Israel se Verwerping en die Kleed van Geregtigheid
Die gelykenis van die bruilof volg op die gelykenis van die twee seuns en die gelykenis van die landbouers. Hierdie drie gelykenisse vorm ‘n eenheid. Die gelykenis van die bruilof demonstreer dat die volk Israel as gevolg van hulle ongeloof tydelik tersyde gestel gaan word en dat die Evangelie na al die nasies sal uitgaan. Die leser word aangeraai om die artikels gelykenis van die twee seuns en die gelykenis van die landbouers te lees om die nodige agtergrond te bekom.
Kom ons kyk na die teksgedeelte:
Matt.22:1 “En Jesus het weer deur gelykenisse met hulle begin spreek en gesê: 22:2 Die koninkryk van die hemele is soos ‘n koning wat ‘n bruilof vir sy seun berei het”
Opmerking: Dit blyk duidelik dat die Koning God die Vader is en dat Jesus Christus die Seun verteenwoordig. Die bruilof sal tydens of kort na die aanvang van Christus se Messiaanse Koninkryk op aarde gevier word.
Matt.22:3 “en sy diensknegte uitgestuur het om die genooides na die bruilof te roep, en hulle wou nie kom nie.”
Opmerking: Hierdie is die eerste van drie opeenvolgende uitnodigings wat deur die Vader uitgestuur is. Die eerste uitnodiging verteenwoordig die prediking van Johannes die Doper, Jesus Christus self en die twaalf apostels. As geheel het die volk Israel die uitnodiging na die Koninkryk verwerp. Hulle was nie bereid om Jesus as hul Messias en Verlosser te aanvaar nie, wat daartoe gelei het dat Hy buitekant Jerusalem gekruisig is.
Matt.22:4 “Weer het hy ander diensknegte uitgestuur met die boodskap: Sê vir die genooides: Kyk, my maaltyd het ek berei, my beeste en vetgemaakte vee is geslag en alles is gereed. Kom na die bruilof. 5 Maar hulle het hul daaraan nie gesteur nie en weggegaan, een na sy eie stuk land en ‘n ander na sy handelsaak. 6 En die origes het sy diensknegte gegryp en mishandel en doodgemaak.”
Opmerking: Die tweede uitnodiging verteenwoordig die tydperk in die boek Handelinge, nadat Jesus reeds opgevaar het na die hemel. Die Evangelie is eerste aan Israel verkondig, maar hulle het die aanbod verwerp. Die meeste het eenvoudig voortgegaan met hulle normale lewens, terwyl ander die boodskap met geweld teëgestaan en die apostels mishandel of gedood het.
Mat 22:7 “Toe die koning dit hoor, het hy kwaad geword en sy manskappe gestuur en daardie moordenaars omgebring en hulle stad aan die brand gesteek.”
Opmerking: God was regverdiglik verontreg deur die optrede van Israel. Hy het die Romeinse generaal Titus as instrument gebruik om Jerusalem in 70 n.C. te verwoes. God is soewerein en kan enige mag aanwend om Sy oordele uit te voer.
Matt.22:8 “Daarop sê hy vir sy diensknegte: Die bruilof is wel gereed, maar die genooides was dit nie werd nie. 9 Gaan dan op die kruispaaie en nooi almal wat julle mag vind, na die bruilof.”
Opmerking: Weens hul ongeloof word Israel tydelik tersyde gestel, en die Evangelie van God se genade word nou hoofsaaklik aan die heidennasies verkondig. Hoewel daar Joodse gelowiges is wat deel vorm van die Kerk, is hulle tans ’n minderheid. Hierdie tersydestelling is egter nie permanent nie.
Rom.11:11 “Ek vra dan: Het hulle miskien gestruikel om te val? Nee, stellig nie! Maar deur hulle val het die saligheid tot die heidene gekom om hulle jaloers te maak… 11:25 Want ek wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid nie moet weet nie, sodat julle nie eiewys mag wees nie: dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene ingegaan het; 11:26 en so sal die hele Israel gered word…”
Sodra die spesifieke getal gelowiges wat die Kerk uitmaak volledig is, sal die Here die Kerk deur die wegraping verwyder en weer met Israel begin werk tydens die Groot Verdrukking.
Mat.22:10 “En daardie diensknegte het uitgegaan op die paaie en almal versamel wat hulle gevind het, slegtes sowel as goeies, en die bruilofsaal het vol gaste geword. 11 En toe die koning ingaan om na die gaste te kyk, sien hy daar iemand wat nie ‘n bruilofskleed aan het nie. 12 En hy sê vir hom: Vriend, hoe het jy hier ingekom sonder ‘n bruilofskleed aan? En hy kon geen woord sê nie. 13 Toe sê die koning vir sy dienaars: Bind sy hande en voete, neem hom weg en werp hom in die buitenste duisternis. Daar sal geween wees en gekners van die tande. 14 Want baie is geroep, maar min uitverkies.”
Opmerking: Die Evangelie is vir almal — slegtes sowel as goeies. In daardie tyd was dit die gewoonte dat die gasheer self die bruilofskleed verskaf het. Spiritueel beteken dit dat ons slegs deur die toegerekende geregtigheid van Christus toegang tot God se teenwoordigheid het. Ons het geen eie geregtigheid nie (Gal 3:27).
Iemand wat enigiets by die Evangelie voeg om sy aanvaarbaarheid by God te verbeter, is soos die man sonder die kleed. Hy vertrou op sy eie werke in plaas van God se voltooide werk. Verlossing gaan oor wat God vir die mens gedoen het, nie wat die mens vir God doen nie. Om werke as vereiste vir wedergeboorte by geloof te voeg, is om die ware Evangelie te vervals.
Gal.1:8 “Maar al sou ons of ‘n engel uit die hemel julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ‘n vervloeking wees!”
“Baie is geroep maar min uitverkies” beteken dat God almal roep, maar min aanvaar Sy aanbod in geloof. Dit bly ons plig om die Evangelie aan die hele mensdom te verkondig.
Mar 16:15 “En Hy het vir hulle gesê: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom.”
Hoewel hierdie gelykenis histories op Israel gerig was, is die ernstige waarskuwing teen selfgeregtigheid en die noodsaaklikheid van die “bruilofskleed” (Christus se geregtigheid) van deurslaggewende belang vir ons vandag.
Seën Groete, Vic
Vergelyking: Eie Geregtigheid vs. Toegerekende Geregtigheid
| Kenmerk | Eie Geregtigheid (Die Man sonder Kleed) | Toegerekende Geregtigheid (Die Bruilofskleed) |
| Bron | Die mens se eie goeie werke en wetsonderhouding. | Die voltooide werk van Jesus Christus alleen. |
| Status voor God | Beskou as “besoedelde klere” (Jes 64:6). | Beskou as volmaak en heilig (2 Kor 5:21). |
| Basis van Aanvaarding | Verdienste (wat ek doen). | Genade (wat Christus gedoen het). |
| Motivering | Vrees of trots (om gered te word). | Liefde en dankbaarheid (omdat ek gered is). |
| Resultaat | Veroordeling en “buite-duisternis”. | Toegang tot die bruilof en die ewige lewe. |