Wat ons Glo

Wat ons glo

Geloofsbelydenis

Die Woord

Ons glo in die inspirasie van die Ou en Nuwe Testament deur die Heilige Gees. Ons glo dat die Woord van God onfeilbaar en foutloos is in die oorspronklike grondtale. Verder glo ons dat die Skrif die finale gesag is in alle sake en alles bevat wat nodig is vir ‘n godvrugtige lewe. Die Woord is die finale outoriteit ten opsigte van geloof en leerstellings (dogma). (2 Timoteus 3:16-17; 2 Petrus 1:20-21; Matteus 5:18; Johannes 16:12-13)

God

Ons glo dat God ewig bestaan in drie Persone, naamlik die Vader, die Seun en die Heilige Gees, en dat hierdie Drie-eenheid een wese is. Ons glo dat hulle dieselfde eienskappe (atribute), volmaaktheid en natuur deel, en dat hulle geregtig is op dieselfde eerbetoon, aanbidding, vertroue en gehoorsaamheid. (Matteus 28:18-19; Markus 12:29; Johannes 1:1-2, 14; 4:24; 10:30; Handelinge 5:3-4; 2 Korintiërs 13:14; Hebreërs 1:1-3; Openbaring 1:4-6)

Die Here Jesus Christus

Ons glo dat Jesus Christus God is en ewig bestaan. Ons glo in Sy maagdelike geboorte uit Maria, Sy sondelose lewe, Sy kruisdood vir ons sondes, Sy liggaamlike opstanding op die derde dag, en Sy hemelvaart waar Hy aan die regterhand van God die Vader sit om vir ons in te tree. Ons glo in Jesus se plaasvervangende versoeningsdood, asook in Sy persoonlike, pre-millenniale en voor-verdrukking (pre-tribulasie) wederkoms. (Matteus 1:18-25; Romeine 4:25; 1 Tessalonisense 4:13-18; Openbaring 3:10)

Die Heilige Gees

Ons glo dat die Heilige Gees die derde Persoon van die Drie-eenheid is. Aan die Heilige Gees is die opdrag gegee om in hierdie dispensasie die wêreld van sonde, geregtigheid en oordeel te oortuig. Hy bewerkstellig die wedergeboorte (regenerasie), inwoning, verligting en verseëling van elke ware kind van die Here. Ons glo verder dat die Heilige Gees elke wedergebore gelowige in die liggaam van Jesus Christus doop (die ware Kerk, ook bekend as die Bruid van Christus). (Johannes 3:6; 16:7-11; Romeine 8:9; 1 Korintiërs 12:13; Efesiërs 4:30; 5:18; 2 Tessalonisense 2:7; 1 Johannes 2:20-27)

Die Mens

Ons glo dat God die mens na Sy beeld en gelykenis geskape het, maar dat die mens deur ongehoorsaamheid aan God se Woord gesondig het. As gevolg daarvan het die mens geestelik en liggaamlik gesterf. Hierdie sonde-natuur en die dood het na alle mense versprei, met die enigste uitsondering die God-mens, Jesus Christus. Om geestelik dood te wees, beteken om van God geskei te wees; alle mense is dus van nature sondaars. (Genesis 1:26; 2:17; 6:5; Psalms 14:1-3; 51:5; Jeremia 17:9; Johannes 3:6; 5:40; 6:53; Romeine 3:10-19; 8:6-7; Efesiërs 2:1-3; 1 Timoteus 5:6; 1 Johannes 3:8)

Verlossing

Ons glo dat Jesus Christus volgens die Skrifte vir ons sondes en in ons plek aan die kruis gesterf het. Ons verlossing is geheel en al deur Christus se bloed aan die kruis bewerkstellig; geen goeie werk kan of mag daarby gevoeg word nie. Slegs geloof in Jesus en Sy voltooide werk aan die kruis red ons van die skuld van sonde. Geen gevoel, daad, kerkbywoning, sakrament, doop, tiendes of wetsnakoming kan bydra tot die voltooide werk van Christus nie. (Levitikus 17:11; Jesaja 64:6; Matteus 26:28; Johannes 1:29; 3:5, 18; Romeine 3:25-26; 5:6-9; 2 Korintiërs 5:14, 21; Galasiërs 3:13; 6:15; Efesiërs 1:7; Filippense 3:4-9; Titus 3:5; Hebreërs 10:5-14; Jakobus 1:18; 1 Petrus 1:18-19, 23)

Om Gered te Word

Verlossing is deur genade alleen, deur geloof alleen, in Jesus Christus alleen — plus niks. Om wedergebore te word, moet ‘n persoon ‘n eie wilsbesluit neem om geloof te beoefen. Sodra ‘n ongeredde persoon glo in wat Jesus aan die kruis gedoen het, gaan hy oor uit die koninkryk van die duisternis na die koninkryk van die Lig. Hy word in Christus gereken, onmiddellik geregverdig en deur die Vader aangeneem as mede-erfgenaam van Christus vir ewig. (Johannes 5:24; 17:23; Handelinge 13:39; Romeine 5:1; 1 Korintiërs 3:21-23; Efesiërs 1:3; 2:8-9; Kolossense 2:10; 1 Johannes 4:17; 5:11-12)

Bewaring van die Heiliges

Ons glo dat elke wedergebore kind van die Here deur God self in Christus bewaar word. Die Skrif gee hierdie absolute versekering van ewige sekuriteit aan alle gelowiges in hierdie huidige dispensasie. (Johannes 5:24; 10:27-30; 13:1; 14:16-17; 17:11; Romeine 8:29, 35-39; 1 Korintiërs 1:4-8; Galasiërs 5:13; Hebreërs 7:25; 1 Petrus 1:5; 1 Johannes 2:1-2; 5:13; Judas 24)

Die Duiwel

Ons glo dat die duiwel ‘n geskepte wese met ‘n eie persoonlikheid is. Hy is die oorsaak van boosheid en die vader van die leuen. As die teenstander (Satan) van God en mens, is sy eindbestemming die poel van vuur wat vir hom en sy demone voorberei is. (Job 1:6-7; Jesaja 14:12-17; Matteus 4:2-11; 25:41; 2 Korintiërs 4:3-4; Openbaring 20:2, 10)

Die Ewige Toestand

Ons glo dat diegene wat in Christus sterf, se gees en siel onmiddellik by die Here is in ‘n toestand van bewuste geluksaligheid. Met die opstanding sal hulle met nuwe, verheerlikte liggame verenig word om ewig by die Here te wees. Die ongereddes bly egter in ‘n toestand van bewuste pyniging tot na die duisendjarige vrederyk, wanneer hulle geoordeel en liggaamlik in die poel van vuur gewerp sal word — die tweede dood, ewig geskei van God. (Lukas 16:19-26; 23:43; 2 Korintiërs 5:8; Filippense 1:23; 2 Tessalonisense 1:7-9; Judas 6-7; Openbaring 20:11-15)

Die Kerk

Ons glo dat die Kerk tans die liggaam van Christus is, bestaande uit alle wedergebore gelowiges ongeag denominasie. Die Kerk het op Pinksterdag tot stand gekom en sal voortduur tot met die Wegraping, wat die dispensasie van genade sal afsluit. Ons glo aan die ordinansies van die doop (deur onderdompeling) en die nagmaal. Ons glo in die outonomie van die plaaslike gemeente onder die gesag van Christus deur middel van ouderlinge en diakens. (Efesiërs 1:22-23; 5:25-27; 1 Korintiërs 12:12-14; Kolossense 3:14-15)

Dispensasionalisme

Ons glo in die letterlike, grammaties-historiese interpretasie van die Bybel, wat noodwendig lei tot die leer van Dispensasionalisme. Ons verwerp die vergeesteliking (allegorisering) van die Skrif en glo dat dieselfde interpretasiemetode vir beide die Ou en Nuwe Testament geld. (Matteus 28:19-20; Handelinge 2:41-42; 18:8; 1 Korintiërs 1:14-16; 11:23-26)

Verantwoordelikheid van die Gelowige

Ons glo dat elke gelowige beveel word om deur die Heilige Gees vervul en beheer te word, sodat sy wandel ‘n waardige getuienis vir die Here sal wees. Gelowiges moet elke geleentheid benut om die Evangelie te verkondig, finansieel by te dra tot die werk van die Here soos Hy hulle seën, en gereeld voorbidding doen vir alle mense. (Efesiërs 5:17-18; Galasiërs 5:16; Handelinge 1:8; 1 Korintiërs 16:2; 2 Korintiërs 9:7)

Wat sê die Skrifte