Vraag: Wanneer gaan die groot herlewing begin waarvan almal praat? Ek hoor baie daarvan, maar sien nie in werklikheid enige verandering in ons samelewing nie. Ek sal graag jou opinie hieroor wil hoor.
Antwoord: Dit is ’n belangrike vraag wat dikwels misverstaan word. Dit hang af van wat jy as “herlewing” beskou. Ware Bybelse herlewing beteken ’n terugkeer na God en Sy Woord. Met ware herlewing bely mense hulle sondes, laat dit staan, en laat die Heilige Gees toe om hulle lewens te beheer. Dit lei altyd na ’n heilige lewenswandel waar die Bybel die enigste maatstaf is waarteen alle gedrag gemeet word.
Sekere Christelike leiers verkondig vandag dat die Kerk eers die wêreld gaan oorneem voordat Jesus Christus terugkom. Om ’n ware antwoord te kry, moet ons egter kyk of Jesus of die apostels geleer het dat daar ’n herlewing in die laaste dae van die Kerk-era gaan plaasvind.
Luk.18:8 “Ek sê vir julle dat Hy gou aan hulle reg sal doen; maar as die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?”
Jesus Christus self het hierdie vraag gevra, wat ’n ernstige aanduiding is van die geestelike verval wat Sy koms sal voorafgaan.