Kategorie se argiewe: Christelike Leerstellings

Die Dispensasie van die Wet. Deel 1

Historiese Konteks van die Wet van Moses:

Die aangebreek en die einde van die Dispensasie van die Wet:
Die Dispensasie van die Wet begin toe God die Wet van Moses op die berg Sinai aan Moses gegee het, en strek tot en met die Here Jesus Christus se dood aan die kruis op Golgota. (Ex.19:3; Matt.27:56; Joh.20:30; Hand.2)

Die Wet van Moses was slegs aan Israel as volk gegee en nie aan enige ander persoon of nasie nie:
Ex.19:1 “In die derde maand ná die uittog van die kinders van Israel (die Skrifte lê spesifiek klem op hierdie feit)uit Egipteland, op dieselfde dag, het hulle in die woestyn Sinai gekom —2 hulle het van Ráfidim af opgebreek en in die woestyn Sinai gekom en in die woestyn laer opgeslaan. En Israel het daar teenoor die berg laer opgeslaan. 3 Maar Moses het opgeklim na God toe, en die HERE het hom van die berg af toegeroep en gesê: So moet jy aan die huis van Jakob sê en aan die kinders van Israel verkondig: 4 Julle het self gesien wat Ek aan die Egiptenaars gedoen het, en dat Ek julle op arendsvlerke gedra en julle na My toe gebring het. 5 As julle dan nou terdeë na my stem luister en my verbond hou, sal julle my eiendom uit al die volke wees, want die hele aarde is myne. 6 En júlle sal vir My ‘n koninkryk van priesters en ‘n heilige nasie wees. Dit is die woorde wat jy aan die kinders van Israel (nie aan die heiden nasies wat ons insluit nie) moet meedeel. 7 En Moses het gekom en die oudstes van die volk laat roep en hulle al hierdie woorde voorgehou wat die HERE hom beveel het. 8 Toe antwoord die hele volk eenparig en sê: Alles wat die HERE gespreek het, sal ons doen. En Moses het die woorde van die volk aan die HERE oorgebring. 9 En die HERE het met Moses gespreek: Kyk, Ek sal in ‘n dik wolk na jou toe kom, dat die volk kan hoor as Ek met jou spreek, en hulle ook vir altyd aan jou kan glo. Want Moses het die woorde van die volk aan die HERE meegedeel.”
Hierdie was ‘n formele voorwaardelike, wedersydse onderneming wat tussen God en die volk Israel aangegaan is. Die Mosaieke Verbond is die enigste verbond wat voorwaardelik is. Al die ander verbonde wat God met Israel aangegaan het was onvoorwaardelik. (Die leser word ten sterkste aangeraai om die illustrasie “God se verbond met Israel” te bestudeer.)

Lees meer Die Dispensasie van die Wet. Deel 1

Rede vir lang artikels, ‘n Bybelse perspektief

God gebruik sistematiese bestudering van korrekte Bybelse leerstellings om gelowiges tot volwassenheid te lei. Sommige mense kla soms dat my artikels te lank is en dat hulle nie altyd die tyd kry om dit te lees nie. My antwoord aan hierdie mense is dat ek God se wil moet uitvoer en die resultaat by Hom los. Hierdie bediening is nie ‘n verbruikersgedrewe bediening nie. Ek soek nie roem nie, maar eerder God se goedkeuring. Ek poog om die Skrifte met die diepte waarmee die Here wil hê Sy woord verkondig moet te verkondig. Anders hoe gaan die mens God in diepte leer ken indien hulle nie aan korrekte leerstelling blootgestel word en dit leer verstaan nie. Daar is baie mense wat smag om die Skrifte in diepte te ken en hierdie webtuiste is juis aan hierdie mense gerig. By implikasie beteken dit noodwendig dat hierdie webtuiste nooit gewild gaan wees nie. Ons verkondig nie wat mense wil hoor nie, maar eerder wat God wil hê mense moet hoor. Al beteken dit dat die artikels lank gaan wees. Hoe anders kan werklike heiligmaking plaasvind indien dit nie op in diepte Bybelstudie en korrekte leerstellings gebaseer is nie?
2Kor.4:16 Daarom gee ons nie moed op nie, maar al vergaan ons uiterlike mens ook, nogtans word die innerlike mens dag ná dag vernuwe.
Ef.4: 13 “totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot ‘n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus; 14 sodat ons nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering, deur die bedrieëry van die mense, deur sluheid om listiglik tot dwaling te bring;

Lees meer Rede vir lang artikels, ‘n Bybelse perspektief

1Joh.3:9 Elkeen wat uit God gebore is, doen geen sonde nie

Vraag: Kan jy asb Joh.3:9 aan my verduidelik. Indien ‘n persoon wat uit God gebore is nie volgens Johannes kan sonde pleeg nie, hoe is dit dan dat ek en almal wat ek ken dan nog steeds sonde pleeg. Is die feit dat ek nog steeds sonde pleeg ‘n bewys dat ek nooit werklik wedergebore is nie? Ek glo die evangelie soos wat jy dit op jou webtuiste weergee, maar ek pleeg nog steeds sondes. Of Johannes weerspreek homself of ek is nooit werklik wedergebore nie. Kan jy my asb met raad of inligting voorsien. Weereens baie dankie!

Antwoord: Die Bybel is deur die Heilige Gees geïnspireer, en is as sulks foutloos in die oorspronklike tale. Verder kan mens slegs met die Heilige Gees se hulp die skrifte korrek uitgelê. Indien die Bybel korrek verklaar word, kan daar geen weersprekings wees nie. Beweerde weersprekings is die resultaat van verkeerde Bybel interpretasie. So moenie bekommerd wees nie, Johannes het homself nie weerspreek nie en jy is ook nie ongered nie. Jy bevind jouself nou in fase twee van jou verlossing, waar jy deur voortgesette dade van geloof God se opdragte in jou lewe moet toepas om sodoende geestelik te groei. Ek raai jou egter ten sterkste aan om die reeks van drie artikels “Heiligmaking op grond van genade deur geloof alleen” te bestudeer waar hierdie onderwerp in baie meer diepte bespreek word. Ek bid egter dat hierdie artikel jou vrese ten ruste sal lê.

Lees meer 1Joh.3:9 Elkeen wat uit God gebore is, doen geen sonde nie

Die dispensasie van belofte. Deel 2

In deel een van die artikel “Die Dispensasie van Belofte” het ons gesien hoe die Here Abraham vanuit die nasies roep en met hom ‘n onvoorwaardelike verbond gesluit het. Vanuit die Abrahamitiese Verbond (Gen.12) vloei daar drie onvoorwaardelike verbonde voort, naamlik die Die Land van Israel Verbond, (Deut.30) Die Dawidiese Verbond, (2Sam.7) asook die Die Nuwe Verbond. (Jer.31) God het ook ‘n vierde verbond met die volk Israel gesluit en dit is die Mosaïese Verbond wat nie ‘n onvoorwaardelike verbond was nie maar wat van Israel se gehoorsaamheid afhanklik was. (Ex.18; Gal.3) Die leser word ten sterkste aangeraai om die Illustrasie “Bybelse Verbonde: God se verbond met die Volk Israel” deeglik te bestudeer, asook die illustrasie “Die Sewe Dispensasies” te bestudeer. Dit is belangrik omrede die verbonde die dryfveer agter die sewe dispensasies van God se raadsplan is. Kom ons gaan nou voort waar ons in die deel een opgehou het, naamlik:

Die mens misluk weereens a.g.v. ongeloof:

a. Abraham misluk:

Abraham verlaat kanaan en gaan na Egipte waar hy oor sy vrou lieg:
Gen.12:10 “En daar was hongersnood in die land, sodat Abram na Egipte afgetrek het om daar as vreemdeling te vertoef; want die hongersnood was swaar in die land. 11 n toe hy op die punt staan om Egipte in te trek, het hy met sy vrou Sarai gespreek: Kyk, ek weet dat jy ‘n vrou is mooi van aansien. 12 As die Egiptenaars jou nou sien, sal hulle sê: Dit is sy vrou en hulle sal my doodmaak en jou laat lewe. 13 Sê tog jy is my suster, dat dit met my goed kan gaan ter wille van jou en ek om jou ontwil in die lewe kan bly. 14 Toe Abram dan in Egipte gekom het, sien die Egiptenaars dat die vrou baie mooi was. 15 Ook het die vorste van Farao haar gesien en haar by Farao geprys. En die vrou is na die paleis van Farao geneem. 16 En hy het goed gedoen aan Abram om haar ontwil, sodat hy kleinvee en beeste en esels, slawe en slavinne, eselinne en kamele in besit gekry het. 17 Maar die HERE het Farao en sy huis met groot plae besoek ter wille van Sarai, die vrou van Abram. 18 Daarop laat Farao Abram roep en hy sê: Wat het jy my nou aangedoen? Waarom het jy my nie te kenne gegee dat sy jou vrou is nie? 19 Waarom het jy gesê: Sy is my suster — sodat ek haar vir my as vrou geneem het? Daar is jou vrou dan nou; neem haar en gaan weg. 20 En Farao het aan enkele manne aangaande hom bevel gegee, en hulle het hom weggebring met sy vrou en sy hele besitting.”

Lees meer Die dispensasie van belofte. Deel 2

Die Dispensasie van Belofte. Deel Een

In die vorige artikels waarin ons die Dispensasies van God se raadsplan bespreek het, het ons gemerk dat die Dispensasie van Onskuld aangebreek het met die skepping van die mens en het met die sondeval tot ‘n einde gekom. (Gen.1:3-3:24). Die Dispensasie van Menslike Gewete het met die Sondeval begin en het met die wêreldwye vloed tot ‘n einde gekom. (Gen.4:1-8:14) Daarna het die Dispensasie van Menslike Owerheid, met die wêreldwye vloed aangebreek en met die roeping van Abraham vanuit die nasies tot ‘n einde gekom. (Gen.8:15-11:32) Die dispensasie wat ons in hierdie reeks van twee artikels gaan bespreek, is die Dispensasie van Belofte, wat aangebreek het toe God Abraham vanuit die nasies geroep het. (wat uit die verstrooide mensdom rondom die gebeure by toring van Babel, en God se meegaande oordeel, naamlik die verwarring van tale, en die meegaande verspreiding van mensdom, wat tot stamme, volke en nasies aanleiding gegee het.) Die Dispensasie van belofte word deur die Dispensasie van die Wet vervang toe God die Wet van Moses aan die volk Israel gegee het. (Gen.12-Ex.18) Die leser word ten sterkste aangeraai om die illustrasies “Die Sewe Dispensasies”, asook “God se verbonde met die Volk Israel” asseblief te bestudeer.)

Lees meer Die Dispensasie van Belofte. Deel Een

Ons verklaar en God moet doen!

Vraag: Ek het ‘n vraag en wonder of jy my kan help. Ek het op Facebook ‘n boodskap gesien wat alle ouers aanmoedig om ‘n spesifieke gebed oor hulle kinders te bid. Met die lees van die gebed het ek egter ‘n gevoel gekry dat daardie gebed nie heeltemal met die Bybel ooreenstem nie. Ek haal graag die gebed aan en vra jou om asseblief kommentaar daaroor te lewer. Die gebed lees soos volg: “Here, ek roep uit en lig my kinders (name verwyder) op na U. Vader, U het hulle aan my geleen en ek verklaar dat GEEN wapen wat teen hulle gevorm word, voorspoedig sal wees nie! Ek kanselleer elke opdrag van die vyand wat poog om hulle te vernietig. Ek spreek die bloed van Jesus oor hulle… hulle sal lewe en nie sterf nie en die werke van die Here in die land van die lewendes verkondig! Hulle SAL suksesvol wees, hulle SAL voorspoedig wees, hulle SAL guns in oorvloed ontvang, en hulle SAL U liefhê en dien met hulle hele wese! Ek verwag hierdie met vrymoedigheid en verklaar dit gedoen, in die magtige Naam van Jesus!!!Amen
Ek daag alle ouers uit om te herpos. Daar is KRAG in ons gebede vir ons kinders. Amen”

Lees meer Ons verklaar en God moet doen!

Satan werk in mense om te wil na sy Welbehae

Vraag: Ek het jou artikel “Luciferiese elite se opmars na ‘n een wêreldregering” gelees en dit baie geniet. Ek wil egter net onder jou aandag bring dat baie gedeeltes van die artikel gedupliseer is. Ek weet nie of jy kennis daarvan dra nie. Nieteenstaande hierdie feit het ek jou artikel uiters diepsinnig en leersaam gevind, en jy het daarin ‘n paar insiggewende, asook treffende stellings gemaak waaroor ek nog nooit voorheen gedink het nie. Ek haal dit graag weer aan en vra asseblief of jy bietjie meer oor hierdie onderwerp kan uitbrei. Die gedeelte waarna ek verwys lees soos volg: “Net soos wat gelowiges deur eiesinnigheid, en hoogmoed die Heilige Gees se werking in en deur ons kan verhinder, (1Thess.5:19), so ook kan die luciferiërs, Satan se inwerking teëstaan, veral indien mens onthou dat ongeredde mense slegs in die vlees, en derhalwe hulle eie belang, kan optree waar die drang na geld en mag ongehinderd is. Daarom is sommige geheime genootskappe op die oomblik antagonisties teenoor mekaar.” Ek het amper op my rug geval toe ek die stelling lees! Dit is ‘n onderwerp wat ek glo nog geensins aangeraak is nie en wat tog so belangrik is. Weereens dankie vir jou werk en die moeite wat jy moet insit.

Antwoord: Baie dankie vir jou mooi woorde. Wat die artikel waarna jy verwys aanbetref, en die herhalings wat daarin plaasgevind het kan ek egter nie ‘n duidelike verduideliking gee nie. Ek het dit al reggemaak net om weer dieselfde probleem te ondervind. Ek moet ook net noem dat ek verskriklike geestelike, sowel as fisiese aanvegtinge beleef het toe ek die artikel geskryf het. Dit het op ‘n stadium so erg geraak dat ek amper moed wou opgee, maar danksy die Here het ek staande gebly. Net om vir jou een voorbeeld te gee. Wanneer ek klaar op my skootrekenaar gewerk het skakel ek dit af maar los die deksel oop, want my skootrekenaar is nogal oud, en ek wil nie onnodig dit oop en toe maak indien dit nie nodig is nie. Nadat ek dit afgeskakel het (en ek het doodseker gemaak dat dit afgeskakel is) merk ek later dat daar ‘n blou lig in my kantoor skyn. Maar ek is seker dat ek al die ligte afgeskakel het en toe gaan stel ek ondersoek in. Die ligte in die kantoor was wel af maar my skootrekenaar was aan. Ek het dit toe weer afgesit en kamer toe gegaan. Later sien ek dat die skootrekenaar weer aan is. Toe ek die muis aanraak skakel die skootrekenaar van self af en wou vir ‘n lang ruk nie weer aankom toe ek dit wou aansit nie. Ek het absoluut geen verduideliking daarvoor nie, asook vir die ander probleme wat ek net met die skryf van daardie spesifieke artikel ondervind het nie. Ek moet egter net noem dat ek ‘n sterk vermoede het dat Satan agter baie van die probleme sit.

Lees meer Satan werk in mense om te wil na sy Welbehae

Word met die Heilige Gees vervul

Seker die belangrikste besluit wat enige mens op aarde kan maak is om die evangelie van God se genade te glo. Die oomblik wanneer ‘n persoon die evangelie glo, kom die Heilige Gees en woon permanent binne die gelowige se liggaam en dien as waarborg dat daardie persoon vir eens en altyd gered is.
Ef.1:13 “in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte,
1Kor.6:19 “Of weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie?”
Diegene wat dus verkondig dat ons vir ‘n tweede keer, (of selfs meer kere) die salwing “anointing” moet ontvang verkondig dwaalleer en weerspreek God en Sy woord! Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Doop met die Heilige Gees vs vulling met die Heilige Gees”, asook “Val in die Gees” en “Word mens een of twee keer deur die Heilige Gees gedoop” te lees.) Maar net omrede ‘n persoon die Heilige Gees tydens wedergeboorte ontvang het, beteken geensins dat daardie persoon met die Heilige Gees gevul is nie. Dit is egter God se begeerte dat elke gelowige met die Heilige Gees gevul moet wees en daarom word gelowiges aangesê om met die Gees gevul te word, naamlik:.
Ef.5:18 “Moenie dronk word van wyn nie — daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul.”

Lees meer Word met die Heilige Gees vervul

Verkondig die Bybel Christelike Kommunisme?

Vraag: Daar is ‘n persoon wat beweer dat die Bybel sosialisme voorstaan, en daarom moet ons alles gesamentlik besit. Hy verwys spesifiek na kommunisme, en beweer dat dit verkeerd is om privaat eiendom te besit en dat die vroeë Kerk hierdie leerstelling verkondig het. Wat is jou opinie aangaande hierdie vraagstuk? Die persoon verwys na homself as ‘n Christelike Kommunis, en gebruik Hand.2:45 as proefteks. Baie dankie.

Antwoord: Kommunisme is ‘n suiwer humanistiese ideologiese stelsel en kan nie met Bybelse Christendom vereenselwig word nie. Net soos die sosiale evangelie wat die Kerk tot ‘n groot mate binnegedring het, tot so ‘n mate dat die suiwer Bybelse evangelie met sosiale programme vervang is, so ook sal ander valse leerstellings die Kerk ingestroom kom. Paulus het ons vooraf gewaarsku, naamlik:
Hand.20:29 “Want ek weet dit, dat ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie. 30 Ja, uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan.”
Daar is ongelukkig baie sogenaamde “Christelike” bewegings wat onder die vaandel van die belydende Christendom hulle duiwelse leerstellings in die Kerk ingebring het. Maar kom ons spreek eers die proefteks waarna verwys word aan, en dan sal ek ‘n paar opmerkings daaromtrent maak, naamlik:
Hand.2:44 “En almal wat gelowig geword het, was bymekaar, en het alles gemeenskaplik besit. 45 En hulle eiendomme en besittings het hulle verkoop en die opbrings onder almal verdeel, volgens wat elkeen nodig gehad het.”

Lees meer Verkondig die Bybel Christelike Kommunisme?

Vraag aangaande Saul en die bose gees

Vraag: Kan jy my dalk help. Ek probeer verstaan waarom die Here ‘n bose gees na Saul toe gestuur het, 1 Sam.16:14 en 1 Sam. 19:9. Ek lees dat die Here hom verwerp het, maar hoekom moes ‘n bose gees oor hom kom?

Antwoord: Ek gaan hierdie die twee teksgedeeltes waarna jy verwys aanhaal en dan bespreek, naamlik:
1 Sam.16:14 “Maar die Gees van die HERE het van Saul gewyk, en ‘n bose gees, deur die HERE gestuur, het hom verskrik.”
1Sam.19:9 “Maar ‘n bose gees van die HERE het oor Saul gekom terwyl hy in sy huis sit met sy spies in sy hand en Dawid met die hand op die snare speel. 10 Toe probeer Saul om Dawid met die spies teen die muur vas te steek, maar hy het vir Saul gekoes, sodat hy die spies teen die muur vasgooi. En Dawid het gevlug en daardie nag vrygekom.”

Lees meer Vraag aangaande Saul en die bose gees