Meer oor ons

Meer oor ons

Ek is ‘n sondaar net soos jy, wat slegs deur die genade van God gered is—Hy wat al ons sondes in Sy eie liggaam aan die kruis namens ons betaal het (1 Petrus 2:24). Noem my gerus net Vic. My hoop is om deur middel van hierdie webtuiste ook ander na die Here te lei. Daar is niks besonders aan my nie; daarom het ek niks om op te roem nie. Ek roem slegs in die Persoon van die Here Jesus Christus en Sy voltooide werk aan die kruis (Galasiërs 6:14). Alle lof en eer kom Hom alleen toe!

Mag die fokus van hierdie webtuiste nooit op my wees nie, maar op Hom alleen wat ons met Sy kosbare bloed losgekoop het. Dit is immers ons voorreg en plig om mense aan die Here Jesus Christus voor te stel en die aandag op Hom te vestig, aangesien slegs Hy alle eer verdien. (Ek waak daarom teen die neiging om myself deur hierdie webtuiste te bemark en sodoende die eer wat die Here toekom, te ontneem.) Die leser word versoek om ook die blad “Ons doel hier” te raadpleeg.

Ek onderhou hierdie webtuiste self, met die ondersteuning van bydraes deur getroue gelowiges in wie se harte God die begeerte gewek het om hierdie werk te ondersteun. Filip. 2:13: “…want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.”

In hierdie verband dank ek my medebroers en -susters en bid ek dat die Here elke donasie tot hulle loon sal reken (Filip. 4:17). Ek dank die Here vir Sy bystand! Sonder Hom en die instaatstellende krag van die Heilige Gees sou ek nooit hierdie bediening kon begin of voortsit nie. Filip. 4:19: “En my God sal elke behoefte van julle vervul na sy rykdom in heerlikheid deur Christus Jesus.”

Kontak my gerus met enige Bybelvrae wat u mag kwel. Ek sal poog om alle vrae te beantwoord met die Bybel as die enigste maatstaf. Alle korrespondensie word streng vertroulik hanteer. Soms mag ek ‘n vraag op die webtuiste plaas, maar u kan verseker wees dat persoonlike besonderhede en u woonplek nooit bekend gemaak sal word nie. Indien u verkies dat u vraag nie op die webtuiste verskyn nie, meld dit asseblief in u e-pos.

Ons verkies en gebruik die 1933/1953-vertaling van die Afrikaanse Bybel, aangesien dit na my mening meer akkuraat vanuit die grondtale vertaal is. (Ons as Afrikaanssprekendes is uiters geseënd in hierdie opsig, en ek raai die leser ten sterkste aan om self die 1953-vertaling te bekom.) Indien ‘n teksgedeelte in u eie vertaling verskil van die aanhalings in my artikels, hou asseblief bogenoemde in gedagte.

Ek doen ‘n beroep op elkeen om alles wat verkondig word, aan die Skrif te toets (Handelinge 17:11). Ons leef ongelukkig in ‘n tydperk waar die sentrale plek van die Bybel as God se geïnspireerde, onfeilbare en voltooide openbaring bevraagteken en selfs aangeval word. Dit word dikwels vervang met buite-Bybelse openbarings en menslike opinies. Slegs die Bybel mag as maatstaf vir ons leerstellings dien! Die Skrif is die enigste bron waarteen ons ons geloofslewe moet meet (2 Timoteus 3:16-17).

Onthou asseblief dat ek feilbaar is. Daarom moet alles eers aan God se Woord getoets word alvorens dit as waarheid aanvaar word.

Baie dankie dat u die tyd geneem het om hierdie te lees. Mag die Here Jesus Christus u ryklik seën.”

Vic

Wat sê die Skrifte