Vraag: Is die kerk, of ‘n sekere bekende kerkdenominasie, die enigste weg na God toe, of kan ek aan enige kerk behoort en nog steeds ‘n kind van God wees? Ek wil nie ‘n fout op hierdie punt maak nie, maar ek oorweeg dit om my huidige denominasie te verlaat. Baie dankie.
Antwoord: Moenie bekommerd wees nie; jy sal verbaas wees om te weet dat daar net een ware Kerk van Jesus Christus is. Hierdie Kerk is nie ‘n denominasie nie, maar bestaan uit alle wedergebore Christene wat die Evangelie geglo het. Kerklidmaatskap red niemand nie en het nog nooit iemand gered nie. Dit is ongelukkig ‘n feit dat daar baie mense is wat Sondag na Sondag in die kerkbanke sit, maar wat nog nooit werklik wedergebore is nie en dus verlore is. Ek beklemtoon dit weer: Die kerk of ‘n denominasie is nie die weg na God die Vader nie!
‘n Persoon word wedergebore deur die aanhoor en geloof in die Evangelie, soos wat dit in die Bybel aan ons gebring word, en op geen ander wyse nie. ‘n Mens word ook slegs deel van die liggaam van Christus (die universele Kerk) nadat jy wedergebore is.
1Ko 12:13 “Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge.”
Ef 1:13 “in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte,”
Daar is deesdae baie kerke waar die Evangelie nie duidelik verkondig word nie, of waar selfs ‘n valse evangelie verkondig word. ‘n Voorbeeld hiervan is die Rooms-Katolieke Kerk wat ‘n “werke-evangelie” verkondig. Sulke kerke is dikwels gevul met mense wat mislei is omdat hulle onder die wanindruk verkeer dat lidmaatskap aan ‘n spesifieke denominasie hulle wedergebore maak. Hierdie stelling geld vir baie denominasies, selfs dié wat uit die Reformasie voortspruit.
Wedergeboorte geskied slegs deur die aanhoor en glo van die Evangelie. Indien jy aan ‘n kerk behoort en nie met sekerheid kan verduidelik wat die Evangelie is nie, moet jy jouself afvra waarom jy steeds daar is. Die Here het aan ons die opdrag gegee om die Evangelie te verkondig. Dit is die geloof in die Evangelie wat ‘n mens red, en niks anders nie. Kerklidmaatskap of kerkbywoning vorm nie deel van die Evangelie (fase een: regverdigmaking) nie, maar is deel van fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking en dissipelskap. (Lees asseblief die artikel: “Drie fases van verlossing”)
Joh 14:6 “Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.”
Onthou, die Here Jesus Christus het vir al jou sondes aan die kruis gesterf – nie die kerk of enige ander mens nie! Die Here Jesus Christus is die enigste weg na die Vader. Daarom is dit van uiterste belang om ‘n gemeente by te woon waar die Evangelie suiwer verkondig word.
1Ko 15:1-5 “Broeders, ek maak julle die evangelie bekend wat ek aan julle verkondig het, wat julle ook aangeneem het, waarin julle ook staan, waardeur julle ook gered word as julle daaraan vashou op die wyse waarop ek dit aan julle verkondig het, of julle moet tevergeefs geglo het. Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte; en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte; en dat hy aan Céfas verskyn het; daarna aan die twaalf.”
En Jesus Christus self het gesê:
Joh 6:28-29 “Toe vra hulle Hom: Wat moet ons doen om die werke van God te volbring? Jesus antwoord en sê vir hulle: Dít is die werk van God, dat julle in Hom glo wat Hy gestuur het.”
Jy kan God met sekerheid op Sy Woord neem. Dit is die Here Jesus Christus wat jou eendag gaan oordeel, en jy kan verseker weet dat Hy nooit van Sy Woord sal afwyk nie. Om Jesus Christus as die enigste Weg met ‘n kerkstelsel te vervang, is ‘n ernstige dwaalleer. Bestudeer altyd jou Bybel persoonlik om seker te maak wat die Skrif oor enige onderwerp sê. Die Bybel stel dit onomstootlik dat daar geen ander weg na die Vader is behalwe deur die Here Jesus Christus nie.
My raad is om ‘n gemeente te soek wat die konsekwente, letterlike, grammaties-historiese metode van Bybelinterpretasie gebruik. Maak seker dat slegs die Skrif (Sola Scriptura) as basis vir leerstellings gebruik word, en nie menslike tradisies, vleeslike manifestasies, buite-Bybelse profesieë of emosies nie. Toets alles wat verkondig word aan die Skrif (Handelinge 17:11). Bid dat die Heilige Gees jou sal lei, en jy kan verseker wees dat Hy jou die nodige insig sal gee.
Ek bid dat hierdie antwoord vir jou tot hulp sal wees.
Seëngroete, Vic