Vryheid van Wettisisme: Wandel deur die Gees
Wettisisme is die begeerte om die toegerekende geregtigheid — wat God op grond van die Here Jesus Christus se voltooide werk aan die kruis aan ons skenk — te probeer verbeter. Dit is ’n poging om ons eie werke daaraan toe te voeg, sodat die Here ’n groter rede kan hê om ons as regverdig te beskou. So ’n persoon vergeet dat God ons slegs regverdig verklaar op grond van ons geloof in die voltooide werk van Christus, en niks anders nie. Dit is God wat in die Here Jesus Christus alles gedoen het om die mens te verlos; die mens kan niks tot sy eie verlossing bydra nie. Hy kan slegs die gawe van die ewige lewe as geskenk by God deur geloof aanvaar.
Selfs die apostel Petrus het op ’n stadium hierdie fout begaan. Paulus moes hom openlik berispe omdat die Evangelie van God se genade op die spel was en ander broeders deur sy misstap meegesleur is.
Gal 2:11 “Maar toe Petrus in Antiochíë gekom het, het ek hom openlik teëgestaan, omdat hy veroordeeld gestaan het. 2:12 Want voordat sommige van Jakobus af gekom het, was hy gewoond om saam met die heidene te eet; maar ná hulle koms het hy hom teruggetrek en hom eenkant gehou uit vrees vir die wat uit die besnydenis is. 2:13 En saam met hom het ook die ander Jode geveins, sodat selfs Barnabas hom laat meevoer het deur hulle geveins. 2:14 Maar toe ek sien dat hulle nie reguit loop volgens die waarheid van die evangelie nie, het ek vir Petrus in teenwoordigheid van almal gesê: As jy wat ‘n Jood is, soos ‘n heiden lewe en nie soos ‘n Jood nie, waarom dwing jy die heidene om soos Jode te lewe? 2:15 Ons wat van nature Jode en nie sondaars uit die heidene is nie, 2:16 terwyl ons weet dat die mens nie geregverdig word uit die werke van die wet nie, maar alleen deur die geloof in Jesus Christus, selfs ons het in Christus Jesus geglo, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof in Christus en nie uit die werke van die wet nie; omdat uit die werke van die wet geen vlees geregverdig sal word nie. 2:17 Maar as ons wat streef om in Christus geregverdig te word, self ook sondaars bevind is, is Christus dan ‘n dienaar van die sonde? Nee, stellig nie! 2:18 Want as ek weer opbou what ek afgebreek het, dan betoon ek myself ‘n oortreder; 2:19 want deur die wet is ek vir die wet dood om vir God te lewe. 2:20 Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het. 2:21 Ek verwerp nie die genade van God nie; want as daar geregtigheid deur die wet is, dan het Christus tevergeefs gesterwe.”
Soos uit bostaande teksgedeelte waargeneem kan word, het Petrus uit vrees vir mense toegegee aan wettiese individue wat vanaf Jerusalem by hulle aangesluit het. Hy het op daardie oomblik nie meer in die waarheid van die Evangelie gewandel nie. Dit was ’n ernstige misstap, en daarom het Paulus hom voor al die broeders aangespreek sodat Petrus tot inkeer kon kom en weer besef dat ’n mens slegs regverdig verklaar word deur die Evangelie te glo.
Rom 3:28 “Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof sonder die werke van die wet.”
Werklike geestelikheid kom nie deur die wet tot stand nie, maar deur die Gees van God. Om ’n stel uiterlike reëls te gehoorsaam, maak ’n mens nie werklik geestelik nie. Ware geestelikheid vind slegs plaas wanneer ’n persoon in die Heilige Gees wandel.
Rom 7:6 “Maar nou is ons ontslae van die wet waardeur ons gebonde was, aangesien ons dit afgesterf het, sodat ons dien in die nuwigheid van die Gees en nie in die oudheid van die letter nie. 8:1 Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.”
So ’n persoon word van binne deur die Heilige Gees verander en is dus nie onder die wet nie. Die Gees lei die gelowige in die “wet van Christus”, wat ware liefde as doel het. Die gelowige rig dan sy lewenswandel volgens die Gees se leiding. Boonop sal hy vind dat hy ’n heilige lewe wil lei, goeie dade aan ander wil bewys en vir God wil getuig, omdat die Gees hom aanspoor. Die Heilige Gees is die lewenskrag om die wil van die Vader te doen — nie die wet nie.
Rom 8:14 “Want almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God. Gal 5:16 Maar ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie.”
Die wet was nooit gegee om die mens met God te versoen nie. Dit is gegee om die sondigheid van die mens uit te lig en hom tot Jesus Christus te lei. Enigeen wat eerlik is, weet dat hy nooit die wet volkome kan gehoorsaam nie; sonder God as Verlosser staan so ’n persoon skuldig voor ’n heilige God. Die wet is dus ons tugmeester na Christus.
Gal 3:24 “Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof. 3:25 Maar nou dat die geloof gekom het, is ons nie meer onder ‘n tugmeester nie.”
Mense wat die wet gebruik om hulleself aanvaarbaar vir God te maak, verwar die wyse van ware geestelikheid met die resultate daarvan. ’n Geestelike persoon sal wel ’n waardestelsel hê en nie losbandig lewe nie, maar sy motivering kom van die Heilige Gees en nie van ’n lys reëls nie.
Rom 8:2 “Want die wet van die Gees van die lewe in Christus Jesus het my vrygemaak van die wet van die sonde en die dood. 8:3 Want God het wat vir die wet onmoontlik was, omdat dit kragteloos was deur die vlees deur sy eie Seun in die gelykheid van die sondige vlees te stuur, en dit ter wille van die sonde, die sonde veroordeel in die vlees, 8:4 sodat die reg van die wet vervul kon word in ons wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees. 8:5 Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is, geestelike dinge. 8:6 Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede,”
Al wat ons aanvaarbaar maak voor God, is die feit dat Jesus aan die kruis gesterf het en dat ons die geskenk van die ewige lewe in geloof aanvaar het.
Rom 8:1 “Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.”
As ons in Christus is, is ons volkome aanvaarbaar vir God. Ons kan niks byvoeg om ons stand voor Hom te verbeter nie. Wanneer ons hierdie vryheid besef, kan die Gees deur ons werk om ons meer soos Christus te maak — iets wat die wet nooit kan vermag nie.
Joh 8:36 “As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees.”
Die Heilige Gees lei ons in heiligmaking. Ons moenie na die wet of die vlees draai om dit te verseker nie; dit sal slegs op mislukking uitdraai.
Die vlees (ons sondige natuur) bring werke voort wat na die dood lei (Gal 5:18-21). Die Gees daarenteen bring vrug voort (Gal 5:22). Niemand word regverdig verklaar deur wetsonderhouding nie, maar slegs deur die Evangelie te glo (Rom 3:20). Mense wat in sonde lewe sonder dat dit hulle pla, moet hulleself ondersoek om seker te maak dat hulle in die Gees wandel. Die Heilige Gees sal ’n gelowige altyd na heiligheid lei. Gelowiges wat in sonde leef, sal getugtig word. Die Here sal hulle nie in hulle sonde laat voortgaan nie, want dit is Sy werk om hulle in die waarheid te lei.
Heb 12:6 “Want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem. 12:7 As julle die tugtiging verdra, behandel God julle as seuns; want watter seun is daar wat die vader nie tugtig nie?”
Ter Afsluiting: Ons moenie na die wet kyk vir regverdiging of heiligmaking nie, maar ons moet in geloof na Jesus Christus kyk. Ons is vrygekoop om vir Hom te leef.
Gal 3:26 “Want julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus;”
1Ko 6:19 “Of weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie? 6:20 Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.”
(Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Heiligmaking op grond van genade deur geloof” te lees.)
Seën Groete, Vic