Krag in ons Woorde

Krag in ons Woorde?

Daar is deesdae ‘n gewilde konsep in die kerk wat beweer dat ons woorde krag het. Volgens hierdie siening kan ons, indien ons genoeg geloof het en die regte woorde uitspreek, rykdom, gesondheid en geluk verkry deur positiewe uitsprake oor ons omstandighede te maak. Daar word ook beweer dat mens nooit negatiewe uitsprake mag maak nie, aangesien woorde kwansuis die vermoë het om in die werklikheid te manifesteer. Die argument lui dat aangesien God die wêreld deur Sy woord geskape het, en ons in Sy beeld geskape is, ons in die “God-klas” val en dus self met ons woorde kan skep.

Die vraag wat ons egter moet beantwoord, is of hierdie leerstelling skriftuurlik geregverdig kan word. Of is dit maar net ‘n moderne vorm van gnostisisme? As Christene moet ons ons lewens inrig volgens die Woord van God alleen.
2 Timoteus 3:16-17 “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.”

Indien hierdie leerstelling nie uit die Skrif geregverdig kan word nie, moet ons vasstel waar dit vandaan kom en wie die inspirasie daaragter is. Hierdie konsep is veral gewild onder die Woord-Geloof (Word-Faith) proponente. Ons moet nie alles glo wat verkondig word nie, maar dit eers met die Bybel vergelyk om verleiding te voorkom.
2 Petrus 2:1-3 “Maar daar was ook valse profete onder die volk, net soos daar onder julle valse leraars sal wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer, en ook die Here wat hulle gekoop het, verloën en ‘n vinnige verderf oor hulleself bring; en baie sal hulle verderflikhede navolg, en om hulle ontwil sal die weg van die waarheid gelaster word; en uit hebsug sal hulle met verdigte woorde voordeel uit julle trek. Oor hulle is die oordeel van lankal af nie werkeloos nie, en hulle verderf sluimer nie.”
Ons moet soos die mense in Beréa wees wat alles wat Paulus verkondig het, daagliks met die Skrifte vergelyk het (Handelinge 17:10-11).

1. Is Geloof ‘n “Krag” wat God gebruik?

Eerstens glo hierdie mense dat geloof ‘n krag is wat sowel God as die mens kan aanwend. Hierdie aanname is fundamenteel foutief. God het nie geloof nodig nie; Hy is die almagtige Skepper. Geloof is ’n vertroue in iemand groter as jouself. As God geloof nodig sou hê, in wie sou Hy Sy geloof plaas? In Genesis 1 sien ons dat God spreek en dit gebeur weens Sy almag, nie weens “geloof in Sy eie woorde” nie.
Markus 11:22 “Jesus antwoord en sê vir hulle: Julle moet geloof in God hê.”
Ware geloof het God as objek. Die krag lê nie in die geloof self nie, maar in die Persoon op wie die geloof gerig is. Om “geloof in jou geloof” te hê, is niks anders as afgodediens nie. Dit vervang God met ’n menslike vermoë. As God verplig is om ons gebede te verhoor bloot omdat ons “genoeg geloof” het, dan is Hy ondergeskik aan ons wil. Dit is godslasterlik.
Jesaja 46:9-10 “Dink aan die dinge wat tevore was, van ouds af, dat Ek God is, en daar is geen ander nie; Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie; wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen;”

2. Die Krag van Woorde en die “God-klas” leuen

Tweedens word beweer dat woorde krag vrystel om dinge te skep. Hierdie konsep kom nie uit die Bybel nie, maar uit die okkultisme en metafisiese kultusse. Dave Hunt verduidelik in sy boek Occult Invasion dat hierdie tegniek van “positiewe belydenis” presies is wat shamans (toordokters) vir duisende jare praktiseer.
Johannes 1:1-3 “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Hy was in die begin by God. Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.”

Ons is skepsels, nie mede-skeppers nie. As ons woorde werklik skeppingskrag gehad het, sou die wêreld in totale chaos gewees het. Hoekom dra die predikers wat hierdie leer verkondig steeds brille of word hulle siek? Hul eie realiteit weerspreek hul leerstelling. Hulle moet mense manipuleer vir geld (“seed faith”) omdat hul woorde nie rykdom uit die niet kan skep nie.

3. Is die mens ‘n “klein godjie”?

Die derde bewering is dat die mens in die “God-klas” geskape is. Hoewel die mens na die beeld van God geskape is, besit ons nie ‘n goddelike natuur of attribute nie. Net God is God.
Jesaja 43:10 “…voor My is geen God geformeer nie, en ná My sal daar geeneen wees nie.”
Jesaja 44:6 “…Ek is die Eerste, en Ek is die Laaste, en buiten My is daar geen God nie.”

Psalm 8:5 stel dit duidelik dat die mens “’n weinig minder as ’n goddelike wese” gemaak is. Hoe kan ons dan gode wees? Om te glo dat ons gode is, is om die oorspronklike leuen van die slang in die tuin van Eden te aanvaar (Genesis 3:5).

Hierdie dwaalleraars gebruik dikwels Psalm 82:6 (“Julle is gode”) as ‘n proefteks. Die konteks wys egter dat God hier die regters van Israel aanspreek wat as Sy verteenwoordigers moes optree. Vers 7 sê onmiddellik daarna: “Nogtans sal julle sterwe soos mense.” Hulle was dus nie goddelik nie. Net so het Moses as ‘n “god” vir Aäron opgetree (Eksodus 4:16) slegs in die sin dat hy God se woorde aan hom oorgedra het, nie dat hy aanbid moes word nie.

4. Die “Wet van Geloof” en Positiewe Uitsprake

Daar word beweer dat enigiemand hierdie “wet van geloof” kan toepas, selfs ongelowiges. Dit bewys dat dit ‘n okkultiese wet is en nie Bybelse geloof nie. Bybelse geloof onderwerp hom aan die wil van God. Jesus het ons geleer om te bid: “Laat U wil geskied” (Lukas 11:2). Vir Woord-Geloof leraars is hierdie gebed ‘n teken van ongeloof, maar vir die ware Christen is dit die hoogste vorm van vertroue.

Jakobus 4:3-4 “Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle verkeerd bid, om dit in julle welluste deur te bring. Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie?”
Hierdie leerstelling voed menslike gierigheid. Dit gaan nie oor wat God wil hê nie, maar oor wat die mens van God kan kry. Die Bybel waarsku dat geldgierigheid die wortel van alle kwaad is (1 Timoteus 6:10).

5. Moet ons negatiewe uitsprake vermy?

As negatiewe uitsprake sleg was, sou Dawid in die Psalms en Paulus in sy briewe gefaal het. Paulus het geroem in sy littekens en swakhede (2 Korintiërs 11:16-33). Jesus het ons gewaarsku dat ons verdrukking in die wêreld sal hê (Johannes 16:33). Om sonde te bestraf of dwaalleer te weerlê, word dikwels as “negatief” beskou, maar dit is ‘n Bybelse opdrag.
2 Timoteus 4:2 “verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering;”

Waar kom hierdie leerstelling vandaan?

John MacArthur verduidelik in Charismatic Chaos dat hierdie beweging sy wortels het in groepe soos Christian Science, New Thought en Swedenborgianism—metafisiese kultusse wat niks met die klassieke Christelike geloof te doen het nie. Dit is ‘n vermenging van mistisisme en gnostisisme. In die Nuwe Era-beweging staan dit bekend as die “Law of Attraction”.

Bly weg van hierdie leerstellings af. Bekende predikers soos Kenneth Copeland, Joel Osteen, en plaaslik Ray McCauley, propageer weergawes van hierdie leer. Ons moet seker maak ons geloof in die God van die Bybel is, en nie in die krag van ons eie woorde nie.

Seëngroete, Vic

Deel met ander asb.