Gelykenis van die Arbeiders

Die Gelykenis van die Arbeiders in die Wingerd

Voordat ons begin, moet ons eers kennis neem dat Jesus hierdie gelykenis vertel het as ‘n verdere verduideliking op ‘n vraag wat Petrus Hom gevra het.

Matt.19:27 “Daarop antwoord Petrus en sê vir Hom: Kyk, ons het alles verlaat en U gevolg. Wat sal daar dan vir ons wees? 28 En Jesus sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle dat julle wat My gevolg het, in die wedergeboorte (wanneer alles nuut gemaak word) wanneer die Seun van die mens op sy heerlike troon gaan sit, julle ook op twaalf trone sal sit en die twaalf stamme van Israel sal oordeel. 29 En elkeen wat huise of broers of susters of vader of moeder of vrou of 1kinders of grond ter wille van my Naam verlaat het, sal honderd maal soveel ontvang en die ewige lewe beërwe.”
Opmerking: Let op dat die Here verwys na die wedergeboorte, d.w.s. die millennium, wanneer Jesus fisies op aarde sal wees en Sy Messiaanse Koninkryk sal oprig. Dit sal die tyd wees wanneer Jesus die koninkryk geestelik (Jesaja 2:3; 4:2-4 en 11:9) polities (Jesaja 2:4; 11:1-5; 11:10 -11 en 32:16 – 18), asook geografies en fisies (Jesaja 2:2; 4:5 – 6; 11:6 – 9; 35: 1 – 2) gaan vestig. Hy gaan op die herstelde troon van Dawid sit en die wêreld vir duisend jaar lank regeer (Mattheüs 25:31). Dit alles vind hier op aarde, in die fisiese geografiese landgebied van Israel plaas. Dit is opmerklik dat die dissipels vir getroue diens aan God beloon gaan word met genadeloon, wat gesagsposisies van administrasie en heerskappy in die vrederyk van Jesus insluit (Lukas 19:17-27). Lees asb. die artikels “Die gelykenis van die Ponde” asook “Gelowiges se werke gaan beoordeel word”.


Matt.19:30 “Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en wat laaste is, eerste.”
Opmerking: Baie mense wat hoë en eerbare posisies in hierdie lewe beklee, sal dit nie noodwendig in Jesus se vrederyk besit nie. Jesus se waarskuwing is duidelik: Moenie verbaas wees as die nederige straatveër ‘n baie hoë posisie in Jesus se koninkryk ontvang nie, omdat hy getrou was met die min wat hy ontvang het (Lukas 19:17-27).Matt.20:1 “Want die koninkryk van die hemele is soos ‘n huisheer wat vroeg in die môre uitgegaan het om arbeiders vir sy wingerd te huur. 2 En nadat hy met die arbeiders ooreengekom het vir ‘n penning op ‘n dag, stuur hy hulle in sy wingerd.”
Opmerking: Die tydstip is ongeveer 06:00 in die oggend. Die huisheer verteenwoordig Jesus en die wingerd verteenwoordig die wêreld. Die arbeiders is gelowiges. Let daarop dat die Huisheer met die eerste werkers ooreenkom oor die loon wat hulle sal ontvang; daar is dus ‘n spesifieke ooreenkoms voordat hulle gestuur word.

Matt.20:3 “En omtrent die derde uur gaan hy uit en sien ander ledig op die mark staan. 4 En hy sê vir hulle: Gaan julle ook in die wingerd, en wat reg is, sal ek aan julle gee. En hulle het gegaan.”
Opmerking: Dit is nou 09:00. Die Huisheer (Jesus) stuur weer werkers (gelowiges) in die wingerd in. Hy kom egter nie ooreen op ‘n spesifieke bedrag nie, maar verseker hulle dat Hy hulle regverdig sal beloon. Hulle vertrou Hom en gaan werk.

Matt.20:5 “Weer het hy omtrent die sesde en die negende uur uitgegaan en net dieselfde gedoen.”
Opmerking: Dit is onderskeidelik 12:00 en 15:00. Die Huisheer herhaal dieselfde versoek aan hierdie groepe.

Matt.20:6 “En omtrent die elfde uur gaan hy uit en vind ander ledig staan en sê vir hulle: Wat staan julle hier die hele dag ledig? 7 Hulle antwoord hom: Omdat niemand ons gehuur het nie. Hy sê vir hulle: Gaan julle ook in die wingerd, en wat reg is, sal julle ontvang.”
Opmerking: Hierdie mense is nie lui nie; hulle het bloot nie werk gevind nie. Die Huisheer stuur hulle teen ongeveer 17:00 met dieselfde belofte van regverdige beloning.

Matt.20:8 “En toe dit aand geword het, sê die heer van die wingerd vir sy opsigter: Roep die arbeiders en betaal hulle hul loon; en begin van die laastes af tot by die eerstes.”
Opmerking: Die Huisheer gee opdrag dat die laaste arbeiders eerste betaal word. Dit blyk dat Hy wou hê dat almal moes sien hoe vrygewig Hy beloon. Dit is ‘n heenwysing na die Regterstoel (Bema) van Christus, waar alle belonings openlik en voor getuies plaasvind (Romeine 14:10; 2 Korinthiërs 5:10). Die Skrif bevestig dat Jesus self die oordeel sal behartig (Johannes 5:22).

Matt.20:9 “En die wat omtrent die elfde uur begin het, het gekom en elkeen ‘n penning ontvang. 10 Die eerstes kom toe en dink dat hulle meer sal ontvang, en hulle het ook elkeen ‘n penning ontvang. 11 En toe hulle dit ontvang, murmureer hulle by die huisheer 12 en sê: Hierdie laastes het een uur gewerk, en u het hulle gelykop behandel met ons wat die las van die dag en die hitte gedra het. 20:13 Maar hy antwoord en sê vir een van hulle: Vriend, ek doen jou geen onreg aan nie. Het jy nie met my ooreengekom vir ‘n penning nie? 14 Neem dan wat joue12 is, en gaan heen. Ek wil aan hierdie laaste een gee net soos aan jou.”
Opmerking: Ons moenie met die Here probeer onderhandel oor ons dienswerk nie; dit dui op ‘n gesindheid wat vergoeding eis en vergeet van die genade van ons loskoping. Motiewe is deurslaggewend in die koninkryk. Die Here gebruik nie menslike maatstawwe nie, maar beloon volgens Sy eie wysheid en geregtigheid.

Matt.20:15 “Of staan dit my nie vry om met my eie goed te maak wat ek wil nie? Of is jou oog verkeerd, omdat ek goed is?”
Opmerking: Die arbeiders wat op die Here se regverdigheid vertrou het, ontvang dieselfde loon as diegene wat onderhandel het. Ons moet bloot gehoorsaam wees en op Sy genade vertrou (Lukas 17:10).

Matt.20:16 “So sal die wat laaste is, eerste wees, en die wat eerste is, laaste; want baie is geroep, maar min uitverkies.”
Opmerking: Daar sal verrassings wees by die Bema-oordeel! Baie wat wêreldse aansien geniet het, sal laaste wees, terwyl die getroue “laastes” eerste geplaas sal word. Verder is baie geroep tot diens en verlossing, maar slegs diegene wat reageer en getrou bly, word uitgesonder vir spesiale eer in die koninkryk.

Ter afsluiting: Die gelykenis van die arbeiders in die wingerd is nie ‘n les oor redding nie — wat ‘n vrye gawe van God is — maar ‘n les oor die gesindheid waarmee ons die Here dien terwyl ons wag op Sy koninkryk. Dit herinner ons daaraan dat God nie net kyk na die volume van ons werk nie, maar na die gehoorsaamheid en vertroue in ons harte.

Terwyl ons uitsien na die “wedergeboorte” van die wêreld en die oprigting van die Messiaanse ryk (Mattheüs 19:28), moet ons waak teen ‘n gees van selfvoldaanheid of wetlikheid. Laat ons dien met die wete dat ons Here regverdig en oorvloedig goed is. By die Regterstoel van Christus sal dit nie die wêreldse status wees wat tel nie, maar die getrouheid waarmee ons die opdragte van die Huisheer uitgevoer het (2 Korinthiërs 5:10). Mag ons daarna streef om nie net “geroep” te wees nie, maar as getroue “uitverkorenes” bevind te word wat die Here met ‘n onverdeelde hart gedien het.

Seen groete, Vic

Deel met ander asb.