Soeke na Rykdom

Soeke na Rykdom

Vraag: Is dit verkeerd om rykdom na te jaag? Dit is tog wat almal deesdae doen, maar ons pastoor waarsku ons gereeld daarteen. Ek vermoed hy het voeling met die hedendaagse lewe verloor. Antwoord asseblief!

Antwoord: Hierdie is ‘n vraag waarmee baie mense worstel, en soos altyd moet ons na die Bybel gaan vir die antwoord. Ek moet u weereens waarsku om slegs die Bybel as u finale gesag te raadpleeg en nie op menslike opinies staat te maak nie. Mense kan foute begaan en u sodoende mislei. Om die Bybel te bestudeer en te weet wat daarin staan, is een van die grootste gawes wat God die mens gegee het, dog word dit dikwels die meeste afgeskeep. Kom ons kyk wat die Woord sê:
1 Timoteus 6:3-5 “As iemand iets anders leer en nie instem met die gesonde woorde van onse Here Jesus Christus en met die leer wat volgens die godsaligheid is nie, dié is verwaand en verstaan niks nie, maar het ‘n sieklike sug na twisvrae en woordestryd waaruit ontstaan afguns, twis, lasteringe, bose agterdog, nuttelose stryery van mense wat verdorwe in hulle verstand en van die waarheid beroof is en dink dat die godsaligheid winsgewend is. Onttrek jou aan sulke mense.”

Soos uit bostaande teks afgelei kan word, gaan die opinies van mense niks tel wanneer ons eendag voor God moet verskyn om verslag te doen oor ons lewens nie. Die maatstaf wat gebruik sal word, is die Bybel en of ons God se Woord gehoorsaam het. Baie mense gebruik godsdiens as ’n middel om materiële voorspoed te bekom, maar hulle misgis hulleself grootliks. Teksgedeeltes soos hierdie word nie gereeld genoeg in gemeentes gepreek nie, moontlik omdat baie predikers self voor die afgod Mammon gekwyn het.
1 Timoteus 6:6-8 “Maar die godsaligheid saam met vergenoegdheid is ‘n groot wins. Want ons het niks in die wêreld ingebring nie; dit is duidelik dat ons ook niks daaruit kan wegdra nie. Maar as ons voedsel en klere het, moet ons daarmee vergenoeg wees.”

Hoeveel hedendaagse Christene sou werklik tevrede wees met slegs die basiese lewensbehoeftes? Kom ons wees eerlik: veral in die Westerse wêreld gaan dit vir die meeste mense oor status, geld en ’n gerieflike lewe. Daardeur vergeet hulle Jesus se ernstige waarskuwings teen die gevare van rykdom en die liefde vir geld (Matteus 19:24; Markus 10:24-25; Lukas 18:25; Johannes 5:44). Lees asseblief hierdie verse self; dit is baie insiggewend.

1 Timoteus 6:9-10 “Maar die wat ryk wil word, val in versoeking en strikke en baie dwase en skadelike begeerlikhede wat die mense laat wegsink in verderf en ondergang. Want die geldgierigheid is ‘n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor.”
Ons hoor gereeld van mense wat selfmoord pleeg weens geldelike probleme. Bedrog, diefstal en korrupsie vier hoogty as gevolg van geldgierigheid — selfs binne die kerk. Die najaag van geld het al talle gesinne vernietig. Kinders word dikwels groot sonder ouers wat hulle in die weë van die Here opvoed, omdat die ouers besig is om Mammon te dien. Mammon is ‘n ongenaakbare slawedrywer wat sy slawe sonder genade dryf en hulle sodoende weerhou van die vryheid in Jesus Christus.

Kyk maar na TBN en soortgelyke kanale; u sal vinnig opmerk dat die onderwerp wat die meeste bespreek word, geld is. Vir sulke predikers het godsdiens ’n winsgewende bedryf geword.
1 Timoteus 6:11 “Maar jy, man van God, vlug van hierdie dinge weg, en jaag ná die geregtigheid, godsaligheid, geloof, liefde, lydsaamheid, sagmoedigheid.”

Dit is nie verkeerd om te werk en goeie geld te verdien nie, maar die doel daarvan moet wees om in huidige behoeftes te voorsien en die oorskot te belê in die verspreiding van die Evangelie. Die Here het ons met gawes geseën om vir Hóm te leef, nie vir onsself nie. Geld moet ons dien; ons moet God dien.

Die meerderheid mense streef egter nie daarna om die Evangelie verkondig te kry nie, maar jaag rykdom na. Soos die bostaande teks aandui, word ons nie aangesê om rykdom na te jaag nie, maar wel geregtigheid, geloof en liefde (vrugte van die Gees). As u pastoor teen hierdie dinge waarsku, behoort u dankbaar te wees, want sulke leraars is vandag in die minderheid. Die Skrif is duidelik: om soos die wêreld te wil wees, maak mens ’n vyand van God.
Jakobus 1:27 “Reine en onbesmette godsdiens voor God en die Vader is dít: om wese en weduwees in hulle verdrukking te besoek en jouself vlekkeloos te bewaar van die wêreld.”
1 Johannes 2:15-17 “Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie. Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld. En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.”

Om ryk te wees, is nie per se ‘n sonde nie, maar om rykdom na te jaag is wel. Rykdom moet as ’n instrument vir die Evangelie gebruik word. Daar is ’n treffende sêding: “Wys my die inhoud van ‘n man se tjekboek, dan sal ek jou sê wie hy dien.” Dit waarop u tyd, geld en verstand spandeer, is u ware god.

Ons leef in ’n tydperk van ongekende materialisme wat selfs die kerk binnegedring het. Baie mense aanbid nie Jesus vir wie Hy is nie, maar vir wat Hy hulle kan gee. Die Bybel waarsku dat dinge in die laaste dae presies so sal wees:
2 Timoteus 3:1-4 “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars… meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God;”

Hierdie profesie is ’n bewys van die Bybel se goddelike akkuraatheid. In baie gevalle word Christus op Sondae bely, terwyl Mammon gedurende die week gedien word. ’n Goeie toets is om jouself af te vra: Waaraan koppel ek my status en geluk? Is dit aan aardse besittings, of aan Jesus Christus en die bestudering van Sy Woord?

Dank die Here vir ’n pastoor wat u die waarheid vertel!

Seëngroete, Vic

Deel met ander asb.