteken, moet navolg. Christus het egter nêrens vir ons ’n voorbeeld of opdrag gegee om in die Gees te val nie – ’n ernstige weglating as dit werklik Sy wil was! Die Heilige Gees lei ons in die waarheid. Die Woord van God is die waarheid, en die Bybel leer nêrens dat gelowiges moet neerslaan en rondrol nie. Vermy buite-Bybelse leerstellings, vleeslike manifestasies en buite-Bybelse profesieë; dit kan katastrofies vir ’n persoon se geestelike lewe wees.
1 Thess. 4:7 “Want God het ons nie tot onreinheid geroep nie, maar tot heiligmaking. 2 Thess. 2:13 Maar ons moet God altyd oor julle dank, broeders wat deur die Here bemin word, dat God julle van die begin af verkies het tot saligheid in heiligmaking van die Gees en geloof in die waarheid, Hebreërs 12:14 Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie;”
Mens is nie “geestelik” bloot omdat jy in kerkdienste neerslaan nie. ’n Geesvervulde persoon is iemand wat die vrug van die Gees manifesteer, wat ’n heilige lewe insluit en die Woord van God eerbiedig. So ’n persoon volg die Gees en bring goeie werke voort. Nêrens in die Bybel lees ons dat Jesus of Sy apostels op hierdie chaotiese wyse opgetree het nie. Waarom sou ons dit dan nou doen? Kry al u leerstellings uitsluitlik uit die Bybel om ernstige dwaalleer te vermy. (Ongelukkig is dit reeds die geval in groot dele van die belydende Christendom, wat soms meer gemeen het met die Nuwe Era-beweging as met die Skriftuurlike Christendom).
Kolossense 1:9 “Daarom hou ons ook nie op nie, van die dag af dat ons dit gehoor het, om vir julle te bid en te vra dat julle vervul mag word met die kennis van sy wil in alle wysheid en geestelike insig, 1:10 sodat julle waardiglik voor die Here mag wandel om Hom in alles te behaag en julle in elke goeie werk vrug mag dra en in die kennis van God mag groei, 2:3 in wie al die skatte van wysheid en kennis verborge is. 3:10 en julle jul met die nuwe mens beklee het wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper,”
Verder is “val in die Gees” dikwels bloot vleeslike manifestasies wat in wese nie geestelik is nie (en wat ook in oosterse godsdienste soos Hindoeïsme en die Nuwe Era-beweging voorkom). Wanneer mens die gedrag tydens hierdie manifestasies waarneem, kom jy gou tot die gevolgtrekking dat dit nie die werk van die Heilige Gees is nie. Ek het al beeldmateriaal gesien waar persone wat met ’n “ouija board” speel, presies dieselfde rukkings en manifestasies toon as diegene wat beweer hulle “val in die Gees”. As daar nie ’n duidelike Bybelse mandaat vir ’n verskynsel is nie, moet ons dit onomwonde verwerp en ons bepaal by dit wat die Here duidelik beveel het.
2 Timoteus 3:16 “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, 17 sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.”
Mense wat hierdie praktyk verdedig, moet asseblief een duidelike bevel vanuit die Skrif toon waar ons gelas word om in die Gees te val. So ’n teks bestaan nie. My raad is: Ken u Bybel en gehoorsaam slegs dit wat die Here in Sy Woord beveel.
Hierdie verskynsel bots ook met die Bybelse beginsel dat ons deur geloof wandel en nie deur aanskouing (of ervaring) nie. Mense wat op uiterlike manifestasies vertrou as bewys van hul redding of spiritualiteit, stel hulself bloot aan ernstige misleiding en demonstreer dikwels ’n gebrek aan ware Bybelse geloof geestelike groei en Bybelkennis.
2 Korintiërs 5:7 “Want ons wandel deur geloof en nie deur aanskouing nie.”
Ter Afsluiting: Ons moet onthou dat niemand gered word deur in die Gees te val nie. Mense word gered deur die aanhoor en glo van die Evangelie. Die mandaat van die Kerk is nie om mense te laat neerval nie, maar om die Evangelie te verkondig. Dit vereis dat ’n persoon by sy volle verstand moet wees sodat hy die boodskap kan verstaan en glo. Die Evangelie het niks met “val in die Gees” te make nie. Bly weg van hierdie dinge af!
Seëngroete, Vic