Toets die Geeste: Waak teen Valse Profete
Die Skrifte waarsku ons herhaaldelik teen die gevare van valse profete, valse leraars en valse apostels. Ongelukkig steur baie mense hulle nie aan hierdie waarskuwings nie, wat tot hulle eie ondergang sal lei. Mense wat mislei is, sal nooit die verskoning kan gebruik dat God hulle nooit gewaarsku het nie.
2Pet. 2:1 “Maar daar was ook valse profete onder die volk, net soos daar onder julle valse leraars sal wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer, en ook die Here wat hulle gekoop het, verloën en ‘n vinnige verderf oor hulleself bring;”
Verder word ons gewaarsku om nie alles te glo wat ons hoor nie, maar ons moet eers die geeste toets! Dit is ons plig as gelowiges om vas te stel wie die geeste is en onder wie se leiding die sogenaamde profete optree.
1Joh. 4:1 “Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan.”
Om hierdie waarskuwings te ignoreer is om God te ignoreer, en soos reeds genoem, gaan dit tot so ‘n persoon se eie ondergang lei. Let daarop dat hierdie artikel hoofsaaklik oor valse profete handel. Die leser word aangeraai om ook die artikel oor “vals apostels” asook die artikel “is die gawe van profesie nog in werking vandag?” te lees.
Dit is van uiterste belang om alle leerstellings, profesieë of uitlatings met die Skrifte te vergelyk en seker te maak dat teksgedeeltes nie buite konteks aangewend of verdraai word nie. Die Skrifte (Bybel) is die finale gesag en nie menslike leerstellings, tradisies of menings nie. Enige profeet moet dus die toets van die Skrifte slaag alvorens so ‘n persoon as ‘n profeet bestempel kan word. Niemand sal tog na ‘n geneesheer gaan indien daardie geneesheer nie eerstens kan bewys lewer dat hy of sy die nodige toetse geslaag het om as geneesheer te kwalifiseer nie. So moet ons ook alle profete teen die Skrif toets om seker te maak of hulle wel namens God praat. Indien ons nie God se waarskuwings eerbiedig nie, sal ons deur Satan mislei word om ‘n ander Jesus, ‘n ander evangelie of ‘n ander gees te volg wat ons nie nader aan God sal bring nie.
2Kor.11:3 “Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus. 4 Want as iemand kom en ‘n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle ‘n ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of ‘n ander evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval.”
Ons moet seker maak dat ons die Here Jesus Christus volg soos wat Hy Homself in Sy Woord openbaar, en nie ‘n “Jesus” wat iemand in sy eie verbeelding opmaak nie. Deesdae word daar op ‘n baie subtiele manier ‘n ander Jesus, ‘n ander gees en ‘n ander evangelie verkondig wat baie mense hel toe gaan sleep.
Hoe stel ‘n mens dan vas wie ware of valse profete is? Vir die antwoord moet ons na die Bybel gaan.
Deut. 18:22 “as die profeet in die Naam van die HERE spreek, en wat hy gesê het, gebeur nie en kom nie uit nie, dan is dit die woord wat die HERE nie gespreek het nie; deur vermetelheid het die profeet dit gespreek; jy mag vir hom nie bang wees nie.”
Waar die Here deur ‘n profeet spreek, sal wat daardie profeet profeteer honderd persent van die tyd in vervulling gaan en nie net soms nie, soos wat dit met hedendaagse profete die geval is. Die Christendom word oorval met sogenaamde profete en mense wat profeteer waar daardie profesieë nie bewaarheid word nie, omdat daardie persone nie werklik oor die profetiese gawe beskik nie. Hierdie mense is nie profete nie; hulle lieg in God se Naam en veroorsaak dat die wêreld God belaster. Dit is ‘n baie ernstige sonde om valse profesieë te verkondig. Om te bepaal hoe ernstig God ‘n spesifieke sonde beskou, moet mens gaan kyk watter straf vir daardie sonde in die Ou Testament opgelê is. In die geval van valse profete is die doodstraf opgelê—dieselfde straf as vir ‘n moordenaar.
Deut.18:20 “Maar die profeet wat so vermetel is om ‘n woord in my Naam te spreek wat Ek hom nie beveel het om te spreek nie, of wat in die naam van ander gode spreek, dié profeet moet sterwe.”
Dit demonstreer weereens hoe ver ons werklik van God en Sy Woord afvallig geword het, aangesien ‘n reeksmoordenaar ons miskien nog sal skok, maar ons geensins geskok is indien iemand valse profesieë in God se Naam uiter nie. Het ons opinie van God so laag gedaal dat ons Hom nie eens meer vrees nie? Miskien is dit weer tyd om God te eerbiedig en te respekteer soos dit behoort, voordat dit te laat is.
Heb.10:31 “Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God.”
Ware gelowiges moet sulke mense vermaan, en as hulle nie tot bekering kom nie, moet hulle vermy word. Tweedens sal die boodskap wat so ‘n profeet verkondig nooit met die Bybel in botsing kom nie. Ook sal so ‘n profeet nie dinge verkondig wat die gelowige van die Here afvallig sal maak nie.
Deut.13:1 “As ‘n profeet of een wat as dromer optree, by jou opstaan en jou ‘n teken of wonder aankondig, 13:2 en die teken of wonder kom uit wat hy jou beloof het met die woorde: Laat ons agter ander gode aan loop—wat jy nie geken het nie—en hulle dien, 13:3 dan moet jy nie luister na die woorde van dié profeet of na dié man wat as dromer optree nie; want die HERE julle God beproef julle om te weet of julle werklik die HERE julle God liefhet met julle hele hart en met julle hele siel. 13:4 Julle moet die HERE julle God navolg en Hom vrees en sy gebooie hou en na sy stem luister en Hom dien en Hom aanhang.”
Indien jy werklik jou liefde vir God wil demonstreer, eerbiedig dan Sy Woord. Gelowiges eer nie die Here deur agter valse profete aan te loop nie. Om so iets te doen, demonstreer dat die gelowige nie die Here en Sy Woord (die Bybel) intiem ken nie.
Nou dat ons weet hoe om ‘n profeet met die Bybel te toets om vas te stel of hulle werklik deur God gestuur is, moet ons waak dat ons in ons alledaagse lewens nie ook as valse profete optree nie. Mens hoor dikwels van mense wat beweer dat hulle “Skrif ontvang” het. Ons moet baie versigtig wees, want ons moet verstaan dat Satan ook van die Skrifte gebruik maak om mense te mislei. Dink maar hoe hy gepoog het om Jesus Christus in die woestyn te versoek deur die Skrif te gebruik. Indien hy dit met Jesus probeer het, gaan hy dieselfde met ons probeer. In werklikheid gebeur dit reeds. Die gedagtes wat in ons verstand opkom, het drie moontlike bronne: God self, onsself, of Satan.
Waar ‘n persoon “Skrif ontvang”, moet daardie persoon seker maak dat God wel die bron is. Daar is reeds oneindige skade veroorsaak deur mense wat Skrif uit konteks aanhaal en dit op hulleself of ander van toepassing maak sonder om die konteks in ag te neem. In baie gevalle het God nie die teksgedeelte gegee nie, maar is die oorsprong daarvan die persoon se eie verbeelding. (Ongelukkig maak Oom Angus Buchan homself aan hierdie optrede skuldig en dit gaan nog tot grootskaalse ontnugtering lei.)
1. Die mens se eie verbeelding as bron
Ek kan baie teksgedeeltes aanhaal wat sal bevestig wat ek graag wil hoor en dit dan as God se woord aan my van toepassing maak. Dit kan egter gebeur dat daardie spesifieke belofte nie direk aan my gemaak is nie, en dan mislei ek myself. Mens sien oor en oor hoe persone besluite neem waar God en Sy belange nie die eerste prioriteit geniet nie, maar hulle beweer steeds dat hulle ‘n boodskap van die Here gekry het. Hulle haal teksgedeeltes aan om te bewys dat dit “God se wil” is vir hulle aardse rykdom of drome. Later blyk dit egter dat daardie persone nie meer tyd vir God het nie omdat hulle eie droom die hoofdoel geword het. Hulle belange het hul “god” geword en hulle dien in werklikheid Mammon. Hoe kan so iets ooit God se wil gewees het, terwyl Hy alwetend is en ons harte ken? Sulke mense is besig met afgodediens sonder dat hulle dit besef.
Jer.17:9 “Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?”
Teksgedeeltes oor selfverloëning word selde “ontvang” as Skrif van God, maar wel positiewe uitlatings wat aan eie begeertes voldoen. Mens moet wonder hoekom?
Mat 10:38 “En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie.”
Luk 12:15 “En Hy sê vir hulle: Pas op en wees op julle hoede vir die hebsug, want iemand se lewe bestaan nie uit die oorvloed van sy besittings nie.”
Ek kan teks na teks aanhaal waar die mens gewaarsku word teen gierigheid, hebsug en Mammon—sondes wat bitter min deur mense wat “Skrif ontvang” genoem word.
1Tim.6:10 “Want die geldgierigheid is ‘n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor. 11 Maar jy, man van God, vlug van hierdie dinge weg, en jaag ná die geregtigheid, godsaligheid, geloof, liefde, lydsaamheid, sagmoedigheid.”
Hoekom is dit altyd “God se wil” vir iemand wanneer daar aardse voordeel is, maar nooit wanneer iets prysgegee moet word nie? Die westerse Christendom toon dikwels min ooreenkoms met die Bybelse Christendom. Ons moet God se waarskuwing aan die gemeente van Laodicense ernstig opneem.
Openb. 3:15 “Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm! 16 Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug. 17 Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie…”
2. Satan as bron
Soos gemeld, sal die Duiwel nie skroom om die Bybel aan te haal as dit sy saak bevoordeel nie. Die meerderheid sal openlike satanisme verwerp, maar volg maklik valse leraars wat “godsdienstig” klink. Op hierdie wyse kry hy mense so ver om Mammon te dien terwyl hulle glo hulle is op pad hemel toe. Wanneer ‘n teks buite konteks verdraai word om te sê wat ons wil hê dit moet sê, doen ons die wil van die Duiwel. Hy bied dinge aan wat die sondige natuur begeer: hebsug, selfliefde en hoogmoed. Wanneer ons “skrif ontvang” wat ons sondige natuur bevredig, moet ons weet dit is nie van die Here nie.
3. God as bron
God sal nooit ‘n teksgedeelte uit konteks aanhaal wat mense op ‘n dwaalspoor lei nie. Waar God leiding gee deur Sy Woord, is dit nie altyd “positief” in menslike terme nie.
Openb.3:19 “Almal wat Ek liefhet, bestraf en tugtig Ek. Wees dan ywerig en bekeer jou.”
Wees versigtig vir mense wat aanhoudend net “positiewe” Skrif ontvang. Die moderne kerk het die waarheid nodig, selfs al is dit hard. As iemand namens God praat, hoekom hoor ons nie meer van die volgende nie?
Jak. 4:4 “Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan ‘n vriend van die wêreld wil wees, word ‘n vyand van God.”
Ware profete was selde gewild; hulle is dikwels vervolg. Vandag se profete word bewonder en het hordes aanhangers. Dit is ‘n teken dat iets fout is.
Luk.6:26 “Wee julle wanneer al die mense goed van julle praat, want hulle vaders het net so aan die valse profete gedoen.”
Valse profete is dikwels te bang vir die waarheid omdat dit hulle finansies mag raak. Die Heilige Gees is egter heilig en sal die mens altyd lei om heilig te lewe en hom losmaak van gierigheid en losbandigheid.
Rom 8:14 “Want almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God.”
Gal 5:22 “Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede… 5:24 Maar die wat aan Christus behoort, het die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede gekruisig.”
Meeste mense wil vandag net hoor wat hulle sondige natuur streel.
2Tim. 4:3 “want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede…”
Die Heilige Gees het deur Paulus ‘n duidelike prentjie van die laaste dae geskets.
2Tim. 3:1 “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. 3:2 Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, 3:3 sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, 3:4 verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; 3:5 mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af.”
Dit is tyd dat ons tot bekering kom en teen die stroom op swem. Ons kan verwag dat die wêreld ons sal haat.
Joh.15:18 “As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het.”
Volg Jesus Christus alleen. Vermy valse profete en apostels soos ‘n plaag. Bestudeer die Skrif en bid vir insig.
2Tim.3:13 “Maar goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger, hulle wat verlei en verlei word. 3:14 Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het, 3:15 en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus. 3:16 Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, 3:17 sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.”
Hou moed, want die Here is in beheer.
Joh 16:33 “In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.”
Wees op julle hoede! (Die leser word ten sterkste aanbeveel om die artikel “Is die Gawe van Profesie nog in Werking Vandag?” te lees).
Seën groete, Vic