Kategorie se argiewe: Christelike Leerstellings

Bekering ten opsigte van wedergeboorte is nie boetedoening nie

In die vorige artikel genaamd “bekering is nie reformasie in eie krag nie” is daar duidelik gedemonstreer dat bekering vir wedergeboorte (fase een van ons verlossing) nie beteken dat ‘n persoon homself reformeer, alvorens hy God, as sondaar, om verlossing kan nader nie. (die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Bekering is nie reformasie in eie krag nie” te lees, omrede dit deel van hierdie reeks artikels vorm. Met die skryf van hierdie artikel, gaan daar gedemonstreer word, dat bekering sover dit wedergeboorte (fase een van ons verlossing) aanbetref, nie boetedoening kan beteken nie. (dit is ook uiters belangrik dat die leser die drie fases van ons verlossing ken, en verstaan, omrede hierdie leerstelling die verstaan (en uitleg) van die Bybel aansienlik vergemaklik en derhalwe word die leser aangeraai om die artikel “Drie Fases van Verlossing” sorgvuldig deur te lees en die meegaande illustrasie te bestudeer.)
Lees meer Bekering ten opsigte van wedergeboorte is nie boetedoening nie

Bekeer, of bekering, is nie reformasie in eie krag nie

Dit is van uiterste belang om te besef wat bekering (of om te bekeer) werklik volgens die Bybel beteken. Die twee primêre woorde, wat in verband met verlossing, in die Nuwe Testament, vir bekering gebruik word, is die Griekse woorde “metanoia” en “metanoeδ” (“meta” beteken “na” en “noeδ” beteken “gedagte”) wat basies beteken, om van gedagte of opinie te verander, of om te heroorweeg. Dus moet die konteks waarin die woord “bekeer” gebruik word, toegelaat word om te betrokke betekenis van die woord te bepaal. As ek byvoorbeeld sê dat jy moet “bekeer”, dan moet jy vra: “Bekeer van wat?” Omrede daar baie dinge in die lewe is waarvan jy kan bekeer wat absoluut niks met wedergeboorte te doen het nie. Ek kan bv van jou verwag om te bekeer (van sienswyse verander of heroorweeg) om vir enige span behalwe die Blou Bulle te skreeu. Dus moet die konteks waarin die term “bekeer” gebruik word, die betekenis in verband met die woord “bekeer” bepaal. Waar die woord “bekeer” in terme van verlossing/wedergeboorte in die Bybel gebruik word, handel die konteks altyd om vanuit ‘n posisie van ongeloof na ‘n posisie van geloof, in Christus, te beweeg/bekeer. Dit word nooit van die gelowige verwag, om homself van alle sondes te reinig, of om op te hou sonde doen, alvorens hy die ewige lewe as geskenk kan ontvang nie. Slegs geloof in die Here Jesus Christus (Wat Sy Persoon en voltooide werk aan die kruis insluit, naamlik die Evangelie) word as vereiste vir die ontvangs van die ewige lewe aan ‘n persoon voorgehou. Niks anders nie! Vir die doeleindes van hierdie artikel is dit belangrik dat die leser die drie fases van ons verlossing ken, en verstaan en derhalwe word die leser ten sterkste aangeraai om die artikel “Drie fases van verlossing” te lees asook die meegaande illustrasie sorgvuldig te bestudeer.)
Lees meer Bekeer, of bekering, is nie reformasie in eie krag nie

Godsdiens vs Verlossing – dieskrifte.org

Het jy blote godsdiens of het jy verlossing? Dit is die vraag wat ons in hierdie studie moet beantwoord. Die antwoord op hierdie vraag het ewigdurende implikasies. Wanneer dit by die leerstelling van ons verlossing kom, is dit van uiterste belang dat ons die Skrifte reg sny, anders kan dit daartoe lei dat ons ‘n ander evangelie glo, wat op werke alleenlik, of Christus se voltooide werk aan die kruis plus werke gebaseer is om gered te word, of om gered te bly, wat in my beskeie opinie ‘n ander evangelie is. Iets waarteen die apostel Paulus ons ernstig gewaarsku het.
2Ti 2:15 “Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ‘n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny.”
Lees meer Godsdiens vs Verlossing – dieskrifte.org

Geldgierigheid die rede waarom Christendom ‘n Handelshuis ontaard

Vraag: Hallo Wickus verklaar asseblief vir my 2Kor. 2 vers 17. 1983 vertaling dankie.

Antwoord: Ja, mens kan ‘n hele boek oor hierdie onderwerp, naamlik geldgierigheid skryf, veral indien mens die huidige stand van die belydende Christendom in ag neem. (veral die meerderheid van die gewildste bedieninge wat ons op televisie sien!)
2Ko 2:17 “Ons, omdat ons nie is soos baie ander wat geld maak uit die woord van God nie. Ons verkondig die woord in opregtheid, in verbondenheid met Christus, in opdrag van God en in verantwoordelikheid aan God.” (1983 vertaling)
In Kort handel die konteks oor valse apostels wat die gemeente binnegedring het en die gemeente in Korinthe teen Paulus en sy apostelskap opgesweep het. Hierdie mense se doel was om die woord van God vir wins te pand. (geldgierigheid) Hulle gebruik die woord dus as ‘n produk waaruit hulle wins kan maak en dit is niks anders as geldgierigheid nie! Net soos wat dit vandag in die oorgroot gedeelte van die belydende Christendom die geval is, wou hierdie mense van die verkondiging van die woord ‘n winsgewende beroep/besigheid maak. Dieselfde woord wat in die Grieks vir die term “Handel dryf” gebruik is, is ook soms gebruik om oneerlike persone wat water by wyn gevoeg het, om die eindproduk af te water, en die eindproduk meer te maak, sodat hulle meer wins uit die verkoop van die afgewaterde wyn kon maak. (dus geldgierigheid) So ook in die geval van hierdie valse apostels, is hulle motiewe nie eerbaar nie, maar is wins, en geldgierigheid, (mammon en nie God se eer en mense se siele) die belangrikste dryfveer agter hulle optrede, en daarom sal mens vind dat hierdie tipe mense gewoonlik hulle eie leerstellings tot die van God in Sy woord byvoeg, en in hierdie geval van die Judaïseerders wou hulle die Ou Testamentiese Wet by Christus se genade voeg en so die gemeente van die Apostel Paulus vervreemd. (Dus het hulle nie werklik God se belange, en die van hulle hoorders, op die hart gedra nie want dan sou hulle die waarheid verkondig het!)

Lees meer Geldgierigheid die rede waarom Christendom ‘n Handelshuis ontaard

Die Kerk is nie die Messiaanse Koninkryk van Christus nie

In die belydende Christendom heers daar huidiglik groot verwarring rondom God se huidige program vir die Kerk (tydens die Kerk Dispensasie), en Christus se program vir Sy komende Messiaanse, Teokraties Koninkryk op aarde. (Die Duisendjarige Vrederyk) Die doel van hierdie studie is om puntsgewys te demonstreer dat die Kerk nie die koninkryk van Christus op aarde is nie. Indien die program van God vir die volk Israel en Sy program vir die Kerk met mekaar verwar of vermeng word, lei dit tot een groot teologiese deurmekaarspul, wat tot gevolg het dat gelowiges wat tydens die Kerk Dispensasie leef die beloftes, en opdragte, wat deur God aan Israel, as Sy verbondsvolk, gemaak is op die Kerk van toepassing maak, en dan op hierdie beloftes en opdragte konsentreer, en poog om dit toe te pas, wat tot gevolg het dat die Kerk, wat nie die volk Israel is nie, God se opdragte, wat spesifiek aan Israel gemaak is, vir hulle self toeëien, en poog om dit uit te voer, eerder as om God se opdragte, wat direk aan die Kerk gemaak is, toe te pas en uit te voer. Dit kan daartoe lei dat so ‘n persoon te laat gaan uitvind dat hy nooit God se wil vir sy lewe uitgevoer het nie en dat so ‘n persoon, tot ‘n groot mate, buite God se wil vir hom gelewe het. En dit terwyl die Bybel dit duidelik stel dat die duiwel huidiglik die god van hierdie wêreld is. Indien Ons in die beloofde Koninkryk van Christus is, hoe kan die Skrifte, wat deur God geïnspireerd is, die duiwel dan die as god van hierdie wêreld beskryf?
2Ko 4:3 “Maar as ons evangelie dan nog bedek is, is dit bedek in die wat verlore gaan, 4:4 naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie.”
Vervolgens gaan daar puntsgewys aan die leser gedemonstreer word dat die Kerk, tydens die Kerk Dispensasie, nie die Teokratiese Koninkryk van Christus op aarde is nie, omrede die volk Israel hulle Messias met Sy eerste koms verwerp het, en derhalwe is die Messiaanse Koninkryk uitgestel totdat die Here daardie Koninkryk met Sy wederkoms sal oprig.
Lees meer Die Kerk is nie die Messiaanse Koninkryk van Christus nie

Hand. 19:1-6 en die tweede doop met die Heilige Gees

Hand.19:1-6 word gereeld, as proefteks, deur mense gebruik wat leer dat gelowiges ‘n tweede keer deur die Heilige Gees gedoop moet word om hulle leerstelling te verdedig. Met die skryf van hierdie artikel gaan ek sorgvuldig Hand.19:1-6 onder die soeklig plaas, om vas te stel of hierdie teksgedeelte wel die leerstelling van die tweede doop bevestig. Hand.19:1-6 lees soos volg:
Hnd 19:1 “En terwyl Apollos in Korinthe was, het Paulus die boonste landstreke deurgereis en in Éfese gekom; en daar het hy sommige dissipels gevind 19:2 en hulle gevra: Het julle die Heilige Gees ontvang toe julle gelowig geword het? En hulle antwoord hom: Ons het nie eens gehoor dat daar ‘n Heilige Gees is nie. 19:3 En hy vra hulle: Met watter doop is julle dan gedoop? En hulle antwoord: Met die doop van Johannes. 19:4 Daarop sê Paulus: Johannes het met die doop van bekering gedoop en aan die volk gesê dat hulle moes glo in die Een wat ná hom kom, dit is in Christus Jesus. 19:5 En toe hulle dit hoor, is hulle gedoop in die Naam van die Here Jesus. 19:6 En Paulus het hulle die hande opgelê, en die Heilige Gees het op hulle gekom, en hulle het met tale gespreek en geprofeteer.”
Derhalwe gaan ek Hand.19:1-6 is gedeeltes opdeel en dan bespreek:

Lees meer Hand. 19:1-6 en die tweede doop met die Heilige Gees

Word gelowiges een of twee keer deur die Heilige Gees gedoop

Hoeveel keer word ‘n gelowige deur die Heilige Gees gedoop? Of anders gestel: “Leer die Bybel dat mense wat tydens die Kerk Dispensasie die Evangelie glo, en wedergebore raak, (en dus met die Heilige Gees gedoop word) weer ‘n keer deur die Heilige Gees gedoop moet word, alvorens die Here van hulle in Sy diens gebruik kan maak?” Daar heers tans groot meningsverskille rondom hierdie aangeleentheid en derhalwe sal ek my siening oor hierdie aangeleentheid by die gesprek toevoeg. Johannes 20:22 word dan as proef-teks voorgehou deur diegene wat glo dat daar ‘n tweede doop met die Heilige Gees, na afloop van aanvanklike wedergeboorte, moet plaasvind as bewys van hierdie leerstelling. Johannes 20:22 lees soos volg:
Joh 20:22 “En nadat Hy dit gesê het, blaas Hy op hulle en sê vir hulle: Ontvang die Heilige Gees.”
Met hierdie studie sal daar gepoog word om hierdie teksgedeelte binne die korrekte konteks te bestudeer en tot ‘n Skriftuurlike slotsom te kom. Die leser word egter nog serk aangeraai om self die Bybel te bestudeer en my slotsom met die Skrifte te vergelyk en self tot ‘n slotsom te kom. (Die leser word ook aangeraai om die artikel “Hand.19:1-6 en die tweede doop met die Heilige Gees” te lees.)
Lees meer Word gelowiges een of twee keer deur die Heilige Gees gedoop

Satan se nagemaakte Godsdiensstelsel

Soos wat deeglik in die reeks artikels “ Die Duiwel se aktiwiteite sover dit die gelowige aanbetref” gedemonstreer is, is Satan se grootste begeerte en doelstelling om soos God, en God self te wees, en derhalwe poog hy om die Here na te maak. Indien die leser nie alreeds bogenoemde reeks artikels gelees het nie, word hy/sy ten sterkste aangeraai om daardie reeks artikels deeglik te bestudeer, en daarna hierdie artikel te lees wat nog meer lig op Satan se bedrywighede werp. Onkunde aangaande God se woord (die Bybel) sal daartoe bydra dat die mensdom oningelig, en dus oor ‘n gebrekkige kennis van Satan se strategieë en werkwyses sal wees, wat daartoe sal bydra dat hy hulle makliker sal kan mislei of selfs verblind. Onthou die waarskuwing soos in die Skrifte gevind, naamlik:
2Ko 4:2 Maar ons het van die heimlike dinge wat skandelik is, afstand gedoen, en ons wandel nie in listigheid of vervals die woord van God nie; maar deur die waarheid aan die lig te bring, beveel ons ons by elke menslike gewete voor God aan.
Luk 8:11 “Dit is dan die gelykenis: Die saad is die woord van God. 8:12 Dié langs die pad is die hoorders. Daarna kom die duiwel en neem die woord uit hul harte weg, sodat hulle nie sou glo en gered word nie.
2Ko 4:3 Maar as ons evangelie dan nog bedek is, is dit bedek in die wat verlore gaan, 4:4 naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie.”

Ongelukkig is daar baie mense wat vas oortuig is dat hulle oppad hemel toe is, maar wat te laat gaan uitvind dat hulle inderdaad die hele tyd op ‘n breë dwaalweg is en wat nooit werklik die ware Evangelie verstaan en geglo het nie! Die Here Jesus Christus het nie sonder rede die volgende stelling gemaak nie, naamlik:
Mat 7:13 “Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. 7:14 Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind.”
Derhalwe is dit van uiterste belang om kennis van Satan se werkwyses, strategieë, asook sy valse godsdiensstelsel te bekom, maar dit is net so belangrik om hierdie inligting vanuit slegs God se woord (die Bybel) te bekom, en nie op buite Bybelse spekulasies, profesie, drome en boeke en ander media as bronne, staat te maak nie! Slegs die Bybel en niks anders nie! Anders gaan ons deur die duiwel mislei word en ons sal niemand anders daarvoor kan blameer nie!

Lees meer Satan se nagemaakte Godsdiensstelsel

Doop met die Heilige Gees vs Vulling met die Heilige Gees

Daar heers huidiglik groot verwarring rondom die kwessie van doop met die Heilige Gees en vulling met die Heilige Gees. Baie mense gaan dus van plek tot plek om die teenwoordigheid van die Gees te beleef, of om daar deur die Heilige Gees gedoop te word, en dit in teenstelling met die feit dat God dit baie duidelik in Sy woord (die Bybel) stel dat die gelowige wat tydens die Dispensasie van Genade/Kerk lewe slegs een maal met die Heilige Gees, by wedergeboorte, gedoop word, en daarna word dit van die gelowige verwag om met die Gees gevul te word, wat nie ‘n eenmalige gebeurtenis is nie, maar wat ‘n gereelde/herhalende gebeurtenis in die gelowige se lewe behoort te wees, en waar die vulling met die Gees van die gelowige se samewerking afhang en word daar geensins bedoel dat die gelowige die Gees by byeenkomste weer moet vang of die Gees aan ander oor te dra nie. (voorbeelde van hierdie mistasting is die sogenaamde “Catch the fire” konferensies of waar dit beweer word dat die Gees by ‘n gegewe samekoms teenwoordig was. Hierdie terme skep die idee by mense dat die Heilige Gees slegs op sekere konferensies en samekomste teenwoordig is, en dit in teenstelling met die Bybel se opdrag om met die Gees vervul te word, en dit maak nie saak waar die gelowige homself mag bevind nie. Baie keer word dit beweer dat die Heilige Gees by die spesifieke samekoms teenwoordig was. Is Hy dan nie altyd in die gelowige teenwoordig nie? In hierdie artikel gaan hoofsaaklik van twee afsonderlike teksgedeeltes gebruik gemaak word om die onderskeid tussen die doop met die Heilige Gees en die vulling met die Gees te kontrasteer, wat tot ‘n groot mate hierdie misverstand sal opklaar en meer duidelikheid rondom hierdie aangeleentheid sal verskaf.
Lees meer Doop met die Heilige Gees vs Vulling met die Heilige Gees

Die duiwel se aktiwiteite sover dit die gelowige aanbetref. Deel Sewe

In die laaste gedeelte van die reeks artikels, wat oor die duiwel se aktiwiteite, sover dit gelowiges aanbetref, handel gaan ons ‘n lys van feite en beginsels aan die leser voorhou, en dan God se metode van geestelike oorlogvoering, soos wat Hy dit in Sy woord aan ons gegee het, aan die leser voorhou. Ek is ook bewus van die feit dat baie van die stellings wat in hierdie artikel gemaak gaan word op mense se tone mag trap, en is ook bewus van die feit dat baie doelgerigte en eerbare gelowiges en Pastore van hierdie leerstellings verkondig, maar dit bly egter ons almal se plig om nederig te wees, ons Bybels te bestudeer, en waar nodig, die nodige aanpassings te maak. Hierdie stelling geld vir my ook, en ek is ook dan bereid om die nodige korreksies aan my leerstellings te maak indien enige persoon my vanuit die Skrifte kan oortuig dat ek verkeerd is. Nie een van ons is volmaak of alwetend nie, en derhalwe is daar altyd meer Skriftuurlike waarhede wat ons van God en mekaar kan leer!
Spr 27:17 “Yster slyp yster, so slyp die een mens die persoon van die ander.”
Dit bly egter ons almal se plig om getrou aan die Here en Sy woord te bly, maak nie saak wat dit ons dalk mag kos nie. Dit is ware dissipelskap! En daarom is dit belangrik om self die Bybel te bestudeer, en om self seker te maak of wat aan ons verkondig word, die waarheid volgens die Skrifte is. 
Hnd 17:10 “Daarop het die broeders dadelik in die nag Paulus en Silas na Beréa weggestuur. En toe hulle daar kom, het hulle na die sinagoge van die Jode gegaan. 17:11 En hierdie mense was edelmoediger as dié in Thessaloníka; hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was. 17:12 Baie van hulle het dan ook gelowig geword, en van die aansienlike Grieke ‘n groot aantal, vroue en manne.”
Bostaande beginsel om die Skrifte te ondersoek geld vir hierdie reeks artikels, asook die webtuiste dieskrifte.org as geheel.

Lees meer Die duiwel se aktiwiteite sover dit die gelowige aanbetref. Deel Sewe