geloofsrus-oefening

Die geloofsrus-oefening om vrees en bekommernis te oorwin

Enige persoon wat al werklik gelewe het sal weet dat die lewe nie altyd maklik is nie, en indien daardie persoon lank genoeg lewe sal hy die een of ander tyd erge teëspoed, terugslae, rampe en hartseer beleef. Die graad van teëspoed wissel van persoon tot persoon, maar elke persoon sal op die een of ander tyd teëspoed belewe. Ongelukkig word hierdie onderwerp nie altyd genoeg deur predikers aangeraak nie, juis omrede dit so ‘n onaangename onderwerp is. Rampe, teëspoed, terugslae en hartseer, is deel van die gevalle wêreld waarin ons lewe, en dit sal so voortgaan tot en met ons dood of die wegraping. Hoeveel van ons het nie al die stelling gehoor dat ‘n persoon net na die Here moet kom en dan sal al sy probleme iets van die verlede wees nie? ‘n Prediker of evangelis wat so ‘n stelling maak verkondig nie slegs leuens nie, maar hy maak ook in die proses van die Here Jesus Christus ‘n leuenaar. Die Here Jesus Christus het ons vooraf gewaarsku dat ons in hierdie lewe teëspoed sal ervaar, naamlik:
1Joh.16:33 “Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.”
Ons hoef net rond te kyk om te sien hoeveel lyding en hartseer daar in die wêreld is.

God se voorsienigheidsbeheer (voorsienigheid) sluit ook as element God se voorsienige (of te wel logistieke) genade in. God se logistieke genade sluit alles wat die gelowige in hierdie wêreld nodig het om te oorleef in, soos byvoorbeeld suurstof, kos en klere ensovoorts . Sover dit die gelowige aangaan, is die grondslag van God se logistieke genade die ontvangs van die Here Jesus Christus se toegerekende geregtigheid. ‘n persoon ontvang die Here Jesus Christus se toegerekende geregtigheid die oomblik wanneer hy dood eenvoudig die evangelie glo en op geen ander wyse nie. Enige menslike werke is dus volkome uitgesluit. Indien mens die Here Jesus Christus se stelling wat Hy in Mattheus 6:24-34 gemaak het, en waarvan ek slegs Mattheus 6:31-34 hier gaan aanhaal, bestudeer dan word hierdie feit duidelik, naamlik:
Matt.6:31 “Daarom moet julle jul nie kwel en sê: Wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie? 32 Want na al hierdie dinge soek die heidene; want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het. 33 Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. 34 Kwel julle dus nie oor môre nie, want môre sal hom oor sy eie dinge kwel. Elke dag het genoeg aan sy eie kwaad.”
Al wil ons dit weet of nie, elkeen van ons sal tribulasie in hierdie lewe ervaar, en daarom verwys die Here na hierdie feit as “elke dag het genoeg van sy eie kwaad.”

God het dus ‘n individuele plan vir elke gelowige se lewe. Die Here se stelling “al hierdie dinge” verwys na elke fisiese en geestelike behoefte wat die gelowige nodig het om in hierdie wêreld te oorleef en binne die raamwerk van God se wil te funksioneer. Die vraag is of ons werklik glo dat onse Hemelse Vader bewus van ons behoeftes is (nie noodwendig al ons begeertes nie), en dat Hy dit getrou sal voorsien omrede ons deel van Sy familie geword het. Hou hierdie feit in gedagte en lees asb weer bostaande teksgedeelte sorgvuldig deur.

Die Here Jesus Christus se opdrag aan ons is om onsself nie oor die dag van môre te kwel nie, omrede God se voorsienige (logistieke) genade deel van God se plan vir ons vorm, en dit is die grondslag waarop ons moet vertrou, wetende dat God ons werklike behoeftes sal bevredig. (Dit beteken geensins dat God ons nie op hierdie punt sal toets nie.) Die beginsel van God se logistieke genade leer ons om een dag op ‘n slag te leef. Ons moenie dat die verlede ons kniehalter nie, en ons moenie onsself oor die die dag van more/toekoms bekommer nie. Lewe van dag tot dag, binne die raamwerk van God se wil, met die strewe om Hom te verheerlik.
Kol.3:17 “En wat julle ook al doen in woord of in daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.1Kor.10:31 Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles tot verheerliking van God.”
Plaas al jou probleme in God se hande, en tref onderskeid tussen dit wat absoluut noodsaaklik is en dit wat slegs die detail van die lewe is. Anders as wat die wêreld aan ons wil voorhou, is korrekte Bybelse leerstellings ‘n absolute noodsaaklikheid, en voedsel en klere is slegs ‘n detail.

Almal van ons sal die een of ander tyd skok beleef wat geweldige druk op ons sal plaas. Dink maar byvoorbeeld aan Job. In sommige gevalle sal die skok (of druk) van so ‘n aard wees dat ons op emosionele vlak lamgelê word. In ander gevalle kan dit ‘n emosionele opstand in ons teweegbring wat sal veroorsaak dat ons nie meer duidelik kan dink en op die beloftes in God se woord kan fokus nie. In sommige gevalle verpletter so ‘n gebeurtenis soms ‘n persoon se geloof in God se woord, veral indien die persoon dwaalleerstellings, soos byvoorbeeld die Voorspoed Evangelie en die Woord Geloof Beweging, aanhang of die slagoffer daarvan is. In hierdie opsig is die leerstelling van geloofsrus-oefening van kardinale belang, omrede dit die gelowige in staat sal stel om bo sy probleme uit te styg en die geveg vir die Here te los (want dit is God wat die oorwinning vir ons sal behaal). Die geloofsrus-oefening is nie net bedoel om in hoë druk situasies toegepas te word nie, maar dit kan ook in minder stresvolle situasies van ons lewens aangewend word. Hierdie tegniek kan ook in ons daaglikse gebede gebruik word, om ons gebedsversoeke op ‘n sistematiese wyse, en met die skrifte as grondslag, aan die Here voor te lê (dit verseker dat ons makliker in God se wil bid). Dit is van uiterste belang dat elke gelowige kennis van die geloofsrus-oefening dra en d.m.v. herhaaldelike oefening vaardig in die toepassing daarvan sal word.

Vir die geloofsrus-oefening om werklik van nut te wees, is dit van uiterste belang dat die gelowige korrekte Bybelse leerstellings inneem, dit memoriseer en oordink (of te wel metaboliseer). Dit is ook van uiterste belang om die skrifte binne die korrekte dispensasionele konteks en op ‘n konsekwente, letterlike, grammatiese en historiese wyse te interpreteer. Wanneer die gelowige homself in ‘n oorweldigende situasie bevind, moet hy die volgende stappe volg wat hom sal help om op die Bybelse leerstellings wat hy ingeneem, en gemetaboliseer het te fokus wat sy probleem in die korrekte konteks sal plaas.

Stap 1: Dink aan ‘n belofte wat God in Sy woord gemaak het en eis dit vir jouself op:

God kan nie lieg nie. As Hy ’n belofte aan jou gemaak het sal Hy dit nakom. Haal die fokus van jou situasie af, en herinner jouself aan ‘n belofte wat God in Sy woord aan jou gemaak het. Wanneer jy dit doen, sal dit begin om jou siel te stabiliseer. (mits jy werklik die belofte glo) Oordink die belofte, en maak seker dat jy werklik die belofte verstaan, en weet wat dit in werklikheid beteken en aan wie dit gemaak is. Besef en glo dat vir God die situasie geensins ‘n probleem is nie, en dat Hy as God die Almagtige volkome in beheer van die situasie is. Herinner jouself ook aan die feit dat God in jou liggaam inwoon, en dat Hy jou boonop in Sy hande vashou en dat jy nooit van Hom geskei kan word nie. God is dus saam met jou in hierdie situasie.
Ef.1:13 “in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte,”
Jou liggaam is nou die tempel van God en jy kan nooit weer van Hom geskei word nie. Dink mooi oor die implikasies van hierdie feit na.
Heb.13:5ff “want Hy het gesê: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie.
Jou omstandighede is dus nie hopeloos nie. Hierdie is maar slegs twee van baie sulke beloftes wat in die skrifte vir jou opgeteken staan. Indien jy hierdie feite mooi oordink, dan sal dit jou gemoedstoestand genoegsaam stabiliseer sodat jy jou situasie in lig van die Bybelse leerstellings wat jy geleer het kan benader.

Stap 2: Gebruik ‘n Bybelse belofte om tot ‘n logiese, skrif gebaseerde leerstellige rasionaal te vorm:

Anders gestel, gebruik jou verstand. Gebruik ‘n Bybelse belofte wat by jou situasie pas, en gebruik dit as vertrekpunt om ‘n logiese, skrif gebaseerde slotsom te bereik. God het vir ons ‘n verstand gegee en Hy verwag van ons om ons verstand te gebruik. Gelowiges moet die Bybel, binne die korrekte dispensasionele konteks, gebruik om na ‘n punt toe te kan redeneer. Dit is wat met die term leerstellige rasionaal bedoel word. Onthou, elke belofte wat God in die Bybel gemaak het, word deur ‘n skriftuurlike leerstelling of ‘n reeks leerstellings gerugsteun. Dit is een van die redes waarom korrekte Bybelse leerstellings so belangrik is. Vir elke rasionele slotsom, moet daar vanuit die skrifte ‘n onderliggende rede, verduideliking en regverdiging gegee kan word. Die slotsom wat die gelowige bereik het, moet op rasionele vlak vanuit die skrifte regverdig kan word. Dit beteken dat ons stap vir stap tot ‘n Bybelse slotsom moet kan redeneer. Hoe meer ‘n gelowige van leerstellige rasionaal gebruik maak, hoe makliker word die hele proses en daarom is dit belangrik om die belofte wat jy in stap een gebruik het as die grondslag van die redenerings proses te gebruik. Onthou, daar is baie Bybelse leerstellinge wat oor verskillende onderwerpe handel en wat onderling met mekaar verband hou. Dit sal makliker wees om ‘n toestand van geloofsrus te bereik, indien die leerstellige rasionaal wat jy bereik het op ‘n hele kompleks van basiese skriftuurlike leerstellings gebaseer is. Dit is egter nie altyd ‘n absolute vereiste nie.

‘n Persoons kan byvoorbeeld die leerstelling van God se ewige Raadsplan gebruik wat aan hom sy spesifieke plek in die ewige doel van God sal uitlig. God het ons almal met ‘n sekere hoeveelheid middele tot ons beskikking, soos byvoorbeeld geestelike gawes, lewensgeleenthede, talente, tyd, energie, en ander bates geseën, sodat ons die doel waarvoor ons op hierdie aarde geplaas is kan vervul. Die vraag is, doen ons dit? Indien dit byvoorbeeld God se plan vir jou is om ander mense by te staan, dan kan jy vanuit daardie vertrekpunt uit redeneer dat Hy ook aan jou die middele sal gee om daardie doelwit te verwesenlik.

‘n Gelowige kan ook byvoorbeeld die leerstelling van God se Voorsienigheidsbeheer gebruik om homself gerus te stel dat God in al sy nodige behoeftes sal voorsien. Die belofte wat ek gewoonlik in hierdie opsig opeis, en as grondslag in my kognitiewe proses aangewend, is Filip.4:18-20, naamlik:
Filip.4:19 “En my God sal elke behoefte van julle vervul na sy rykdom in heerlikheid deur Christus Jesus. 20 Aan onse God en Vader die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen.” (God gebruik gewoonlik mense waardeur Hy werk om Sy doelwitte op aarde te bereik)
Die leerstelling van God se attribute verklaar dat God heilig is, en nie kan lieg nie. Hierdie feit kan ook in die redenerings proses ingeweef word om die gelowige se gevolgtrekking te bevestig. Hoe groter die kompleks van Bybelse leerstellings wat in die kognitiewe proses aangewend word, hoe makliker word dit om ‘n toestand van geloofsrus te bereik. Onthou, elke belofte wat ons in die skrifte vind het ‘n onderliggende leerstellige grondslag, of in baie gevalle meer as slegs een leerstellige grondslag waarop dit gebaseer is. In kort, dink Bybels en dink nugter.

Stap 3: Bereik korrekte leerstellige gevolgtrekkings:

Korrekte leerstellige redenerings behoort op korrekte leerstellige gevolgtrekkings uit te loop. Vir elke redenerings proses behoort daar ‘n skriftuurlike gevolgtrekking bereik te word. Kom ons gebruik as voorbeeld ‘n man wat ‘n krises beleef omrede hy sy werk verloor het. In stede daarvan om paniekbevange te raak, haal hy eerder sy fokus van die probleem af, en fokus in geloof op God en wat Hy in Sy woord ons beveel. As stap een van die geloofsrus-oefening gaan haal hy dan ‘n spesifieke belofte (in die korrekte dispensasionele konteks) vanuit die Bybel aan. In hierdie geval kies hy byvoorbeeld Filippense 4:19, wat direk van toepassing op sy huidige situasie is, naamlik:
Filip.4:19 “En my God sal elke behoefte van julle vervul na sy rykdom in heerlikheid deur Christus Jesus.

Die gelowige gebruik nou bostaande teksgedeelte, en wend dit as die leerstellige grondslag vanwaar hy verder redeneerder aan, om ‘n skrif gebaseerde gevolgtrekking te bereik. Hy kan dan byvoorbeeld die Leerstelling van God se Voorsienigheidsbeheer (voorsienigheid) oordink. Hy kan ook byvoorbeeld weer die artikel “God se voorsienigheidsbeheer” op die webtuiste gaan lees wat hom sal herinner dat sy Hemelse Vader na hom sal omsien. Hy kan verder gaan en die Leerstelling van God se Attribute oordink wat verklaar dat God getrou is. In hierdie opsig kan hy van Numeri 23:19 gebruik maak om sy punt verder te staaf, naamlik:
Num.23:19 “God is geen man dat Hy sou lieg nie; of ‘n mensekind dat dit Hom sou berou nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, of spreek en dit nie waar maak nie?”
In hierdie voorbeeld het die gelowige ‘n hele kompleks van Bybelse leerstellings gebruik om sy gevolgtrekking te onderskraag.

Boonop weet hy dat hy met vrymoedigheid toegang tot God se troon van genade het, naamlik:
Heb.4:16 “Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.” (Onthou altyd God se tydsberekening.)In stede daarvan om homself dood te bekommer, moet hy eerder daarop fokus om te doen wat God ons in Sy woord beveel, naamlik:Filip.4:6 “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God.”
En hoekom moet hy nie bevrees wees nie? Hy rus nou in die feit dat God almagtig en alwetend is. Op grond van hierdie feit kan die gelowige redeneer dat God in Sy alwetendheid alreeds bewus van sy situasie is, en dat Hy in Sy almag in staat is om die gelowige te help. Al wat nou oorbly is vir die gelowige om sy bekommernis op God te werp met die wete dat God alreeds vir hom sorg.
1Pet5:7 Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle. (en ja, jou geloof kan in hierdie opsig getoets word)

Rom.8:31 “Wat sal ons dan van hierdie dinge sê? As God vír ons is, wie kan teen ons wees? 32 Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, (om ons verlossing te bewerkstellig toe ons nog Sy vyande was) hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles (en dit sluit ons daaglikse behoeftes in)genadiglik skenk nie?”
Die gelowige kan nou met ‘n geruste hart begin uitkyk vir ‘n nuwe werk.

Fillip4:7 “En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.”
Die gelowige moet (in geloof) nou heeltemal ontspan en volkome op God vertrou met die wete dat God nog altyd in beheer van sy situasie is. Tydens die heiligmaking fase verwag God van die gelowige om van die genademiddels, soos in Sy woord (die Bybel) opgeteken staan, gebruik te maak om heiligmaking, deur geloof, in die krag van die Heilige Gees te bewerkstellig. Ons moet nie skroom om hierdie middele te gebruik nie. Hierdie lewe is een groot toets wat uit afsonderlike kleiner toetse bestaan. Die eksaminator is God self, en daarom is dit van uiterste belang dat ons die hulpmiddele wat Hy is Sy woord aan ons geopenbaar het, deur geloof, in die krag van die Heilige Gees aanwend, sodat ons die toets sal slaag, Hom sodoende verheerlik en genadeloon in die hiernamaals kan verdien. Onthou, die ewigheid lê voor en dit is wat in werklikheid tel.

God verwag van ons om volkome op Hom te vertrou en volkome geloofsrus in Hom te vind. Geloofsrus in hierdie opsig geld nie net vir fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte nie, maar ook vir fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking, waar voortgesette geloof van ons vereis word. In hierdie opsig is die geloofsrus-oefening so belangrik. Die geloofsrus-oefening help ons om ‘n stadium te bereik waar ons volkome op God en Sy woord vertrou. Boonop help die geloofsrus-oefening ons om ‘n vaste skriftuurlike fondament vir ons gevolgtrekkings te bekom, en soos wat ons die geloofsrus-oefening in ons lewe toepas, sal dit ons help om ‘n stadium te bereik waar ons werklik die leerstellige gevolgtrekkings wat ons bereik het sal glo. Onthou dit is geloof wat God behaag, nie eenvoudige lippediens nie.
Heb.11:6 “En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek.”
Dit is maklik om Bybels beloftes aan te haal en om dit gereeld te herhaal. Die vraag is of ons werklik God se woord glo. Want indien ons werklik Sy woord glo dan sou ons nie meer onsself oor alles bekommer nie.

Ter afsluiting: Wanneer ons die geloofsrus-oefening gereeld in geloof toepas, dan sal dit help om die leerstellige gevolgtrekkings wat ons bereik het ‘n werklikheid te maak, sodat ons moed, rus, vrede en vertroosting in hierdie feite kan bekom. God wil hê dat ons Hom moet dophou en sien hoe Hy Sy beloftes tot uitvoering bring en ons logistieke verlossing bewerkstellig.
Jes,41:10 “Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand.”

Wanneer ons enige probleem vanuit hierdie verwysingsraamwerk benader, stel dit ons in staat om die probleem met ‘n kalm gemoed te benader, en volkome op God te vertrou wetende dat volkome in beheer van die situasie is. Gereelde toepassing van die geloofsrus-oefening sal ons help om die groot prentjie van God se genade en getrouheid raak te sien. Elke keer wanneer vrees weer dreig om in ons harte op te kom, dan moet ons die drie stappe van die geloofsrus-oefening herhaal totdat ons gemoedstoestand weer gestabiliseer is en ons weereens ‘n stadium van volkome geloofsrus bereik het. As deel van ons geestelike ontwikkeling wil God hê dat ons ‘n stadium van voortgesette geloofsrus ervaar. Tot die mate wat geloofsrus in ons lewens manifesteer, tot daardie mate het ons geestelik gegroei. Maak die geloofsrus-oefening deel van jou lewe en jy sal sien hoe die Here jou sal help. En onthou:
Luk.12:7 “Maar selfs die hare van julle hoof is almal getel. Wees dan nie bevrees nie: julle is meer werd as baie mossies.”
1Pet5:7 Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle.
Glo jy werklik bostaande teksgedeeltes?

Seën groete!

Vic

Deel met ander asb.