Teenspoed, tragedie en lyding is realiteite wat ons almal op een of ander tydstip beleef. As mense wil ons dikwels verstaan waarom juis ons getref word, maar die eenvoudige waarheid is dat ons in ‘n gevalle wêreld woon. Die Here het ons nêrens belowe dat ons lyding sal vryspring wanneer ons Hom as Verlosser aanneem nie. Tog bied die Woord van God waardevolle leidrade wat ons help om lyding te verstaan en te hanteer — hetsy in ons eie lewens of wanneer ons ‘n broeder in nood bystaan. Mense wat verkondig dat gelowiges slegs voorspoed sal ervaar, verkondig leuens wat dikwels tot gevolg het dat mense permanent van die Here af wegdraai wanneer dinge skeefloop. Hier volg ‘n paar redes waarom lyding in die lewe van ‘n gelowige toegelaat word.
1. Lyding as gevolg van sonde
Lyding en probleme kan soms die direkte gevolg van sonde in ‘n gelowige se lewe wees.
1 Korintiërs 11:30-32 “Daarom is daar onder julle baie swakkes en sieklikes, en ‘n aantal het ontslaap. Want as ons onsself beoordeel het, sou ons nie geoordeel word nie. Maar as ons geoordeel word, word ons deur die Here getugtig, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel mag word nie.”
God is heilig en verwag van Sy kinders ‘n heilige lewenswandel. Soms laat Hy lyding toe om sonde (die dros) uit ons lewens te verwyder.
Jesaja 1:25 “En Ek sal my hand teen jou uitstrek en jou skuim soos met loog uitsuiwer en al jou looddele wegneem.”
Hoewel tugtiging onaangenaam is, dien dit as ‘n versekering dat ons werklik God se kinders is. God tugtig Sy eie kinders in hierdie dispensasie; die oordeel oor ongelowiges sal eers tydens die Verdrukking begin en finaal afgehandel word by die Groot Wit Troon Oordeel (Openbaring 20:11).
Hebreërs 12:6-8 “want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem. As julle die tugtiging verdra, behandel God julle as seuns; want watter seun is daar wat die vader nie tugtig nie? Maar as julle sonder tugtiging is, wat almal deelagtig geword het, dan is julle onegte kinders en nie seuns nie.”
Ek is egter oortuig dat baie lyding vermy kan word indien ons basiese wysheid toepas.
Spreuke 10:10, 14 “Hy wat met sy oog knip, veroorsaak smart, en hy wat dwaas spreek, kom tot ‘n val. Die wyse lê kennis weg, maar die mond van die dwaas is ‘n ondergang wat naby is.”
Spreuke 22:3 “‘n Skrander mens sien die onheil en verberg hom, maar die eenvoudiges gaan verder en word gestraf.”
Dinge soos ongesonde gewoontes, skinder, drankmisbruik of roekelose optrede bring dikwels onheil oor onsself wat nie direk vanaf die Here kom nie, maar die gevolg is van ons eie dwase keuses. Die Here waarsku ons in Sy Woord om wysheid te bekom, juis om ons van onnodige pyn te spaar. Ons kan God nie blameer vir die gevolge van ons eie ongehoorsaamheid nie.
2. Lyding om geestelike groei te bevorder
Baie keer laat die Here beproewing toe vir ons eie geestelike ontwikkeling.
Romeine 5:3-5 “En nie alleen dit nie, maar ons roem ook in die verdrukkinge, omdat ons weet dat die verdrukking lydsaamheid werk, en die lydsaamheid beproefdheid en die beproefdheid hoop; en die hoop beskaam nie, omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is.”
Hierdie proses van heiligmaking vorm ons toenemend na die beeld van Jesus Christus. God het ons so lief dat Hy bereid is om “skoon te maak” sodat ons meer vrug kan dra.
Johannes 15:2 “Elke loot wat in My nie vrug dra nie, neem Hy weg; en elke loot wat vrug dra, dié maak Hy skoon, sodat dit meer vrug kan dra.”
Net soos Paulus moet ons dikwels deur beproewing leer om vergenoeg te wees in alle omstandighede. Dit leer ons om nie op eie krag te vertrou nie, maar op God se genade alleen.
Filippense 4:11-13 “…want ek het geleer om vergenoeg te wees met die omstandighede waarin ek is. Ek weet om verneder te word, ek weet ook om oorvloed te hê… Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.”
Lyding herinner ons ook daaraan om nederig te bly. Selfs Paulus het ‘n “doring in die vlees” gekry sodat hy hom nie oor die voortreflikheid van sy openbarings sou verhef nie (2 Korintiërs 12:7). Ons behoort sensitief te wees vir die oortuigingswerk van die Heilige Gees voordat ons optrede die Here noodsaak om ons deur omstandighede “aarde toe te bring”.
3. Versoeke vanaf die duiwel (Toetsing)
Soms laat die Here toe dat die satan ons toets, soos in die geval van Job. God sal egter nooit toelaat dat ons bo ons kragte versoek word nie en sal altyd ‘n uitkoms gee (1 Korintiërs 10:13).
Jakobus 5:11 “Kyk, ons reken hulle geluksalig wat verdra. Julle het gehoor van die lydsaamheid van Job, en julle het die einddoel van die Here met hom gesien, dat die Here vol medelye en ontferming is.”
Dit is ‘n geweldige troos om te weet dat Jesus self vir ons intree, net soos Hy vir Petrus gebid het toe die satan hom wou “sif” (Lukas 22:31-32). In sulke tye word die duiwel as leuenaar ontmasker wanneer God se kinders Hom bly liefhê vir wie Hy is, en nie net vir wat Hy gee nie.
4. Voorbereiding vir ‘n groot taak
Lyding dien dikwels as voorbereiding vir ‘n toekomstige posisie of roeping. Dink aan Josef wat as slaaf en gevangene voorberei is vir sy rol as onderkoning van Egipte (Genesis 39-50). Dawid en Moses moes ook tyd in die woestyn deurbring voordat hulle hul volle roeping kon vervul. U woestynervaring is dalk die klaskamer waarin die Here u voorberei vir ‘n taak waarvoor u ryklik by die Regterstoel van Christus beloon sal word.
Boonop stel ons eie lyding ons in staat om ander met empatie te troos.
2 Korintiërs 1:4 “wat ons troos in al ons verdrukking, sodat ons die wat in allerhande verdrukking is, kan troos deur die vertroosting waarmee ons self deur God getroos word.”
Trooswoorde in lyding
Hoewel die Here nie altyd die spesifieke redes vir ons lyding bekend maak nie, kan ons vasstaan op Sy belofte:
Romeine 8:28 “En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.”
In die wêreld sal ons verdrukking hê, maar ons hou goeie moed omdat Christus die wêreld klaar oorwin het (Johannes 16:33). As ons saam met Hom ly en volhard, sal ons ook saam met Hom regeer (2 Timoteus 2:12). Vir die gelowige lê die beste nog voor — ‘n ewigheid as konings en priesters in Sy koninkryk.
Niks kan ons van God se liefde skei nie — nie vervolging, honger, gevaar of selfs die dood nie.
Romeine 8:38-39 “Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.”
Ter afsluiting: Lyding is ‘n gekompliseerde onderwerp, maar ons Hemelse Vader weet alles en Hy sal ons daardeur dra. Ons is pelgrims op pad na ons ware woning. Mag u vertroos word deur die wete dat Hy by u is tot aan die voleinding van die wêreld (Matteus 28:20).
Seëngroete, Vic