Eféziërs 5:18: “Moenie dronk word van wyn nie—daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul.”
Uit bostaande teksgedeelte is dit baie duidelik dat die apostel Paulus ons vermaan om met die Heilige Gees vervul te word. Hy praat nie hier van die ontvangs van die Gees by wedergeboorte nie, maar van die dag-tot-dag vervulling met die Heilige Gees ná wedergeboorte.
1 Korintiërs 12:13: “Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge.”
Dit is belangrik om die onderskeid te merk. Anders as met wedergeboorte, waar die Heilige Gees outomaties in ons kom inwoon omdat ons die Evangelie verstaan en geglo het, word die opdrag om met die Gees vervul te word aan ons gegee—en hiervoor is ons samewerking nodig. ’n Persoon ontvang die Heilige Gees net een keer wanneer hy die Evangelie op ’n spesifieke tydstip glo.
Die vraag wat egter ontstaan, is: Wat moet ons doen om met die Gees vervul te word? Om die antwoord te kry, moet ons na die Bybel gaan en nie na buite-Bybelse praktyke of tradisies nie (waarvan daar ongelukkig baie voorbeelde in die belydende Christendom is). Die Bybel is God se Woord; ons moet ons leerstellings slegs vanuit die Skrif bekom en nie uit menslike opinies, tradisies of vleeslike manifestasies wat met die Bybel in botsing is nie.
Hier volg ’n paar Bybelse riglyne oor hoe ons deur die Gees vervul kan word, want dit is God se wil vir al Sy kinders. Onthou: om met die Heilige Gees gedoop te word, is ’n eenmalige gebeurtenis by wedergeboorte; om met die Gees vervul te word, is ’n voortdurende proses waar ons toelaat dat die Heilige Gees ons beheer.
1. Breek met alle werke van die duisternis
Mens sal nooit werklik met die werke van die duisternis kan breek indien daar nie ’n liefde vir die waarheid is nie. God se Woord is die waarheid, en daardie Woord moet ons enigste maatstaf wees. Waarheid is nie subjektief nie; dit moet met die Bybel vergelyk word om te sien of dit die toets deurstaan.
Johannes 4:24: “God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.”
Slegs indien ons werklik die waarheid wil ken en toepas, sal ons deur die Gees van God geleer kan word; anders mislei ons onsself. Daarom is dit van uiterste belang om met enige bose werke te breek.
1 Johannes 1:5-7: “En dit is die verkondiging wat ons van Hom gehoor het en aan julle verkondig: God is lig, en geen duisternis is in Hom nie. As ons sê dat ons met Hom gemeenskap het en in die duisternis wandel, dan lieg ons en doen nie die waarheid nie. Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde.”
2. Bely alle sondes voor God en mense
Dit is nie genoeg om bloot met sonde te breek nie; dit moet aan God bely word. Belydenis is die bewys dat ons erken dat ons gesondig het, met die doel om die gebreekte gemeenskap met God te herstel. Ware belydenis beteken nie om sonde “onder die mat in te vee” nie. Dit sluit valse leerstellings in; dit moet bely word en vergifnis moet gevra word.
Jakobus 5:16: “Bely mekaar julle misdade en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word…”
1 Johannes 1:9: “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.”
Baie mense bely hul sondes, maar breek nie werklik daarmee nie. Ander breek daarmee, maar bely dit nie. Beide is vorme van hoogmoed. Die Heilige Gees is heilig en sal sonde nooit verdoesel nie.
3. Spandeer tyd in die Skrifte
’n Persoon kan nie verwag om Geesvervuld te wees sonder om tyd in die Skrifte te spandeer nie. Sonder persoonlike Bybelstudie word gelowiges maklik mislei deur mense wat hulle met “vleeslike manifestasies” voer.
Matthéüs 7:15: “Maar pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is.”
Hoe gaan ek weet wat die Heilige Gees vir my wil sê as ek nie weet wat in die Skrif staan nie? Om op gevoelens of buite-Bybelse profesieë staat te maak, is om jouself vir misleiding oop te stel.
Kolossense 3:16: “Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid. Leer en vermaan mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere…”
Ons moet soos die mense van Beréa wees (Handelinge 17:11) wat alles wat verkondig word, met die Skrif vergelyk.
4. Verloën jouself, neem jou kruis op en volg Jesus
Ons moet van die “self” ontledig word voordat die Heilige Gees ons werklik kan vul.
Lukas 9:23: “En Hy sê vir almal: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg.”
Galásiërs 2:20: “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my…”
William MacDonald het dit treffend gestel: “Om met nuwe inhoud gevul te word, moet die koppie eers van al die vorige inhoud ontledig word.” Dit behels ‘n volledige oorgawe van ons geld, verstand, tyd, talente en selfs die keuse van ons vriende en gemeentes.
Romeine 12:1: “Ek vermaan julle dan, broeders… dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer…”
5. Kom uit die wêreld uit
Solank as wat ons wêreldgesind is, sal ons nie God se volmaakte wil vir ons lewens vind nie. Vriendskap met die wêreld is vyandskap teen God (Jakobus 4:4).
Romeine 12:2: “En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed…”
Ter afsluiting
Om ’n Geesvervulde lewe te lei, beteken nie om “in die gees te val” of in brabbeltaal te praat nie. Dit beteken dat die “eie ek” gekruisig is en dat die Heilige Gees beheer neem. ’n Geesvervulde persoon het altyd selfbeheersing—wat juis ’n vrug van die Gees is (Galásiërs 5:22-23).
1 Korintiërs 14:32-33: “En die geeste van die profete is aan die profete onderworpe; want God is nie ‘n God van wanorde nie, maar van vrede…”
Jesus het nooit mense laat rondrol of onbeheers laat optree nie. Ons word geroep tot heiligheid (1 Petrus 1:16). Laat ons ophou om ons lewens self te wil bestuur en dit aan Hom oorgee. Dan alleen sal die vrug van die Gees in ons lewens manifesteer tot eer van God.
Seëngroete, Vic