Romeine 8:28 “En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.”
Ons wat weet dat ons die Here liefhet, hoef nooit terneergedruk of bang te wees nie. Dit maak nie saak hoe hopeloos ons saak mag lyk, of hoe donker ons lewe op hierdie oomblik mag voorkom nie. Ons kan verseker weet dat die Here alle omstandighede en gebeure gebruik om dit tot ons voordeel te laat saamwerk. Al beteken dit dat ons vir ’n kort tydjie lyding moet deurstaan, moet ons op God vertrou en weet dat Hy net die beste vir ons wil hê. Ons moet besef dat God nie net binne die kort tydsbestek van hierdie wêreld werk nie, maar met die ewigheid in gedagte. Hy bestuur alles volgens ’n plan en ons moet ons daarin berus. Hy sal ons nooit verlaat of in die steek laat nie.
Romeine 8:18 “Want ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie.”
As gelowiges word ons nie van lyding gevrywaar nie, maar ons het die versekering dat die Here met ons is en dat Hy ons die genade sal skenk om ons deur alle beproewinge te dra. Boonop het ons ’n hoop wat verder strek as hierdie tydelike wêreld. Ons sal saam met Jesus verheerlik word wanneer Hy aarde toe kom om as Koning te regeer. Dan sal ons saam met Hom verskyn om in Sy heerlikheid te deel.
Romeine 8:17 “en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede-erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word.”
Die Here gebruik soms lyding en swaarkry juis om ons tot geestelike volwassenheid te lei.
Romeine 5:3-5 “En nie alleen dit nie, maar ons roem ook in die verdrukkinge, omdat ons weet dat die verdrukking lydsaamheid werk, en die lydsaamheid beproefdheid en die beproefdheid hoop; en die hoop beskaam nie, omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is.”
Onthou dat dit slegs geloof is wat God behaag.
Hebreërs 11:6 “En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek.”
Daar is ’n ou gesegde wat lui: “Geloof wat nie getoets is nie, is nie ware geloof nie.” Dink maar aan Abraham, Dawid, Josef en Job. Lees gerus hul geskiedenis en kyk watter wonderlike getuies en werktuie hulle vir die Here was nadat hulle die toets deurstaan het. Ons moet mekaar met hierdie woorde troos en mekaar in gebed na die Vader van alle genade neem.
1 Petrus 1:13 “Daarom, omgord die lendene van julle verstand, wees nugter en hoop volkome op die genade wat julle deel word by die openbaring van Jesus Christus.”
Onthou ook dat geen lyding of swaarkry by God onopgemerk verbygaan nie. Daar is altyd ’n loon verbonde aan volharding tydens lyding. Alles het ’n doel, al maak dit nie nou vir ons sin nie. Ons moet nie op onsself vertrou nie, maar op God wat oor alle wysheid beskik en alleen alwetend en almagtig is. Die Here weet wat belangrik is; Hy weet dat geloof wat beproef is, baie kosbaarder as goud of edelgesteentes is. Dit is God se doel om ons geloof te louter en te ontwikkel.
1 Petrus 1:7-9 “sodat die beproefdheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus; vir wie julle, al het julle Hom nie gesien nie, tog liefhet; in wie julle, al sien julle Hom nou nie, tog glo en julle verbly met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap, en die einddoel van julle geloof, die saligheid van julle siele, verkry.”
Ware, beproefde geloof is vir die Here baie belangriker as ’n gerieflike, sorgvrye lewe in hierdie wêreld wat Hom vyandiggesind is. Die Here wil ons geloof so ontwikkel dat ons, net soos Jesus in die tuin van Getsémané, sal kan bid:
Matteus 26:39 “En Hy het ‘n bietjie verder gegaan en op sy aangesig geval en gebid en gesê: My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan; nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil.” Matteus 26:42 “Weer het Hy vir die tweede maal gaan bid en gesê: My Vader, as hierdie beker nie by My kan verbygaan sonder dat Ek dit drink nie, laat u wil geskied.”
Net soos Jesus moet ons tot die vaste oortuiging kom dat ons nie van hierdie wêreld is nie, maar dat ons tuiste by God in die hemel is. Ons lewe daar sal ewig duur en nie aan tyd gebonde wees soos hier op aarde nie. Ons moet deur geloof verby hierdie tydelike wêreld kyk na die ewigheid waar swaarkry nie meer sal bestaan nie.
1 Johannes 2:16-17 “Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld. En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.”
En verder:
2 Korintiërs 5:1-2 “Want ons weet dat as ons aardse tentwoning afgebreek word, ons ‘n gebou het van God, ‘n huis nie met hande gemaak nie, ewig, in die hemele. Want om hierdie rede sug ons ook en verlang om met ons woning uit die hemel oorklee te word,”
Dit klink miskien nie aangenaam nie, maar beproewinge is nodig. Hoe ons in daardie omstandighede optree, is ’n indikasie van ons vertroue in God. Soms kom swaarkry oor ons pad om ons los te maak van hierdie wêreld en sy begeertes. Sonder beproewing sou baie min van ons werklik met oorgawe na die Here gedraai het.
Jakobus 1:2-4 “Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val, omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid bewerk. Maar die lydsaamheid moet tot volle verwerkliking kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie.”
God is die Leermeester en die lewe is ons klaskamer. Eendag, wanneer ons in die hemel saam met Christus is, sal ons terugkyk en die Here dank vir elke beproewing wat Hy in ons lewe toegelaat het. Ons kan verseker wees daarvan.
Die vraag ontstaan: Hoe kry ’n mens dit reg om jou in moeilike omstandighede te verheug en God te prys? Jesus gee die antwoord in die Skrif:
Lukas 9:23 “En Hy sê vir almal: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg.” Johannes 12:25 “Wie sy lewe liefhet, sal dit verloor; maar wie sy lewe haat in hierdie wêreld, sal dit bewaar vir die ewige lewe.”
Ons moet op die punt kom waar God en Sy wil bo alles gestel word, en onsself bereid verklaar om as offers vir Hom uitgegiet te word. Ons moet in onsself sterf en volkome in Christus rus, sodat Sy heerlikheid al is wat saak maak. Ons moet ons lewens “laat gaan” en alles aan God toevertrou.
Romeine 12:1 “Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer—dit is julle redelike godsdiens.”
Dan eers sal ons besef wat dit werklik beteken om te lewe, en sal omstandighede ons nie meer onderkry nie. Onthou, dit is die Vader se wil om ons gelykvormig aan die beeld van Christus te maak.
Romeine 8:29 “Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders;”
Dit sluit noodwendig die weg van die kruis in. Die Here het ons vooraf gewaarsku dat dit nie maklik sal wees nie, maar Hy het ook beloof dat Hy ons nooit sal verlaat nie.
Johannes 16:33 “Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.”
Ons kan ook verseker weet dat die Here ons die genade sal skenk om enige struikelblok te oorkom.
2 Korintiërs 12:9 “En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon.”
Jim Elliot, die sendeling wat in 1956 as martelaar gesterf het, het gesê: “Hy is geen dwaas wat prysgee wat hy nie kan vashou nie, om te verkry wat hy nie kan verloor nie.”
Die mate waarin ons aan besittings verknog is, of hoeveel ons oor môre vrees, is ’n barometer van ons geloof. Vir die mens is ’n lewe van totale oorgawe onmoontlik, maar vir God is niks onmoontlik nie (Matteus 19:26). Kyk in geloof verby die tydelike na die ewigheid. Die Here het beloof om ons te neem waar Hy is (Johannes 14:3). As ons die Here nie vir die tydelike kan vertrou nie, hoe sal ons Hom met die ewigheid vertrou?
Geloof moet getoets word. Daarom moet ons die Here dank vir beproewinge; dit is moontlik een van die grootste geskenke wat Hy ons kan gee.
Jakobus 5:8-11 “Julle moet ook geduldig wees; versterk julle harte, want die wederkoms van die Here is naby. Moenie teen mekaar kla nie, broeders, sodat julle nie veroordeel word nie. Kyk, die Regter staan voor die deur. Neem as voorbeeld van lyding, my broeders, en van geduld die profete wat in die Naam van die Here gespreek het. Kyk, ons reken hulle geluksalig wat verdra. Julle het gehoor van die lydsaamheid van Job, en julle het die einddoel van die Here met hom gesien, dat die Here vol medelye en ontferming is.”
Ons moet met ons hele wese op God vertrou; dit is die belangrikste les van die lewe.
Psalm 84:12 “HERE van die leërskare, welgeluksalig is die mens wat op U vertrou!”
Mag ons Job se woorde sonder twyfel kan nasê:
Job 13:15 “Kyk, al wil Hy my ombring—ek hoop op Hom…”
Kom ons bid dat die Here ons help om ons geloof te versterk.
Seëngroete, Vic