Verheerlik

Verheerlik God of dra die gevolge

God verwag van alle mense om Hom in alles wat hulle dink, doen of sê te verheerlik.
1Kor.6:20 “Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam (die stoflike faset van die mens) en in julle gees (nie onstoflike faset van die mens) wat aan God behoort.
1Kor.10:31 Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles tot verheerliking van God.”

Meeste van ons probleme word veroorsaak wanneer ons nie hierdie vermaning ernstig genoeg opneem nie. Die satan se strewe is daarop gemik om te verhoed dat die gelowige hierdie opdrag nakom want hy weet dat hy nie ‘n houvas op ‘n gelowige kan kry wat God in alles wil verheerlik nie.

Om sy goddelose doelstellings te bereik poog hy om ons verstand d.m.v. sy bose wêreld sisteem negatief te beïnvloed. Verleidende leerstellings en ideologieë vorm deel van sy wêreld sisteem en hy maak juis daarvan gebruik in ‘n poging om ons gedagtes te beïnvloed. Hierdie beïnvloeding vind d.m.v. ‘n wêreld gesentreerde onderwysstelsel, die media en selfs die alledaagse interaksies met ons medemens plaas. Anders as die fisiese brein van die mens, is die verstand van die mens onstoflik (immaterieel) van aard en kan ook nie deur die duiwel beset word nie. Nêrens is die skrifte vind ons enige bewys dat die duiwel ons gedagtes kan lees nie. Alhoewel hy nie ons gedagtes kan lees nie, moet ons altyd onthou dat hy meer as sesduisend jaar tyd gehad het om die mens te bestudeer en hy het ‘n goeie idee van hoe die meeste mense onder druk situasies (wat die gevolge van hulle eie verkeerde keuses insluit) sal optree. Waar hy kan sal hy hierdie kennis teen ons gebruik. ‘n Bose geeste kan slegs fisiese voorwerpe beset en daarom vind ons dat wanneer ‘n ongelowige persoon duiwelbesete raak, dat die bose gees daardie persoon se fisiese liggaam invaar en gebruik dan die persoon se liggaam (die fisiese aspek van die persoon wat sy tong en mond insluit) om die persoon te beheer.

In hierdie opsig kan bose geeste ons dophou in ‘n poging om vas te stel watter keuses ons sal maak, maar onthou hulle kan nie ons gedagtes lees nie juis omrede hulle nie ons verstand kan beset nie. Enige persoon wat voor ‘n keuse geplaas word, kan ‘n besluit neem wat die duiwel nie voorsien het nie, en dit is juis omrede God die mens met ‘n vrye wil geskape het. Calviniste wat beweer dat God alles gepredestineer het, en dat die mens nie werklik oor ‘n vrye wil beskik nie maak God die oorsaak van ons sonde. Hoe sou God ons vir ons keuses kon verantwoordelik hou indien dit juis Hy was wat dit so verordineer het? Slegs indien God die mens met ‘n vrye wil geskape het, kan Hy met regte daardie persoon vir sy keuses verantwoordelik hou. Calvinisme verkondig in hierdie opsig ernstige dwaalleer. Dit is juis die gawe van die vrye wil wat deur satan en die mens misbruik is en wat tot die sondeval en meegaande smarte daarvan aanleiding gegee het. Dit is ernstige dwaalleer om te beweer dat ons slegs (asook die bose geeste) geprogrammeer is om te doen wat God wil hê ons moet doen. Selfs satan se leërmag van gevalle engele doen nie altyd alles wat hy hulle beveel nie, en dit verduidelik die binnegevegte en onderlinge botsinge wat ons in die valse godsdiensstelsels en die God-verwerpende wêreld-organisasies waarneem.

Daar is geen indikasie in die skrifte dat ware gelowiges duiwelbesete kan raak nie, maar die duiwel kan egter d.m.v. gedagtes, drome, visioene, woorde en idees in sy doelwit slaag om die gelowige se verstand negatief te beïnvloed, en sodoende verhoed hy dat die gelowige God in alles wat hy doen verheerlik. Die gevolg hiervan is dat die gelowige verkeerde keuses kan maak wat nadelige gevolge vir hom kan inhou. Die woord van God (die Bybel) verduidelik egter aan ons hoe ons die invloed wat satan oor ons verstand wil uitoefen die hoof te bied, naamlik:
2Kor.10:4 want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp, 5 terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus,”

En onthou:
Heb.4:12 “Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees
(onstoflike faset van die mens)en van gewrigte en murg, (die stoflike faset van die mens) en is ‘n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart.

Ons moet nooit vergeet dat God altyd die gelowige se sondes wat hy na aanvanklike wedergeboorte pleeg sal vergewe indien hy dit bely. Ons moet egter ook besef dat God nie noodwendig die gevolge van ons verkeerde keuses wegneem wanneer ons daardie sonde bely nie. Dit is baie belangrik om hierdie feit altyd in gedagte te hou. Net omrede ons met absolute sekerheid kan weet dat God ons sondes vergewe het, beteken nie noodwendig dat die gevolge van daardie verkeerde keuses onmiddellik (of dalk ooit) in hierdie lewe tot ‘n einde sal kom nie. Sommige gevolge van ons keuses kom onmiddellik met die belydenis daarvan tot ‘n einde, sommiges neem ‘n lang tyd om tot ‘n einde te kom en sommige gevolge mag ons hele leeftyd voortduur. Dink mooi oor hierdie feit na!

In gevalle waar die gevolge van ons verkeerde keuses nie weggeneem word nie, moet ons leer om daardie gevolge volgens Bybelse beginsels te beheer. Self in omstandighede soos hierdie moet ons daarna streef om God se woord te eerbiedig en Hom te verheerlik, al beteken dit dat ons soms die tydelike gevolge vir ons sonde in hierdie lewe moet dra. Ons moenie skroom om God te versoek om die gevolge van ons verkeerde keuses onmiddellik weg te neem nie, maar indien Hy dit nie onmiddellik (of selfs glad nie) wegneem nie, moet ons leer om daardie gevolge volgens Bybelse beginsels te hanteer. Dit is nooit raadsaam om van wêreldse metodes gebruik te maak om die gevolge van ons verkeerde keuses ongedaan te maak nie. Om so iets te doen gee tot verdere sonde aanleiding, en wat weer op sy beurt tot verdere negatiewe uitkomste aanleiding kan gee.

Indien ‘n persoon die gevolge van sy keuses d.m.v. die woord van God benader, dan stel dit hom in staat om staande te bly en sal verhoed dat die persoon moedeloos sal word en opgee. (en soms weer in verdere sonde verval) So ‘n gelowige sal dan leer, en deur die Heilige Gees in staat gestel word om met die gevolge van sy verkeerde keuses saam te leef. Selfs in gevalle soos hierdie sal die Here hom nog steeds gebruik om Sy wil op aarde te bewerkstellig en sodoende kry die persoon weer ‘n geleentheid om God te verheerlik. Dink maar as voorbeeld aan ‘n persoon wat vir die res van sy lewe vir moord in die tronk moet sit. Hy kan nog steeds kies om die probleem vanuit die woord van God te benader, en indien die persoon gewillig is sal God hom gebruik om die evangelie met medegevangenes te deel. Deur Bybelse beginsels in sy lewe te handhaaf kan sodanige persoon nog steeds God se vrede in sy situasie ervaar, en die Here sal boonop die persoon vir sy arbeid in Sy naam verrig met genadeloon in die hiernamaals beloon. Ons moet onder alle omstandighede poog om ‘n Godlike (en ewige) perspektief te handhaaf en besef dat hierdie lewe verby sal gaan.

God waarborg ons boonop in Sy woord dat Hy ons sonde vergewe die oomblik wanneer ons dit bely.
1Joh.1:9 “As ons (alle ware gelowiges. Fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte alreeds afgehandel) ons sondes bely, (fase twee van ons verlossing , naamlik heiligmaking waarvan die bely van gelowiges se sonde ‘n belangrike rol speel)Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.” (die leser word ten sterkste aangeraai om die artikels “Drie fases van verlossing”, asook “Heiligmaking in drie fases” te bestudeer.

In gevalle waar God sou verkies dat ons die gevolge van ons verkeerde besluite moet dra, selfs nadat ons om vergifnis daarvoor gevra het, moet ons nooit dink dat Hy iets teen ons het nie. Hy het nie. In gevalle soos hierdie bevestig dit net die algemene beginsel dat dit wat ‘n persoon in hierdie lewe saai hy ook kan maai.
Spr.22:8a “Wie onreg saai, sal onheil maai;”
Dit is ook verkeerd om God dan vir ons onaangename omstandighede te blameer. Dit is nie God wat dit oor ons gebring het nie. God versoek niemand met sonde nie.
Jak.1:13 “Laat niemand, as hy in versoeking kom, sê: Ek word deur God versoek nie. Want God kan deur die kwaad nie versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie.”
Hy sal ook nooit ‘n persoon weerhou om Sy woord (die Bybel) binne die korrekte kontekstuele verband aan te wend om die gevolge van ons keuses te beheer of selfs heeltemal ongedaan te maak nie. In baie gevalle is dit juis God wat d.m.v. die Heilige Gees in en deur ons werk om die negatiewe effekte wat ons verkeerde keuses veroorsaak het heeltemal ongedaan te maak. Ook hier geld die beginsel dat dit God is wat in ons werk om te wil sowel as om te werk na Sy welbehae, naamlik:
Filip.2:13 “want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.”
In alle gevalle is dit juis God wat weer nuwe deure vir ons oopmaak.

Ek weet van ‘n gelowige in Amerika wat met dwelms betrokke geraak het. Hy het met die gereg in botsing gekom en daar is ‘n lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik. Hy het toe uit die staat van Kalifornië gevlug en op straat beland, waar die Here met hom begin werk en sake het aanvanklik heeltemal verkeerd vir hom begin loop. Toe hy aan die einde van homself gekom het, het hy sy sonde bely en die Here versoek om hom te help. Hy het besef dat hy volgens Bybelse beginsels sal moet optree indien hy God wil verheerlik. Hy is toe terug Kalifornië toe, en het homself aan die gereg oorgegee, waarna hy in die hof skuldig gepleit het en vir vyf jaar tronk toe gestuur is. Tydens sy gevangenskap het hy die Bybel bestudeer en vir ‘n beroep gestudeer. Toe hy uit die gevangenis vrygelaat is, het die Here vir hom deure oopgemaak, en by ‘n organisasie wat arm mense bystaan in hulle nood ‘n werk gekry. A.g.v. sy goeie werk, en voorbeeld wat hy daar gestel het, het hy later volle kwytskelding vir sy misdaad ontvang en sy misdaadrekord is skoongevee. Die Here gebruik hom tans op ‘n besonderse wyse en baie mense is al deur hom na die Here toe gelei. Hier is weer ‘n voorbeeld waar die Here die persoon ‘n tweede kan in die lewe gegee het, en waar Hy die gevolge van die persoon se verkeerde besluite heeltemal ongedaan gemaak en hom daarna ryklik geseën het.

Ter afsluiting: Indien ons streef om God in alles wat ons doen te verheerlik sal ons nie sonde so ligtelik opneem nie. Optredes het gevolge en soms kan een misstap lewenslange gevolge meebring. Boonop is dit ‘n ernstige fout om die aanslae van satan ligtelik op te neem en ons moet ten alle tye daarna streef om Christus gesentreerde lewens te lei. Ons moet teen enige vorm van wêreldsgesindheid waak juis omrede ons so maklik in satan se strikke kan beland en ons weet immers dat hy soos ‘n brullende leeu rondloop om te kyk wie hy kan verslind.
1Joh.2:15 “Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie.”
Alle besluite wat ons maak moet binne die raamwerk van God se woord en wil vir ons gemaak word. Daarom is dit van uiterste belang om die Bybel binne die korrekte konteks te verklaar en in ons lewens toe te pas. Werklike wysheid kom van God af, en daarom is dit van uiterste belang om die Bybel te bestudeer en in ons lewens toe te pas, wat sal verseker dat ons van onnodig smarte a.g.v. verkeerde keuses gespaar sal word.
Spr.9: 10 “Die beginsel van die wysheid is die vrees van die HERE, en kennis van die Heilige is verstand. 12 As jy wys is, is jy wys tot jou voordeel, en is jy ‘n spotter, dan moet jy dit alleen dra.”

Seën Groete!

Vic

Deel met ander asb.