Die soewereiniteit van God

Die soewereiniteit van God

Daar bestaan slegs een selfbestaande Skepper-God, (Gen.1:1)en omrede daar slegs een ware God is, sou dit ‘n ernstige mistasting wees om Sy soewereiniteit te bevraagteken.
Ps.115:1 “Nie aan ons, o HERE, nie aan ons nie, maar aan u Naam gee eer, om u goedertierenheid, om u trou ontwil. 2 Waarom sou die heidene sê: Waar is dan hulle God?3 terwyl onse God tog in die hemel is; Hy doen alles wat Hom behaag.”
Dan.4:1 Nie aan ons, o HERE, nie aan ons nie, maar aan u Naam gee eer, om u goedertierenheid, om u trou ontwil. 2 Waarom sou die heidene sê: Waar is dan hulle God? 3 terwyl onse God tog in die hemel is; Hy doen alles wat Hom behaag.”
In Sy soewereiniteit beklee God absolute gesag oor die hele leërskare van die hemel (heilige en gevalle engele), sowel as al die bewoners van die aarde. Hy onderhou alle dinge met Sy almag, en bepaal die doel waarvoor alles bestem is. Hy regeer as Koning in die mees absolute sin van die woord, en alle dinge is van Hom afhanklik, en aan Hom diensbaar en Hy het ‘n spesifieke doel met alles. (dit sluit elke individuele persoon in)

Omrede God die mensdom, asook die engele met ‘n vrye wil geskape het, laat Hy soms toe dat hulle teen Hom rebelleer en sonde pleeg. Indien God onder alle omstandighede Sy skepsele hulle vrye wil sou ontneem, dan sou hulle Hom nie in werklikheid kon liefhê nie en boonop sou hulle nie daardie liefde d.m.v. hulle goeie werke aan Hom kon demonstreer nie. Die Here Jesus Christus het hierdie feit beklemtoon toe Hy die volgende stelling gemaak het, naamlik:
Joh.14:21 “Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet; en wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom liefhê en My aan hom openbaar.”
Dit is egter belangrik om in hierdie opsig onderskeid tussen God se soewereine wil, Sy toelatende wil, asook Sy oorheersende wil te tref. Die feit dat God Sy skepsele met ‘n sekere mate van vryheid geskape het, wat aan hulle tot ‘n sekere mate die vermoeë gee om Sy wil teë te staan (en sodoende sonde pleeg), beteken dit geensins dat die keuses van Sy skepsele maak enigsins ‘n bedreiging vir God se soewereiniteit inhou nie. God se attribuut van alwetendheid verhoed dat sonde Hom verras, onkant betrap of verwar. Sy almag verhoed dat sonde of enige van Sy skepsele enigsins Sy Raadsplan kan frustreer. Indien die Here my spaar sal ek binne kort ‘n reeks artikels oor die verskillende fasette van God se wil skryf wat die leser sal help om God se weë beter te verstaan.

Hierdie feit behoort ons te bemoedig, wetende dat God volkome in beheer van alles is al beleef ons soms chaos, sonde en boosheid in hierdie lewe. (wat soms ons eie bose dade insluit) Ons kan egter met absolute sekerheid weet dat God die historiese proses d.m.v. Sy raadsplan so bestuur dat dit op die Here Jesus Christus se wederkoms, wat deur die Duisendjarige Vrederyk van Christus op aarde gevolg sal word, en wat uiteindelik op die glorie van die ewigheid sal uitloop, waarin geen boosheid en sonde ooit weer te vinde sal wees nie.
Jes.45:21 “Verkondig en bring voor, ja, laat hulle saam raad hou: Wie het dit van ouds af laat hoor, lank tevore dit verkondig? Is dit nie Ek, die HERE, nie? En buiten My is daar geen ander God nie: ‘n regverdige en reddende God is daar buiten My nie.”
Alhoewel God niemand in Sy raadsplan nodig het nie, het Hy wel ons as gelowiges geroep om d.m.v. die Heilige Gees se bekragtig heilige lewens te ly, en saam met Hom, as Sy medewerkers, aan die uitvoering van Sy raadsplan deel te neem. Sodoende kan ons as deelgenote van God, Sy oplossings aan ‘n gevalle wêreld voorhou. As ‘n verdere bonus weet ons dat God in Sy genade ons ryklik met genadeloon by die Regterstoel Oordeel van Christus vir ons arbeid in Sy diens verrig sal beloon.

Die skrifte verklaar met absolute gesag dat dit God is wat die mens geskape het en dit is Hy wat lewe aan hulle gee.
Joh.1:1 “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. 2 Hy was in die begin by God. 3 Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie. 4 In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense.”
Paulus verduidelik dit soos volg:
Kol.1:16 “want in Hom (die Here Jesus Christus) is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte — alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape. 17 En Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand.”
Koning Dawid het die volgende stelling gemaak, naamlik:
Ps.100:3a “Erken dat die HERE God is: Hy het ons gemaak, en ons is syne”
Die mens bestaan net omrede dit God se wil is om lewe aan ons te skenk. Net omrede ‘n ateïs glo dat God nie bestaan nie, beteken nie dat God skielik nie bestaan nie. Hy bestaan en sal hulle vir hulle ongeloof verantwoordelik hou. Ateïste, soos Richard Dawkins, dink oor die algemeen dat hulle hoogs intelligent is, daarenteen klassifiseer God hulle egter as dwase, en indien hulle in ongeloof tot sterwe kom sal hulle hierdie feit moet erken en die gevolge van hulle ongeloof dra.
Ps.14:1a “Vir die musiekleier. ‘n Psalm van Dawid. Die dwaas sê in sy hart: Daar is geen God nie.”
Ps.10:4 “Die goddelose, met sy neus in die hoogte, sê: Hy ondersoek nie: daar is geen God nie — dit is al sy gedagtes!”

In Sy soewereiniteit bepaal God die jare van ‘n persoon se aardse bestaan, en Hy het die finale sê aangaande die wyse waarop daardie persoon sal sterwe.
1Sam.2:6 “Die HERE maak dood en maak lewend; Hy laat neerdaal in die doderyk en laat daaruit opkom.”
In sommige gevalle speel die keuses wat ‘n persoon maak ‘n sekondêre rol in die oorsaak en tyd van daardie persoon se dood, maar dit is net omrede God in Sy alwetendheid weet watter keuses ‘n persoon sal maak, en God het die persoon se vrye keuses in ag geneem toe Hy Sy ewige raadsplan geformeer het. God laat soms toe dat daar ‘n ooreenkoms bestaan tussen die keuses wat ‘n persoon sal maak en die wyse (en tyd) waarop daardie persoon tot sterwe sal kom. Vir die persoon speel hierdie gebeure in tyd af, maar God bestaan buite tyd, en neem die verlede, hede en toekoms as ‘n ewige teenswoordigheid waar. Die keuses wat ‘n persoon maak speel egter nie altyd ‘n rol in die wyse en tydstip waarop ‘n spesifieke persoon sal sterwe nie. ‘n Babatjie wat deur die bose daad van sy moeder geaborteer word se keuses speel geen rol in die oorsaak van sy dood nie. Hierdie beginsel geld ook vir ‘n persoon wat al die regte besluite maak, en waar die Here in Sy soewereiniteit kies om die persoon huistoe te neem om by Hom te wees.

Aan die anderkant van die spektrum kan ‘n persoon al die verkeerde keuses maak maar God in Sy soewereiniteit kan nog steeds daardie persoon met ‘n lang lewe seën. Kyk maar na baie van die Hollywood rolprentvervaardigers wat so gereeld met die Christendom die spot dryf en wat lang lewensjare geniet. Hulle sal egter in die toekoms by die Wit Troon oordeel van God/Christus vir hulle verwerping van God se lankmoedigheid veroordeel en gestraf word.
Luk.12:47 “En daardie dienskneg wat die wil van sy heer geken het en nie klaargemaak of volgens sy wil gedoen het nie, sal met baie slae geslaan word; 48 maar hy wat nie geweet het nie en gedoen het wat slae verdien, sal met min slae geslaan word. En elkeen aan wie veel gegee is, van hom sal veel gevorder word; en aan wie hulle veel toevertrou het, van hom sal hulle oorvloediger eis.”
Onthou, by die Wit Troon Oordeel sal net ongelowiges verskyn waartydens die maat van hulle ewige straf volgens hulle werke bepaal sal word. Geen ware gelowige sal voor die Wit Troon Oordeel van God/Christus verskyn nie. Die leser word weereens aangeraai om die artikel “Die Wit Troon Oordeel” te lees.)

So ook is daar baie voorbeelde van mense wat sieklik was, en wat lang lewens geleef het, en mense wat heeltemal gesond was en skielik gesterf het. Maar die feit bly staan, mense leef en sterf soos wat God bepaal. Ons kan maar net saam in verwondering met Dawid uitroep:
Ps.139:16 “U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie. 17 Hoe kosbaar is dan vir my u gedagtes, o God! Hoe geweldig is hulle volle som nie!”
Dink asseblief mooi oor bogenoemde stelling na. Ek, en baie mense wat my omstandighede ken, en alles weet wat my oorgekom het, weet sonder enige twyfel dat ek al lankal dood moes gewees het. Dit is absoluut net God se genade dat ek nou hier kan sit en hierdie artikel kan skryf. In hierdie opsig het die apostel Paulus se woorde baie betekenis vir my, naamlik:
2Kor.1:9 “Ja, ons het al self by onsself die doodvonnis oor ons gehad, sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op God wat die dode opwek; 10 wat ons verlos het uit so ‘n groot doodsgevaar en nog verlos; op wie ons hoop dat Hy ook nog sal verlos,”
Ek kan God net vir Sy genade dank!

As deel van Sy se raadsplan, bepaal en beheer God wanneer en waar ‘n persoon in die verloop van die geskiedenis sal lewe. Ons moet nooit hierdie feit vergeet nie. Die enorme implikasies van hierdie feit is so verreikend dat geen enkele persoon ooit die volle omvang daarvan sal kan verstaan nie.
Hand.17:26 “En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het,”
By implikasie is dit duidelik dat selfs die leiers van hierdie wêreld se bestaan, en tydperk van hulle heerskappy, deel van God se raadsplan vorm.
Dan.2: 21 “Hy tog verander die tye en die geleenthede; Hy sit konings af en stel konings aan; Hy verleen wysheid aan die wyse manne en kennis aan die wat insig het;”
In baie gevalle gee God aan ons die leiers wat ons op daardie tydstip verdien.

Soms gee God aan die mensdom dit wat die mensdom graag wil hê, en dit verduidelik die feit dat God nie diesulke politieke leiers, valse predikers en die hordes selfaangestelde valse profete onmiddelik straf nie. Dit moet ook onthou word dat baie van ons politieke leierskap d.m.v. ‘n demokratiese proses ingestem word. Die soort leier wat op enige gegewe tydstip in ‘n demokratiese land regeer, is in baie gevalle ‘n refleksie van die oorgroot meerderheid van die land se burgers se geestelike toestand. Die beginsels soos in 2Tim.4:3 gevind, kan ook tot ‘n groot mate in ‘n demokratiese land op die leierskap waarvoor die meerderheid van die landsburgers stem toegepas word.
2Tim.4:3 “want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede,”

God het in Sy alwetendheid die al die keuses wat Sy skepsele sou maak in Sy raadsplan ingewerk, en omrede hulle oor ‘n vrye wil beskik, gaan Hy hulle vir hulle keuses verantwoordelik hou en hulle sal die vrugte van daardie keuses moet dra. Indien dit nie in hierdie lewe gebeure nie sal dit definitief in die hiernamaals gebeur. Hoe groter die gawes is wat ons ontvang, hoe groter is ons verantwoordelikheid teenoor God. Politieke, asook geestelike leiers sal hierdie feit in gedagte moet hou. Met groot gesag kom groot verantwoordelikheid. Die feit bly egter staan dat dit God is wat leiers aanstel en hulle uit hulle posisies verwyder. Self die prosesse waardeur hierdie veranderings plaasvind vorm deel van God se raadsplan. Onthou, God het die goddelose Babiloniese ryk gebruik om Juda vir hulle afgodery te straf, en God het vir hierdie spesifieke doel selfs na Nebukadnésar as Sy dienskneg verwys.
Jer.25:8 “Daarom, so sê die HERE van die leërskare: Omdat julle na my woorde nie geluister het nie, 9 laat Ek al die geslagte van die Noorde haal, spreek die HERE, en Nebukadrésar, die koning van Babel, my dienaar; en Ek sal hulle bring oor hierdie land en sy inwoners en oor al hierdie nasies rondom, en Ek sal hulle met die banvloek tref en hulle maak ‘n voorwerp van verbasing en van bespotting en ewige puinhope.”
Bostaande beginsel geld ook vir ons wie tydens die Dispensasie van die Kerk leef. Net omrede ons nie meer onder die Wet van Moses leef nie, en die feit dat ons ook nie verlore kan gaan nie, beteken nie dat ons nou ‘n vrybrief het om sonde te pleeg nie. Ons het nie. As God Israel gestraf het sal Hy ons ook in hierdie lewe straf.

God het mag oor rykdom en armoede.
1Sam.2:7 Die HERE maak arm en maak ryk; Hy verneder, ook verhoog Hy. 8 Hy rig die geringe op uit die stof, uit die ashoop verhef Hy die behoeftige, om hulle te laat sit by die vorste en hulle ‘n erestoel te laat beërwe. Want aan die HERE behoort die pilare van die aarde, en Hy het die wêreld daarop gevestig.”
Om hierdie rede vermaan Jakobus die rykes om nie hoogmoedig te wees nie.
Jak.1:9 “Maar laat die broeder wat gering is, roem in sy hoogheid, (sy verhewe posisie in Christus)10 en die ryke in sy geringheid, want soos ‘n blom van die gras sal hy verbygaan. 11 Want die son gaan op met sy hitte en laat die gras verdor, en sy blom val af, en die sierlikheid van sy gedaante vergaan; so sal die ryke ook in sy weë verwelk.”
Baie keer verander God ‘n ryk persoon se lot, sodat hy in sy armoede die les moet leer dat rykdom maar in werklikheid min waarde het en dat dit maar net tydelik van aard is. (‘n siekbed en self ‘n sterfbed kan ook vir hierdie doel aangewend word.) Ons het met niks in hierdie wêreld ingekom nie en ons sal met niks daaruit weggaan nie.

God het ‘n spesifieke doel met elkeen van ons se lewens. Die gawes wat God aan ons skenk is maar net ‘n middel tot die doel. Ongelukkig besef die meeste mense nie hierdie feit nie en misbruik eerder God se gawes wat die gruwelike sonde van selfverheffing (hoogmoed) insluit.
Luk.12:8ff “En elkeen aan wie veel gegee is, van hom sal veel gevorder word; en aan wie hulle veel toevertrou het, van hom sal hulle oorvloediger eis.”
Boonop moet die God wat die genadegawes uitdeel, nooit deur die genadegawes wat Hy uitdeel vervang word nie. Iets wat baie maklik en al te gereeld gebeur. Onthou, met ‘n groter mate van gawes kom daar ook ‘n groter mate van verantwoordelikheid, en wie baie ontvang gaan vir baie verantwoording moet doen. Ons moet altyd onthou dat ons slegs die rentmeesters van God se eiendom is, en dat alles wat ons besit, asook die gawes wat ons ontvang, van God afkomstig is en aan Hom behoort.
Jak.1:17 “Elke goeie gif en elke volmaakte gawe daal van bo af neer, van die Vader van die ligte, by wie daar geen verandering of skaduwee van omkering is nie.”
Ons moet nooit hierdie feit vergeet nie. Die term “Vader van die ligte” beteken dat God die bron van fisiese, intellektuele, morele, asook geestelike lig is. Ons as God se skepsele, het absoluut niks om oor te roem nie. Alle eer kom ons soewereine God alleen toe.

God se goedheid het geen perke nie, en alle goeie dinge is deur Hom, en vir Hom en tot Sy eer geskape. Boonop is daar niemand wat al God se gedagtes en weë volkome ken nie. Boonop kan niemand iets stop wat God aan die gang gesit het nie. Dit sluit God se besluite aangaande onsself ook in.
Dan.4:35 “En al die aardbewoners word as niks geag nie, en na sy wil handel Hy met die leër van die hemel en die bewoners van die aarde, en daar is niemand wat sy hand kan afslaan en vir Hom kan sê: Wat doen U nie?”
Israel het hulle les onder die verskillende ballingskappe nie geleer soos wat hulle moes nie, en sal tydens die Groot Verdrukking, onder bewind van die Antichris, hierdie les op die harde wyse moet leer.
Sag.14:1 “Kyk, daar kom ‘n dag vir die HERE; dan sal wat van jou buitgemaak is, binne-in jou verdeel word, o Jerusalem! 2 Want Ek sal al die nasies versamel om oorlog te voer teen Jerusalem; en die stad sal ingeneem en die huise geplunder en die vroue onteer word, en die helfte van die stad sal uitgaan in ballingskap; maar die orige deel van die bevolking sal nie uit die stad uitgeroei word nie.”
Dit sal ‘n ernstige mistasting wees om God se soewereiniteit oor die historiese proses te vergeet, en hierdie feit dien as waarskuwing aan ons om nie God se genade as dekmantel vir goddeloosheid te misbruik nie.
Ons moet nooit aanmatigend t.o.v. God se genade optree nie.

Ter Afsluiting:Deur die hele Bybel vind ons God se soewereiniteit as die oorheersende tema.
Ps.135:6 “Alles wat die HERE behaag, doen Hy, in die hemel en op die aarde, in die seë en al die dieptes.”
Anders as wat Calvinisme verkondig het God aan Sy skepsele (engele, sowel as mense) ‘n vrye wil gegee, en Hy laat hulle toe om vir ‘n tydlank boosheid voor te bring, maar ons moet onthou dat God se skepsele nooit buite die raamwerk van God se soewereine wil kan optree nie. God se raadsplan sal presies so verloop soos wat Hy besluit het, en dit ten spyte van die vrye keuses wat Sy skepsele gemaak het en nog sal maak. Hierdie feit is nog ‘n verdere demonstrasie van God se soewereiniteit en almag. God is egter nooit nie oorsaak van sonde nie, Hy laat dit slegs toe omrede Hy die mens met ‘n vrye wil geskape het.

In een sin mag dit dalk voorkom asof die wêreld uitmekaar val, maar indien ons die skrifte reg verstaan, dan is alles juis besig om in plek te val. God is besig om die historiese proses tot ‘n punt te bring, wat met die Here Jesus Christus se wederkoms en koninkryk op aarde sal begin en wat op die ewigheid sal uitloop. In ‘n wêreld wat by tye chaoties mag voorkom, kan ons met absolute sekerheid weet dat ons soewereine God volkome in beheer van die historiese proses is, en hierdie feit behoort ons gerus te stel met die wete dat alles presies so sal verloop soos wat God dit beplan het. Een ding is seker, God gaan ‘n einde aan goddeloosheid maak. Ons bevind onsself nou bitterlik naby aan die einde van die Kerk Dispensasie, en daarom moet ons die tyd wat nog aan ons gegun word gebruik om vir die Here te lewe en om alles te doen wat Hy van ons verwag. Onthou altyd:
Rom,14: 7 “Want niemand van ons leef vir homself nie en niemand sterf vir homself nie. 8 Want as ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here; of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here.”
Slegs die God van die Bybel is die soewereine Skepper-God van die heelal en naas Hom is daar geen ander nie God nie.

Seën Groete!

Vic

Deel met ander asb.