Die doel met hierdie webtuiste is om die Here te verheerlik met alles wat hier verskyn en om die waarheid te verkondig, presies soos wat Hy van ons verwag. Ons begeer om by gelowiges weer ‘n liefde vir die Woord in sy suiwerste vorm aan te kweek. Ons fokus daarop om Bybelgesentreerde artikels te publiseer wat opbouend is vir alle kinders van die Here, en wat die leser vermaan om as ligte in ’n donker wêreld te skyn (Filippense 2:15), sodat ons hemelse Vader se Naam daardeur verheerlik mag word.
Verder is ons doel om by mense die versekering te vestig dat alles wat ons benodig om ’n godvrugtige en heilige lewe te lei, slegs in die Skrif te vinde is—nie in buite-Bybelse idees of subjektiewe openbarings nie.
2 Timoteus 3:16–17: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.”
Soos uit bogenoemde teks duidelik blyk, is die Skrif al wat ons benodig. Daarom hoef die gelowige nie na buite-Bybelse (en dikwels onbybelse) ervarings, tydskrifte of praktyke te soek vir antwoorde nie, maar slegs na God en Sy Woord alleen. Ons moet weer op ‘n punt kom waar ons by elke lewensvraagstuk vra: “Wat sê die Skrif?” Die Skrif is die finale gesag in ons lewens, aangesien dit die onfeilbare Woord van God is. Hierdie oortuiging geld vir elke gelowige wat getrou aan die Here Jesus Christus en Sy leerstellings wil bly.
Laastens is dit ons doel dat gelowiges hul vertroue volkome in die Here en Sy Woord sal plaas, met die absolute sekerheid dat God in beheer is. Net soos George Müller wil ons aan die wêreld demonstreer dat vertroue in die Here die mees logiese en standvastige weg is. Mag ons hemelse Vader se heilige Naam deur hierdie nederige voorneme verheerlik word. Ons waak daarteen om die aandag op onsself te vestig; alle eer kom Hom alleen toe!
Alle artikels op hierdie webtuiste word kosteloos aangebied. Dit is God se wil dat alle mense toegang tot Sy Woord sal hê, nie net diegene wat dit kan bekostig nie. Die konsep van God se Vrye Genade word direk vanuit die Skrif verkry. Omdat dit God is wat aan ons die vermoë skenk om Sy Woord te verklaar, is dit slegs logies dat ons dit vrylik deel en op Sy voorsiening vertrou.
Matteus 10:8b: “Julle het dit verniet ontvang, verniet moet julle dit gee.”
Hoewel die Here Jesus Christus verwag dat die Woord kosteloos gedeel word, beteken dit geensins dat diegene wat die Woord verkondig nie deur medegelowiges ondersteun mag word nie:
- 1 Korintiërs 9:14: “So het die Here ook vir die wat die evangelie verkondig, bepaal dat hulle van die evangelie moet lewe.”
- Galasiërs 6:6: “Maar laat hom wat in die Woord onderwys ontvang, meedeel van alle goeie dinge aan hom wat onderwys gee.”
- Filippense 4:19: “En my God sal elke behoefte van julle vervul na sy rykdom in heerlikheid deur Christus Jesus.”
God werk meestal deur getroue gelowiges om die verkondiging van die Woord moontlik te maak. Hierdeur gee Hy aan gelowiges die geleentheid om — na hul wedergeboorte — vir hulleself genadeloon (ewige belonings) te versamel (1 Korintiërs 3:12-15). Ons gebruik hierdie beginsel ook om God se wil te toets: Indien Hy wil hê dat ons met hierdie werk moet voortgaan, sal Hy in die behoefte voorsien.
Ons smeek die Here Jesus Christus en ons hemelse Vader om ons in hierdie voorneme by te staan. Dit is ons gebed dat ons medebroeders en -susters in Christus geestelik geseën en gevoed sal word deur hierdie bediening, sodat hulle as getroue dissipels van die Here Jesus op aarde mag lewe. Dit is, in kort, ons doel. Amen.