Vraag: Sal die Here my kwalik neem as ek finansieel sukkel en nie meer tiendes aan die kerk kan gee nie? Ek is bang Hy straf my en weerhou Sy seëninge omdat ek van Hom “steel”. My pastoor gebruik Maleàgi 3:8 om te sê ek moet bly gee ongeag my omstandighede. Ek is bang ek word vervloek.
Antwoord: Moenie jouself bekommer nie; die Here sal nie Sy seëninge van jou weerhou op grond van jou omstandighede nie. Hy is jou Vader en ken jou omstandighede baie beter as jyself. Eerstens sal ek jou aanraai om altyd jou Bybel eers te raadpleeg oor enigiets wat enige iemand aan jou mag sê — dit sluit my in. Bid eers dat die Heilige Gees jou leiding sal gee. Jesus het ons belowe dat die Heilige Gees ons sal lei; ons moet net bereid wees om te hoor wat Hy wil sê, al is dit nie altyd wat ons wil hoor nie.
Die Konteks van Maleàgi
Kom ons gaan na die teksgedeelte waarna verwys word:
Maleàgi 3:8-9: “Mag ‘n mens God beroof? Want julle beroof My, en julle sê: Waarin het ons U beroof? In die tiendes en die offergawe. Met die vloek is julle belaai, en tog beroof julle My, julle, die hele nasie!”
Kyk na die konteks, dan sal jy merk dat die Here met mense praat wat onder die Ou-Testamentiese Wet is, en nie met gelowiges tydens die Kerk-dispensasie nie. Hy praat hier met die volk Israel. Moet nooit die fout maak om Israel met die Kerk te verwar nie; hulle is nie een en dieselfde entiteit nie. Die Kerk is die Kerk en Israel is die volk Israel. Jode wat die Evangelie glo, word deel van die Kerk, al is hulle Israeliete. (Lees gerus die artikel “Het die Kerk, Israel as God se verbondsvolk vervang?”).
Vrygekoop van die Vloek
Ons lewe nou tydens die Dispensasie van die Kerk, nie die Dispensasie van die Wet nie. Dus moet jy nie toelaat dat iemand jou weer onder die juk van die Wet inbring nie.
Galasiërs 3:10 “Want almal wat uit die werke van die wet is, is onder die vloek; want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat geskryf is in die boek van die wet om dit te doen nie.”
Galasiërs 3:13: “Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons ‘n vloek te word — want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat aan ‘n hout hang —”
Onthou, Jesus het in ons plek aan die kruis gesterf sodat ons in Hom geregtig verklaar kan word.
2 Korintiërs 5:21: “Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.”
As ons geregtig verklaar is, hoe kan ons dan onder ‘n vloek wees? Indien wel, dan was Jesus se kruisdood nie genoeg nie. Of al jou sondes is aan die kruis betaal (wat beteken dat jy nie meer onder God se vloek kan kom nie), òf niks van jou sondes is betaal nie. Jy as Christen kan egter met sekerheid weet dat Jesus se kruisdood voldoende was.
Johannes 19:30: “En toe Jesus die asyn geneem het, sê Hy: Dit is volbring! En Hy het sy hoof gebuig en die gees gegee.”
Die Tiende-stelsel versus Genade
Iemand wat die leerstelling van die tiendes op jou wil afdwing, neem jou terug na die Ou-Testamentiese wet toe. Ons as Christene is nie onder die wet nie, maar onder die genade. In die Briewe aan die Kerk gee Paulus duidelike riglyne wat die verpligte tiende-stelsel vervang:
2 Korintiërs 9:7: “Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of uit dwang nie, want God het ‘n blymoedige gewer lief.”
Soos jy kan opmerk, word nêrens ‘n persentasie genoem nie. Dit is ‘n saak van die hart. Die Here gaan nie van jou verwag om te gee wat jy nie het nie:
2 Korintiërs 8:12: “Want as die bereidwilligheid daar is, is dit welgevallig volgens wat iemand besit, nie volgens what hy nie besit nie.”
Die Here verwag dat ons Hom sal verheerlik met alles wat ons is. As jy nie geld het nie, vra die Here om jou te wys waarmee jy wel behulpsaam kan wees, soos jou tyd of talente.
Titus 3:14: “Ons mense moet ook leer om vir die noodsaaklike behoeftes goeie werke voor te staan, sodat hulle nie onvrugbaar mag wees nie.”
En laastens, onthou dat jy nie geseën word oor wie jy is of wat jy doen nie, maar oor wie jy in Christus is:
Efesiërs 1:3: “Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus,”
Vertrou op die Here en laat Hom toe om jou deur Sy Gees te lei.
Seëngroete, Vic