skrifte

Die Sewe vernaamste oordele soos in die skrifte gevind


Baie mense verkeer verkeerdelik onder die indruk dat daar slegs een groot oordeel sal plaasvind en waarin bepaal sal word waar ‘n persoon die ewigheid gaan deurbring. Omrede die meerderheid van die Afrikaans sprekende Christene vanuit die Gereformeerde tragiese kom is hierdie stand van sake verstaanbaar. Die rede hiervoor is eenvoudig. Wanneer dit by die verlossingsleer kom, maak hulle predikers korrek van die letterlike, grammatiese en historiese interpretasie van die Bybel gebruik, maar waar dit by eskatologie (die leer van die laaste dinge, naamlik die profetiese woord soos wat dit in die Bybel opgeteken staan) kom wyk hulle van hierdie verklaringsmetode af, en vergeestelik die skrifte, wat tot foutiewe en onbybelse aannames aanleiding gee. Indien die skrifte op ‘n konsekwente letterlike, grammatiese en historiese wyse verklaar word, word dit duidelik dat meer as net een finale oordeel in die skrifte weergegee word. Met die skryf van hierdie artikel sal daar sewe van die vernaamste oordele in die Bybel aan die leser voorgehou word.


1. God se oordeel van sonde:

Plek: Golgota wat buite Jerusalem op aarde geleë is.

Tyd: 30nC

Tydens die kruisiging het God al die sondes van die mensdom (verlede, hede en toekomstige sondes) op die Here Jesus Christus gelê en Hom daarvoor geoordeel. Die Here Jesus Christus het dus vir die hele mensdom se sondes met Sy lewe aan die kruis versoening gedoen. Hierdie historiese gebeurtenis het dus die grondslag van ons verlossing bewerkstellig.
2Kor.5:21 “Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.”
Die Here Jesus Christus se kruisiging was ‘n eenmalige gebeurtenis wat op ‘n spesifieke plek en tyd plaasgevind het en wat nooit weer herhaal sal word nie. Die rede waarom die kruisiging nooit weer sal plaasvind nie, is omrede God vir eens en vir altyd die sondes van die mens in Christus geoordeel het.
Heb.10:12 “maar Hy het, nadat Hy een slagoffer vir die sondes gebring het, vir altyd gaan sit aan die regterhand van God”
Die vraag is nie nou meer soseer oor wat die mens met sy sondeskuld kan doen nie, maar eerder wat hy nou met die Here Jesus Christus doen. Die Here Jesus Christus het vir die ganse mensdom se sondes aan die kruis versoening bewerkstellig en die vraag is of ‘n persoon hierdie feit in geloof gaan aanneem of verwerp. Enige persoon wat glo dat die Here Jesus Christus vir al sy sondes aan die kruis gesterf het, en op die derde dag uit die dood uit opgestaan het ontvang die gawe van die ewige lewe outomaties en sal nooit verlore kan gaan nie.
Heb.10:10 “Deur hierdie wil is ons geheilig deur die offer van die liggaam van Jesus Christus, net een maal.” (Die leser word aangeraai om die artikel “Heiligmaking in drie fases” sorgvuldig deur te lees)


2. Dit is elke gelowige se plig om homself te oordeel:

Plek: Op hierdie aarde.

Tyd: Nou

Sodra ‘n persoon die evangelie geglo het, dan begin daardie persoon se verhouding met God as Sy kind. Fase een van die gelowige se verlossing, naamlik wedergeboorte, is dus alreeds afgehandel en hy bevind homself nou in fase twee van sy verlossing, naamlik die heiligmaking fase. (Die leser word aangeraai om die artikel “Drie fases van verlossing” te lees indien hy dit nog nie gedoen het nie) As deel van die proses van heiligmaking verwag God van ons om onsself te beoordeel. Indien ons hierdie proses met ‘n opregte hart toepas sal dit verhoed dat dit vir God nodig sal wees om ons te tugtig.
1Kor.11:31 “Want as ons onsself beoordeel het, sou ons nie geoordeel word nie. 32 Maar as ons geoordeel word, word ons deur die Here getugtig, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel mag word nie.”
Die skrifte verseker ons egter dat indien ons, ons sondes bely dat God ons sondes sal vergewe en wat daartoe aanleiding sal gee dat ons inter persoonlike gesinsverhoudinge met ons hemelse Vader herstel sal wees.
1Joh.9 “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.”
Net omrede ons nie onder die Wet van Moses (Dispensasie van die Wet) lewe nie beteken dit geensins dat ons ‘n vrybrief het om goedsmoeds sondes te pleeg nie. As God sonde onder die Dispensasie van die Wet gestraf het, kan ons met sekerheid weet dat Hy ook sonde wat tydens die Dispensasie van die Kerk/genade gepleeg word sal straf. (die leser word aangeraai om die artikel “Verliese as gevolg van sonde in die gelowige se lewe” te lees.) Alhoewel God se straf van sonde ernstige afmetings kan aanneem kan ‘n gelowige egter nooit in die poel van vuur gewerp word en verlore gaan nie.


3. Gelowiges gaan beoordeel word:

Plek: In die Hemel voort die Here Jesus Christus.

Tyd: Na afloop van die wegraping.

Tydens die eerste opstanding sal alle gelowiges se werke wat hulle na aanvanklike wedergeboorte verrig het onder die soeklig geplaas word. Vir ‘n gelowige wat tydens die Kerk Dispensasie geleef het sal dit die Regterstoel Oordeel van Christus wees. Dit is baie belangrik om te onthou dat dit slegs gelowiges is wat tydens die eerste opstanding, wat in fases plaasvind, beoordeel sal word en daar sal absoluut geen ongelowiges by die eerste opstanding betrokke wees nie. Die Ou Testamentiese gelowiges sal na afloop van die wederkoms uit die dood uit opstaan waar hulle alreeds deur Christus beoordeel sal wees. Alle gelowiges sal egter aan die Here Jesus Christus moet rekenskap gee vir dit wat hulle tydens hulle aardse bestaan verrig het. (Die leser word aangeraai om die illustrasie “Die Opstandings” sorgvuldig te bestudeer) Die gelowige se ewige bestemming is glad nie hier ter sprake nie, omrede die Here Jesus Christus vir al die persoon se sondes aan die kruis versoening gedoen het, en staan geregverdig voor God op grond van die Here Jesus Christus se toegerekende geregtigheid en nie op die grond van sy eie geregtigheid nie. Die gelowige se optredes, en die motiewe daarvoor, asook sy diens aan Christus verrig sal beoordeel word en waarna genadeloon ontvang of verbeur sal word.
2Kor.5:10 “Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad.”
1Kor.3:11 “Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus. 12 En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels — 13 elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. 14 As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; 15 as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.”
Genadeloon word op grond van die gelowige se werke, wat hy na afloop van aanvanklike wedergeboorte verrig het, verdien of verbeur, maar hy kan nooit die gawe van die ewige lewe verbeur nie. (Lees gerus weereens die artikel “Die Ewige sekuriteit van die gelowige”)

Getroue gelowiges kan ook moontlik een of meer krone d.m.v. hulle goeie werke verdien. Die krone is soos volg: 1) Die kroon van geregtigheid vir die wat Sy koms lief het. 2 Timoteus 4:7-8. 2) Die kroon van heerlikheid vir getroue herders. 1 Petrus 5:2-4. 3) Die kroon van roem vir sielewenners. 1Thess 2:19. 4) Die onverwelklike kroon vir ‘n heilige en diensbare lewe. 1 Kor 9:24-27 en laastens die kroon van die lewe vir Christen-martelare. Op. 2:10 Dit sluit mense wat in hierdie lewe swaar gekry het en nog steeds getrou aan God gebly het in. (Jakobus 1:12 ; 2 Kor. 4:16-18 en Heb. 11:3-5)
Die apostel Paulus was oortuig dat hy die kroon van geregtigheid verdien het.
2Tim.4:8 Verder is vir my weggelê die kroon van die geregtigheid wat die Here, die regverdige Regter, my in dié dag sal gee; en nie aan my alleen nie, maar ook aan almal wat sy verskyning liefgehad het.”
Die leser word aangeraai om die artikel “Hemelse krone, loon en goeie werke”, asook “Kriteria by die Regterstoel Oordeel van Christus” sorgvuldig deur te lees.


4. Die oordeel van Israel:

Plek: Op die aarde.

Tyd: Aan die einde van die Groot Verdrukking net na afloop van Christus se wederkoms.

Na afloop van die Groot Verdrukking, met die Here Jesus Christus se wederkoms, sal Hy Israel oordeel waarna Hy alle ongelowige oorlewende Israeliete onder die volk uit sal verwyder, waarna die gelowige Israeliete Christus se Duisendjarige Vrederyk met hulle nie-verheerlikte liggame sal binnegaan.
Eseg.20:33 “So waar as Ek leef, spreek die Here HERE, Ek sal gewis met ‘n sterke hand en met ‘n uitgestrekte arm en met uitgestorte grimmigheid oor julle regeer. 34 En Ek sal julle (Israel, nie die nasies nie ) uit die volke uitlei en julle versamel uit die lande waarin julle verstrooi is, deur ‘n sterke hand en deur ‘n uitgestrekte arm en deur uitgestorte grimmigheid. 35 En Ek sal julle bring in die woestyn van die volke, en Ek sal daar met julle in die gerig tree van aangesig tot aangesig. 36 Soos Ek met julle vaders in die woestyn van Egipteland in die gerig getree het, so sal Ek met julle in die gerig tree, spreek die Here HERE. 37 En Ek sal julle onder die herderstaf laat deurgaan en julle bring in die band van die verbond. 38 En Ek sal uit julle afsonder die wat opstandig is en teen My oortree; Ek sal hulle uit die land van hul vreemdelingskap uitlei, maar hulle sal in die land van Israel nie kom nie; en julle sal weet dat Ek die HERE is. 39 Maar julle, o huis van Israel, so sê die Here HERE: Gaan weg en dien elkeen sy drekgode; maar hierna — sekerlik sal julle na My luister en my heilige Naam nie meer ontheilig met julle offergawes en julle drekgode nie. 40 Want op my heilige berg, op die verhewe berg van Israel, spreek die Here HERE, daar sal die hele huis van Israel, hulle almal, My dien in die land; daar sal Ek ‘n behae in hulle hê en daar sal Ek julle offergawes eis en die eerstelinge van julle aanbiedinge by al julle heilige gawes. 41 As ‘n lieflike geur sal Ek ‘n behae in julle hê wanneer Ek julle uit die volke uitlei en julle uit die lande versamel waarin julle verstrooi was, en Ek sal My in julle as die Heilige laat ken voor die oë van die nasies. 42 En julle sal weet dat Ek die HERE is as Ek julle in die land van Israel bring, in die land waar Ek my hand oor opgehef het om dit aan julle vaders te gee. 43 Daar sal julle dan dink aan julle weë en al julle handelinge waarmee julle jul verontreinig het, en julle sal vir julself walglik wees vanweë al jul slegte dinge wat julle gedoen het. 44 En julle sal weet dat Ek die HERE is as Ek met julle handel ter wille van my Naam en nie volgens julle verkeerde weë of julle verdorwe handelinge nie, o huis van Israel, spreek die Here HERE.”
Die leser word ten sterkste aangeraai om die reeks artikels oor die sewe dispensasie sorgvuldig deur te lees, asook die reeks artikel Belangrike feite aangaande die kerk asook “Die Messiaanse Koninkryk van Christus op aarde.” te bestudeer. Dit is uiters belangrik om dit te doen omrede dit ons plek op God se historiese tydskaal aan ons verduidelik.


5. Die Oordeel van die Nasies:

Plek: Op die aarde.

Tyd: Direk na afloop van die Groot Verdrukking en die here Jesus Christus se wederkoms.

Na afloop van die Groot Verdrukking, en die Here Jesus Christus se wederkoms, sal Hy die nie-Joodse nasies beoordeel, waartydens die gelowiges van die ongelowiges geskei sal word. Die gelowiges sal met hulle nie-verheerlikte liggame in die Duisendjarige Vrederyk van Christus (die koninkryk) verwelkom word maar die ongelowige heidene sal in die ewige vuur gewerp word.
Matt.25:31 “En wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op sy heerlike troon sit; 32 en voor Hom sal al die nasies versamel word, en Hy sal hulle van mekaar afskei soos die herder die skape van die bokke afskei; 33 en Hy sal die skape aan sy regterhand en die bokke aan sy linkerhand sit. 34 Dan sal die Koning vir die wat aan sy regterhand is, sê: Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af. 35 Want Ek het honger gehad, en julle het My te ete gegee; Ek het dors gehad, en julle het My te drinke gegee; Ek was ‘n vreemdeling, en julle het My herberg gegee; 36 Ek was naak, en julle het My geklee; Ek was siek, en julle het My besoek; in die gevangenis was Ek, en julle het na My gekom. 37 Dan sal die regverdiges Hom antwoord en sê: Here, wanneer het ons U honger gesien en gevoed; of dors, en te drinke gegee? 38 En wanneer het ons U ‘n vreemdeling gesien, en herberg gegee; of naak, en geklee? 39 En wanneer het ons U siek gesien of in die gevangenis, en na U gekom? 40 En die Koning sal antwoord en vir hulle sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen. 41 Dan sal Hy ook vir dié aan sy linkerhand sê: Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele. 42 Want Ek het honger gehad, en julle het My nie te ete gegee nie; Ek het dors gehad, en julle het My nie te drinke gegee nie. 43 Ek was ‘n vreemdeling, en julle het vir My nie herberg gegee nie; naak, en julle het My nie geklee nie; siek en in die gevangenis, en julle het My nie besoek nie. 44 Dan sal hulle Hom ook antwoord en sê: Here, wanneer het ons U honger gesien of dors of ‘n vreemdeling of naak of siek of in die gevangenis, en U nie gedien nie? 45 Dan sal Hy hulle antwoord en sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit nie gedoen het aan een van hierdie geringstes nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie. 46 En hulle sal weggaan in die ewige straf, maar die regverdiges in die ewige lewe.”


6.Die oordeel van die satan en sy engele:

Plek: Op die aarde.

Tyd: Aan die einde van die Here Jesus Christus se duisendjarige vrederyk op aarde.

Tydens die Duisendjarige Vrederyk van Christus op aarde sal die satan in die afgrond toegesluit wees, waarna hy na afloop van duisend jaar vir ‘n kort tydjie vrygelaat sal word om weereens die mensdom van die aarde in rebellie teen God te lei.
Openb.20:1 “En ek het ‘n engel uit die hemel sien neerdaal, met die sleutel van die afgrond en ‘n groot ketting in sy hand. 2 En hy het die draak gegryp die ou slang wat die duiwel en die Satan is en hy het hom gebind duisend jaar lank, 3 en hom in die afgrond gewerp en hom toegesluit en dit bo hom verseël, sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie. Daarna moet hy dan ‘n kort tydjie ontbind word. 4 En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee; en ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God, en die wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang het nie; en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank. 5 En die ander dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie. Dit is die eerste opstanding. 6 Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank. 7 En wanneer die duisend jaar voleindig is, sal die Satan uit sy gevangenis ontbind word; 8 en hy sal uitgaan om die nasies te verlei wat in die vier hoeke van die aarde is, die Gog en die Magog, om hulle te versamel vir die oorlog; en hulle getal is soos die sand van die see. 9 En hulle het opgekom oor die breedte van die aarde en die laer van die heiliges en die geliefde stad omsingel, en vuur het van God uit die hemel neergedaal en hulle verslind. 10 En die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swawel gewerp waar die dier en die valse profeet is; en hulle sal dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid.”
Wanneerdie satan finaal in die poel van vuur gewerp sal word, dan is God se sistematiese oorwinning oor die satan finaal afgehandel en satan sal nooit weer vrygelaat word nie. Die Leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Christus se sistematiese oorwinning oor Satan” te lees.


7. Die oordeel van al die ongelowiges van alle tye:

Plek: In die hemel

Tyd: Aan die einde van die Here Jesus Christus se Duisendjarige Vrederyk op aarde.

Hierdie oordeel, ook bekend as die Wit Troon Oordeel, geld slegs vir al die ongelowiges van alle tye. Geen gelowige persoon sal tydens hierdie oordeel teenwoordig wees nie. Na afloop van die Here Jesus Christus se Vrederyk op aarde, sal al die ongelowiges van alle tye uit die dood uit opstaan en voor die Here Jesus Christus verskyn om die graad van hulle straf in die poel van vuur te bepaal.
Openb.20:11 “En ek het ‘n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie. 12 En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ‘n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke. 13 En die see het die dode gegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dode gegee wat daarin was; en hulle is geoordeel, elkeen volgens sy werke. 14 En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood. 15 En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp.”
Al die mense wat hier voor Christus verskyn sal volgens hulle werke geoordeel word omrede hulle die evangelie verwerp het, en dit sluit alle mense wat ‘n werke evangelie geglo het ook in. Hierdie persone se werke wat hulle in die vlees verrig het gaan die graad van hulle ewige straf in die poel van vuur bepaal. Dit moet weer gestel word dat al die mense wat by die Wit Troon Oordeel verskyn ongered is en daar sal geen gelowige mense teenwoordig wees nie. Hierdie gebeurtenis staan as die tweede dood bekend, en hierdie mense se lot is om vir ewig in die poel van vuur, wat spesifiek vir die satan en sy engele voorberei is, gewerp te word. Daar sal hulle geen rus tot in alle ewigheid vind nie.

Ter Afsluiting: Baie mense sukkel nog steeds om die verskillende oordele wat ons in die Bybel vind van mekaar te onderskei. Met die skryf van hierdie artikel is daar gepoog om ‘n sekere mate van lig op hierdie onderwerp te werp. Soos alreeds genoem, is die grootste rede waarom gelowiges nie van die verskillende oordele in die Bybel kennis dra nie, die feit dat die meeste van ons vanuit ‘n Gereformeerde agtergrond kom waar die Bybel nie op ‘n konsekwente letterlike, grammatiese en historiese wyse verklaar is nie. Ons moet onthou dat die meeste van die oorspronklike protestante vanuit die Rooms Katolieke Kerk gekom het waar die Bybel allegories vertolk was. Toe die hervormers soos Luther weer die Bybel op ‘n letterlike, grammatiese en historiese wyse begin verklaar het hulle gemerk dat daar erge fout met die Rooms-katolieke Kerk se valse godsdiensstelsel was. Die hervormers het egter slegs die letterlike, grammatiese en historiese skrifuitleg op soteriologie (die verlossingsleer) toegepas en dit nie wyer geneem en dit ook op eskatologie (die leer van laaste dinge) toegepas nie. Hulle het nog steeds die Bybelse profesie, veral die wat oor die laaste dinge handel, op ‘n allegoriese wyse vertolk en vergeestelik en sodoende het hulle nie die reformasie wat hulle begin het nie heeltemal voltooi nie. Die hele Bybel moet op ‘n konsekwente letterlike, grammatiese en historiese wyse verklaar word en nie slegs gedeeltes daarvan nie. Dit is my bede dat alle gelowiges sal leer om die skrifte op konsekwente letterlike, grammatiese en historiese wyse te verklaar sodat ons God se volle raadsplan en ons plek daarin duidelik kan verstaan.

Seën groete!

Vic

Deel met ander asb.