Vraag: Kan jy vir my asseblief kommentaar lewer op die feit dat iemand meen dat die boek Openbaring nog nie klaar geskryf is nie en dat mens nog openbaringsinligting daarby kan voeg? In Openbaring 22:18 staan dat niks bygevoeg of weggelaat mag word nie, asook in Deuteronomium 4:2.
Antwoord: Baie dankie vir die vraag; dit is ’n uitstekende en relevante navraag. Met die Here se hulp sal ek poog om u vraag so bondig moontlik te beantwoord. Onthou, ek is net ’n mens en kan foute maak. Toets asseblief alles wat ek sê aan die Skrif!
Die Bybel, vanaf Genesis tot en met die einde van Openbaring, is ’n progressiewe openbaarmaking van God aan die mens. Dit is noodwendig ook die openbaarmaking van Jesus Christus aan die mensdom; dit vertel hoe die mens in sonde verval het en hoe God in Sy genade die gevalle mensdom verlos het. (Die leser word ten sterkste aangeraai om die reeks artikels “Die Duiwel se aktiwiteit sover dit die gelowige aanbetref” te lees, wat die mens se geskiedenis en die satan se betrokkenheid in diepte bespreek).
Die Skrif bevat dus die rekord van God se handelinge met Sy skepping. Tussen die eerste woorde van Genesis en die laaste woorde van Openbaring sien ons hoe sonde die wêreld binnegedring het en hoe dit uiteindelik uitgeroei word.
Genesis 3:15 “En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou nageslag en haar nageslag. Hy sal jou die kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen steek.”
Na die sondeval belowe God hier vir die eerste keer die koms van Jesus Christus. Die res van die Bybel is ingestel op hierdie progressiewe openbaarmaking van die Here Jesus, insluitende Sy werk aan die kruis en die verloop van die geskiedenis tot by die voleinding. Die diereoffers, die tabernakel en die feeste van Israel dui alles profeties op Hom. Die Bybel bevat dus feitelike geskiedenis van gebeure wat reeds plaasgevind het, wat tans gebeur, en wat nog in die toekoms moet plaasvind. Alles is reeds opgeteken! Dit is ’n onweerlegbare bewys dat die Bybel God se Woord is. Daarom is dit so belangrik om Bybelse profesie te bestudeer. Die hele tydsbestek – verlede, hede en toekoms – is tussen Genesis 1:1 en Openbaring 22:21 bekend gemaak.
Verder is die volledige verlossingsboodskap daarin vervat. Daar is niks meer wat gesê of bygevoeg hoef te word nie. Die Bybel leer ons presies hoe ons moet lewe; daar skort niks wat aanvulling verg nie. Openbaring verskil van ander profetiese boeke in die sin dat dit die meeste van die onvervulde profesieë wat vroeër in die Skrif gemaak is, saamvat en afsluit. Ons weet reeds hoe die toekoms sal verloop omdat dit opgeteken is.
Beskou die volgende kontraste:
- In Genesis sien ons die skepping van die aarde en die gevolglike vervloeking; in Openbaring word die wêreld herskep sonder die vloek.
- In Genesis sien ons die ontstaan van sonde; in Openbaring word ’n einde daaraan gemaak.
- In Genesis verlei die duiwel die mens; in Openbaring word hy vir ewig in die poel van vuur gewerp.
Alle temas wat in die Bybel bekend gemaak is, kom in Openbaring tot ’n finale afsluiting. Wat sou moontlik nog bygevoeg kon word? Niks nie! Die duiwel gaan nie ontsnap nie, anders sou die Here lieg (Openbaring 20:10). Ons ken die uitslag reeds vooraf. Openbaring is juis deur God gegee sodat ons dit kan lees en verstaan; dit is nie ’n geslote of onverstaanbare boek nie. Die Here het geweet dat die vyand die boek Openbaring sou aanval. Daarom sien ons die ernstige waarskuwing om nie met hierdie boek te peuter nie. Weë die persoon wat enigiets by die Bybel voeg! Dit geld vir die hele Skrif-kanon.
2 Petrus 1:3-4 “Immers, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien, deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur sy heerlikheid en deug, waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het, sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is.”
Uit hierdie gedeelte sien ons dat ons reeds alles het wat nodig is vir ’n godsalige lewe. Dit is reeds geskenk (verlede tyd). Ons het dus nie nuwe, buite-Bybelse openbarings nodig nie – ’n feit wat baie moderne “profete” miskyk.
Judas 1:3 “Geliefdes, terwyl ek alle ywer aanwend om aan julle oor ons gemeenskaplike saligheid te skrywe, het ek die noodsaaklikheid gevoel om julle deur my skrywe te vermaan om kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is.”
Die uitdrukking “eenmaal oorgelewer” impliseer “eens en vir altyd”. Daar is geen herhaling of verdere byvoeging nodig nie.
Openbaring 22:18-19 “Want ek betuig aan elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boek hoor: As iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is. En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is.”
Hierdie waarskuwing is duidelik genoeg. As iemand beweer die Woord is onvolledig, moet u van daardie persoon wegvlug. Die meeste kultusse gebruik juis ekstra boeke wat hulle gelykstel aan die Skrif. Baie mense in moderne sirkels sê: “Ons het openbaring nodig, nie kopkennis nie.” Die hartseer feit is dat hierdie mense dikwels die geïnspireerde openbaring wat God reeds gegee het, ignoreer ten gunste van subjektiewe ervarings. Hulle stel hulself oop vir misleiding.
Hierdie tipe stellings kom dikwels van mense wat nie hul teologie uit die Bybel kan staaf nie. Hulle skep ’n god na hul eie voorkeur deur teksgedeeltes buite konteks aan te haal. Ons kan nie ons teologie vooraf bepaal en dit dan op die Woord probeer inlees nie (eisegese). Dink aan die chaos as ons na tweeduisend jaar skielik nuwe openbarings moet aanvaar, soos die proponente van die “Nuwe Apostoliese Reformasie” beweer. Die Bybel is God se voltooide Woord en die enigste Goddelike openbaring wat ons nodig het.
Dit is ’n tragedie dat mense van konferensie na konferensie hardloop sonder om ooit tot Skriftuurlike insig te kom, omdat hulle nie self die Bybel bestudeer nie. Hulle soek tekens en manifestasies in plaas van die waarheid. Om tot God te nader, beteken om Sy Woord te bestudeer en dit getrou toe te pas. Geloof rus op die onfeilbare beloftes van God, nie op wonders of buite-Bybelse profesieë nie. Enigeen wat die teendeel verkondig, verkondig ’n leuen. My raad is om by ’n gemeente aan te sluit wat die konsekwente, letterlike, grammatikaal-historiese interpretasiemetode gebruik en die Bybel vers vir vers uitlê.
Seëngroete, Vic