Alle bydraes deur Vic

Het God die politici se optredes gepredestineer?

Vraag: Baie dankie vir jou webtuiste, dit het my baie gehelp. Ek het egter ‘n vraag waarmee ek worstel. Ek weet dat de Bybel voorspel dat sake in die laaste dae erger gaan raak. Van my vriende beweer dat God alles gepredestineer het en dit sluit ons regering se besluite in. Het God werklik ons politieke leierskap se keuses en wette gepredestineer sodat hulle doen wat Hy wil hê hulle moet doen? Is die regering se beleid aangaande Eskom, en hulle agteruitgang en meegaande ongemak God se wil vir ons? Ek weet dit klink soos ‘n simpel vraag, en dat dit ‘n moeilike onderwerp is, maar versoek jou asseblief om my te antwoord omrede hierdie onderwerp nogal baie onenigheid kan veroorsaak. By voorbaat dankie, ek waardeer dit baie!

Lees meer Het God die politici se optredes gepredestineer?

Belangrike feite aangaande die kerk. Deel 2

In deel twee van die reeks “Belangrike feite aangaande die Kerk” gaan daar nog verdere belangrike inligting aangaande die kerk aan die leser gegee word. Die bestudering van hierdie onderwerp is uiters belangrik omrede die kerk as entiteit in baie kringe so verkeerd verstaan is. Die kerk moet nie met Christus se Messiaanse Koninkryk op aarde, asook Israel as volk verwar word nie en daarom is dit belangrik om die Bybels korrek uit te te lê.
2Tim.2:15 “Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ‘n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny.
Kom ons begin nou met deel twee van hierdie studie.

Die Kerk is hemels georiënteerd:

Die Kerk het ‘n hemelse Hoof, naamlik die Here Jesus Christus:

Ef.1:20 “wat Hy gewerk het in Christus toe Hy Hom uit die dode opgewek het en Hom laat sit het aan sy regterhand in die hemele, 21 bo alle owerheid en mag en krag en heerskappy en elke naam wat genoem word, nie alleen in hierdie wêreld nie, maar ook in die toekomstige. 22 En Hy het alle dinge onder sy voete onderwerp en Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente (die Kerk) gegee, 23 wat sy liggaam is, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.”
Die Here Jesus Christus is die hoof van die kerk en om hierdie rede is elke individuele gemeente direk aan Christus verantwoordelik. Indien ‘n gelowige homself in ‘n gemeente bevind waar willens en wetens valse leerstellings verkondig word, dan is dit sy plig om daardie dwaalleerstelling in liefde teë te staan. Ons liefde vir die Here Jesus Christus en ons mede broers en susters in die geloof moet die grondslag vir ons optrede wees. Die Here het ons nie gerep om gewild te wees nie, Hy het ons geroep om getrou aan Hom te wees. Onthou, die Here Jesus Christus is die hoof van die kerk en dit is aan Hom voor wie ons gaan staan en rekenskap van onsself moet gee.

Lees meer Belangrike feite aangaande die kerk. Deel 2

Belangrike feite aangaande die kerk. Deel 1

Omrede daar so baie verwarring aangaande die Kerk in God se raadsplan bestaan, is dit belangrik om paar verdere feite aangaande die Kerk hier weer te gee. Dit is belangrik om God se plan vir die Kerk met Sy plan vir Israel te onderskei, en in die korrekte kontekstuele verband te verstaan alvorens ons met die Dispensasie van die Koninkryk begin. Diegene wat die moeite doen om dit te lees se insig aangaande hierdie uiters belangrike onderwerp sal verbreed word en dit sal boonop help om valse leerstellings i.v.m. hierdie belangrike onderwerp te weerlê. Die artikel sal ook in twee dele opgedeel word en die leser word versoek om die inligting daarin sorgvuldig te bestudeer en in gebed te oordink. Die leser word ook aangeraai om die teksgedeeltes wat ek nie hier aanhaal nie self in hulle Bybel te lees anders gaan die artikel te lank raak. Hierdie reeks van twee artikels moet verkieslik saam met die artikel “Die Dispensasie van die Kerk/Genade” gelees word, maar kan ook afsonderlik bestudeer en toegepas word.

Lees meer Belangrike feite aangaande die kerk. Deel 1

Die Dispensasie van die Kerk. Deel 2

In deel twee van die reeks artikels “Die Dispensasie van die Kerk, ook bekend as die Dispensasie van Genade, gaan ons die mensdom se verantwoordelikheid tydens die Dispensasie van die Kerk bespreek, en merk hoe die mensdom weereens grootliks misluk wat weer tot God se oordeel aanleiding gee. So merk ons dan dat die Dispensasie van die Kerk met God se seën, naamlik die Here Jesus Christus se voltooide werk aan die kruis, wat deur verdere openbarings inligting gevolg word begin, en wat die mensdom se verantwoordelikheid insluit, asook die feit dat mens weereens grotendeels misluk wat deur God se oordeel gevolg word. Indien die leser nie deel een alreeds gelees het nie word hy aangeraai om so te doen.

Lees meer Die Dispensasie van die Kerk. Deel 2

Die Dispensasie van die Kerk. Deel een

Met hierdie artikel gaan ons die Dispensasie van die Kerk, ook bekend as die Dispensasie van Genade bestudeer. Die ander sewe dispensasies is die Dispensasie van Onskuld, die Dispensasie van Menslike Gewete, die Dispensasie van Menslike Owerheid, die Dispensasie van Belofte, die Dispensasie van die Wet, die Dispensasie van die Kerk/Genade en laastens die Dispensasie van die Koninkryk wat die ewigheid sal inlei. Die leser word ten sterkste aangeraai om die illustrasies “Die Sewe Dispensasies” asook “God se verbonde met Israel” te bestudeer. Met die bestudering van die vorige dispensasies het ons gemerk hoe God d.m.v. progressiewe openbaring die institusies van die huwelik, familie, menslike owerheid, asook onafhanklike nasiestate (nasionalisme) daar gestel het. Met die aanbreek van die Dispensasie van die Kerk/genade sal ons opmerk dat God ‘n verdere instansie wat nooit tevore bestaan het nie bekendmaak, naamlik die Kerk, wat uit alle gelowiges wat die evangelie van God se genade geglo het bestaan. Die Kerk het op pinksterdag haar ontstaan gehad en sal met die wegraping afgesluit word. Die Kerk het dus nooit in die Ou Testament bestaan, en is boonop nie in die Ou Testament bekend gemaak nie, en om hierdie rede word na die kerk as ‘n verborgenheid verwys. Die Kerk het dus nie in die Ou Testament bestaan soos wat baie teoloë verkeerdelik beweer nie. Diegene wat dit nie alreeds gedoen het nie word versoek om die artikel “Die drie fases van verlossing” te lees.

Lees meer Die Dispensasie van die Kerk. Deel een

Verbly julle altyd in die Here, ek herhaal: Verbly julle!

Ons almal se lewens beïnvloed diegene rondom ons met wie ons gereeld in aanraking kom en veral gelowiges moet hierdie feit altyd in gedagte hou. Dit is God se wil dat ons lewens ons medemens se lewens ten goede moet aanraak. Wanneer ons egter die heeltyd oor alles loop en kla, en die heeltyd negatief oor alles is, kan dit maklik daartoe aanleiding gee dat dit ons medemens ook negatief kan aanraak. Boonop kan sodanige negatiewe gesindheid ‘n vaste patroon in ‘n persoon se lewe word, wat dit moeilik gaan maak om daaruit te kom. So ‘n persoon tree boonop ook buite God se wil vir hom op. Eerder as om oor alles te kla, verwag die Here van ons om onsself altyd in Hom te verbly met die wete dat Hy groter as ons omstandighede is.
Filip.4:4 “Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle!”
God sal nooit iets van ons verwag waarvoor Hy nie ook die krag aan ons sal verleen om dit te kan doen nie.

Lees meer Verbly julle altyd in die Here, ek herhaal: Verbly julle!

Die Dispensasie van die Wet. Deel 2

Soos wat ons alreeds in die vorige artikels in hierdie reeks wat oor die sewe dispensasies handel opgemerk het, begin elke dispensasie met God se seën, wat deur verdere voortgesette Goddelike openbaring gevolg word. Boonop vind ons dat elke dispensasie met ‘n Godgegewe toets vergesel word, wat deur die mensdom se mislukking gevolg word en wat tot God se oordeel aanleiding gee. Die leser word aangeraai om die vorige artikels in hierdie reeks te lees, asook om die illustrasie “Die Sewe Dispensasies” te bestudeer. In deel een het ons gesien hoe God Israel uit die Egiptiese slawerny bevry het, en ook verdere nuwe openbarings inligting aan hulle verskaf het wat ook dan ‘n toets ingesluit het. In deel twee sal ons opmerk dat Israel nie slegs misluk nie, maar ons sal ook baie belangrike inligting oor die doel van die Wet van Moses bekom, en hoe dit ons wie tydens die Dispensasie van die Kerk/Genade leef raak. Dit gaan ‘n lang artikel wees, maar die leser wat die moeite doen om dit te lees sal feite aangaande die Wet van Moses leer wat baie min mense van kennis dra.

Lees meer Die Dispensasie van die Wet. Deel 2

Die Dispensasie van die Wet. Deel 1

Historiese Konteks van die Wet van Moses:

Die aangebreek en die einde van die Dispensasie van die Wet:
Die Dispensasie van die Wet begin toe God die Wet van Moses op die berg Sinai aan Moses gegee het, en strek tot en met die Here Jesus Christus se dood aan die kruis op Golgota. (Ex.19:3; Matt.27:56; Joh.20:30; Hand.2)

Die Wet van Moses was slegs aan Israel as volk gegee en nie aan enige ander persoon of nasie nie:
Ex.19:1 “In die derde maand ná die uittog van die kinders van Israel (die Skrifte lê spesifiek klem op hierdie feit)uit Egipteland, op dieselfde dag, het hulle in die woestyn Sinai gekom —2 hulle het van Ráfidim af opgebreek en in die woestyn Sinai gekom en in die woestyn laer opgeslaan. En Israel het daar teenoor die berg laer opgeslaan. 3 Maar Moses het opgeklim na God toe, en die HERE het hom van die berg af toegeroep en gesê: So moet jy aan die huis van Jakob sê en aan die kinders van Israel verkondig: 4 Julle het self gesien wat Ek aan die Egiptenaars gedoen het, en dat Ek julle op arendsvlerke gedra en julle na My toe gebring het. 5 As julle dan nou terdeë na my stem luister en my verbond hou, sal julle my eiendom uit al die volke wees, want die hele aarde is myne. 6 En júlle sal vir My ‘n koninkryk van priesters en ‘n heilige nasie wees. Dit is die woorde wat jy aan die kinders van Israel (nie aan die heiden nasies wat ons insluit nie) moet meedeel. 7 En Moses het gekom en die oudstes van die volk laat roep en hulle al hierdie woorde voorgehou wat die HERE hom beveel het. 8 Toe antwoord die hele volk eenparig en sê: Alles wat die HERE gespreek het, sal ons doen. En Moses het die woorde van die volk aan die HERE oorgebring. 9 En die HERE het met Moses gespreek: Kyk, Ek sal in ‘n dik wolk na jou toe kom, dat die volk kan hoor as Ek met jou spreek, en hulle ook vir altyd aan jou kan glo. Want Moses het die woorde van die volk aan die HERE meegedeel.”
Hierdie was ‘n formele voorwaardelike, wedersydse onderneming wat tussen God en die volk Israel aangegaan is. Die Mosaieke Verbond is die enigste verbond wat voorwaardelik is. Al die ander verbonde wat God met Israel aangegaan het was onvoorwaardelik. (Die leser word ten sterkste aangeraai om die illustrasie “God se verbond met Israel” te bestudeer.)

Lees meer Die Dispensasie van die Wet. Deel 1

Rede vir lang artikels, ‘n Bybelse perspektief

God gebruik sistematiese bestudering van korrekte Bybelse leerstellings om gelowiges tot volwassenheid te lei. Sommige mense kla soms dat my artikels te lank is en dat hulle nie altyd die tyd kry om dit te lees nie. My antwoord aan hierdie mense is dat ek God se wil moet uitvoer en die resultaat by Hom los. Hierdie bediening is nie ‘n verbruikersgedrewe bediening nie. Ek soek nie roem nie, maar eerder God se goedkeuring. Ek poog om die Skrifte met die diepte waarmee die Here wil hê Sy woord verkondig moet te verkondig. Anders hoe gaan die mens God in diepte leer ken indien hulle nie aan korrekte leerstelling blootgestel word en dit leer verstaan nie. Daar is baie mense wat smag om die Skrifte in diepte te ken en hierdie webtuiste is juis aan hierdie mense gerig. By implikasie beteken dit noodwendig dat hierdie webtuiste nooit gewild gaan wees nie. Ons verkondig nie wat mense wil hoor nie, maar eerder wat God wil hê mense moet hoor. Al beteken dit dat die artikels lank gaan wees. Hoe anders kan werklike heiligmaking plaasvind indien dit nie op in diepte Bybelstudie en korrekte leerstellings gebaseer is nie?
2Kor.4:16 Daarom gee ons nie moed op nie, maar al vergaan ons uiterlike mens ook, nogtans word die innerlike mens dag ná dag vernuwe.
Ef.4: 13 “totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot ‘n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus; 14 sodat ons nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering, deur die bedrieëry van die mense, deur sluheid om listiglik tot dwaling te bring;

Lees meer Rede vir lang artikels, ‘n Bybelse perspektief

1Joh.3:9 Elkeen wat uit God gebore is, doen geen sonde nie

Vraag: Kan jy asb Joh.3:9 aan my verduidelik. Indien ‘n persoon wat uit God gebore is nie volgens Johannes kan sonde pleeg nie, hoe is dit dan dat ek en almal wat ek ken dan nog steeds sonde pleeg. Is die feit dat ek nog steeds sonde pleeg ‘n bewys dat ek nooit werklik wedergebore is nie? Ek glo die evangelie soos wat jy dit op jou webtuiste weergee, maar ek pleeg nog steeds sondes. Of Johannes weerspreek homself of ek is nooit werklik wedergebore nie. Kan jy my asb met raad of inligting voorsien. Weereens baie dankie!

Antwoord: Die Bybel is deur die Heilige Gees geïnspireer, en is as sulks foutloos in die oorspronklike tale. Verder kan mens slegs met die Heilige Gees se hulp die skrifte korrek uitgelê. Indien die Bybel korrek verklaar word, kan daar geen weersprekings wees nie. Beweerde weersprekings is die resultaat van verkeerde Bybel interpretasie. So moenie bekommerd wees nie, Johannes het homself nie weerspreek nie en jy is ook nie ongered nie. Jy bevind jouself nou in fase twee van jou verlossing, waar jy deur voortgesette dade van geloof God se opdragte in jou lewe moet toepas om sodoende geestelik te groei. Ek raai jou egter ten sterkste aan om die reeks van drie artikels “Heiligmaking op grond van genade deur geloof alleen” te bestudeer waar hierdie onderwerp in baie meer diepte bespreek word. Ek bid egter dat hierdie artikel jou vrese ten ruste sal lê.

Lees meer 1Joh.3:9 Elkeen wat uit God gebore is, doen geen sonde nie