Geloof het nooit meriete of waarde op sy eie nie. Die meriete en waarde van geloof lê in die voorwerp waarop vertrou word. Ons almal beoefen daagliks geloof op verskeie voorwerpe: ons vertrou dat ons geld iets kan koop; ons glo koerantberigte en dit wat ons op televisie sien; ons vertrou op vriende en eggenote, en dikwels vertrou ons selfs op onsself.
Jou geloof gaan dus net so betroubaar wees soos die objek waarop jy vertrou. Ons kan met sekerheid sê dat geloof op sy eie — maak nie saak hoe groot dit mag wees nie — oor geen inherente krag beskik nie. Die krag lê alleenlik in die voorwerp van jou vertroue.
Vir die gelowige is die voorwerp van sy geloof die Here Jesus Christus. Die gelowige glo dat Jesus Christus sy enigste Verlosser van die sonde en die hel is. Sonder Jesus Christus sou die sondaar homself nooit kon red nie, ongeag hoe sterk sy geloof ook al mag wees. Die krag van ons geloof lê in Jesus Christus, wat God in die vlees is en wat nie kan misluk nie. Dit gaan dus nie oor die hoeveelheid geloof nie, maar oor die soort geloof (die regte voorwerp). Jesus Christus alleen is die waarde en meriete vir die gelowige se redding en sekuriteit.
Slegs God alleen kan die enigste waardige voorwerp van die mens se geloof wees, want niks anders is almagtig nie.
Jer. 17:5 “So sê die HERE: Vervloek is die man wat op die mens vertrou en vlees sy arm maak, terwyl sy hart van die HERE afwyk. 6 En hy sal wees soos ‘n kaal bos in die wildernis, en hy sal nie sien as die goeie kom nie, maar dor plekke in die woestyn bewoon, ‘n brakkerige en onbewoonde land. 7 Geseënd is die man wat op die HERE vertrou, en wie se vertroue die HERE is. 8 Want hy sal wees soos ‘n boom wat by die water geplant is en sy wortels uitskiet by die stroom en nie vrees as daar hitte kom nie, maar sy blad bly groen; en in ‘n jaar van droogte is hy nie besorg nie en hou nie op om vrugte te dra nie.”
Daarom het Jesus ook van Sy volgelinge verwag om dieselfde soort geloof in Hom te hê as wat hulle in God die Vader gehad het.
Joh.14:1 “Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My.”
Jesus het geweet dat Hy God is en dat ons verlossing slegs deur Hom kan plaasvind. Enige ander weg lei na die dood, omdat net Jesus versoening vir ons sondes kon doen.
Joh.14:6 “Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.”
Ons leef in ‘n tydperk waar ons geloof op subtiele maniere van die Here Jesus afgehaal en op iets anders geplaas word. Ons hoor van predikers wat beweer dat daar krag in ons woorde lê en dat ons bloot “positiewe uitsprake” oor ons omstandighede moet maak sodat probleme en armoede verdwyn. Dit is egter ‘n leuen wat van die mens die voorwerp van sy geloof maak, en nie God nie.
Om jou geloof in enigiets anders te plaas, stel jou in ‘n posisie waar jy tot ‘n ernstige val gaan kom. Om te glo, is om oortuig te wees dat ‘n stelling oor ‘n persoon of voorwerp waar is; dit is nie ‘n krag wat ons op ons omstandighede fokus om ons begeertes te bevredig nie. Dit is die Here wat ons op grond van Sy genade red. Ons ontvang slegs God se verlossing deur te glo — deur te aanvaar dat Christus se Persoon en voltooide werk aan die kruis ons van ons persoonlike sondes verlos het en dat Hy op die derde dag opgestaan het. Dit is die Evangelie! Geloof is nie ons verlosser nie.
So ook is die bewering dat daar ‘n “wet van geloof” bestaan wat outomaties resultate lewer indien jy sekere metodes toepas, ‘n ernstige verdraaiing. Sulke persone vervang Jesus Christus met hulle eie “geloof-energie”. Hulle maak van geloof self die redder. As jou geloof in jou eie geloof gesetel is, is jy op ‘n dwaalspoor. Die Here maan ons om al ons versoeke na Hom in gebed te neem, nie na ‘n abstrakte wet nie.
Filip.4:6 “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God.”
Rykdom, eie krag, skoonheid en selfs koninkryke kom die een of ander tyd tot ‘n val. Indien jou geloof op hierdie dinge geplaas is, gaan jy saam met hulle val. Die belangrikste vraag wat jy ooit sal moet beantwoord, is of jy die Evangelie verstaan en glo. Glo jy die Evangelie?
Seën Groete, Vic