Kategorie se argiewe: Vraag en antwoord

Is dit verkeerd om Christusfees op 25 Desember te vier?

Vraag: Goeie dag Vicus,

Ek hoop en glo dit gaan goed met jou.

Laat my eerstens toe om jou te bedank vir die insiggewende artikels wat jy op jou webtuiste “dieskrifte.org” deel, deur die leiding van die Heilige Gees. Ek besoek die webtuiste gereeld en het by meer as een geleentheid, oortuiging en bevestiging ontvang uit ‘n artikel op een of ander kwel vraag wat by my op gekom het. Gister 25 Desember 2025 het ek jou artikel oor “Christusfees Boodskap: Christus ons Bloedverwant-Losser” gelees, en is bemoedig met die lees daarvan asook die teks gedeeltes wat jy aangehaal het uit die skrif.

Graag wil ek die volgende video skakel met jou deel as jy tyd het om daarna te kyk, indien moontlik vir my jou opinie daaroor kan gee. Die skakel van die video is deur my suster op haar Whattsapp status gedeel, rondom Kersfees; https://youtu.be/hKlNkHpZdtM?

Geseënde dag vir jou.

Groete,

Antwoord: Dit is ‘n kritiese vraagstuk wat dikwels tot grootskaalse verwarring lei. Ek verkies om kersfees Christusfees te noem wat die fokus op die Here Jesus Christus plaas. Ek verstaan egter wat jou vraag bedoel. Na my mening is pastoor Frik Weideman van Menorah Tabernakel ‘n eksponent van die Hebreeuse Wortel-dwaalleer. Hulle identifiseer hulle hulself as ‘n “Messiaanse Pinkster-bediening” wat die onderhouding van die Torah, die Sabbat en die Joodse feeste (soos die Pesach/Pasga) as noodsaaklik vir die gelowige se wandel beskou. Menorah Tabernakel verklaar dat die “hele Bybel van Genesis tot Openbaring op elkeen van ons van toepassing is.” Dit is ‘n ernstige hermeneutiese fout. Hoewel die hele Bybel vir ons is (as lering), is die hele Bybel nie aan ons (as die Kerk) geskryf nie. Ek sal binnekort ‘n artikel op die webtuiste publiseer waarin hul leerstellings in die lig van die Skrif geanaliseer word. Na voltooiing sal ek dit beskikbaar stel sodat ander gelowiges eweneens gewaarsku kan word.

Baie mense beweer dat ‘n mens nie Christusfees op 25 Desember mag vier nie, aangesien dit tradisioneel ‘n heidense feesdag was. Hierdie individue ontsien dikwels geen moeite om te demonstreer hoe goddeloos die heidene se optrede tydens hierdie feesdae was nie (wat inderdaad die geval was). ‘n Mens kan egter nie hierdie feit gebruik om Christene te verbied om Christus se geboorte op hierdie spesifieke dag te herdenk bloot omdat dit moontlik heidense wortels of assosiasies het nie. Indien ‘n mens hierdie redenering konsekwent sou toepas, sou dit beteken dat Christene op geen dag van die week God sou kon aanbid of dit as ‘n Christelike feesdag sou kon vier nie, aangesien byna elke dag histories met een of ander vorm van afgodery geassosieer sou kon word. Elke dag van die week is byvoorbeeld na die een of ander afgod vernoem.

Lees meer Is dit verkeerd om Christusfees op 25 Desember te vier?

Die Uniekheid en Beëindiging van die Apostoliese Amp

Vraag: Kan jy vir my vanuit die Bybel verduidelik of daar vandag nog die werklike amp van apostels is? Ek hoor gereeld van mense wat beweer dat hulle apostels is, maar ek vind dit vreemd omdat ek nie daarmee grootgeword het nie.

Antwoord: Baie goeie vraag. Volgens ‘n streng Bybelse interpretasie bestaan die amp van apostel, in die tegniese Nuwe-Testamentiese sin, nie meer vandag nie. Die oorspronklike apostelskap was ‘n unieke, eenmalige bediening wat ten doel gehad het om die Christelike kerk te vestig. Die redes hiervoor is as volg:

Lees meer Die Uniekheid en Beëindiging van die Apostoliese Amp

Die tragedie van Werke-Gebaseerde Verlossing


Hierdie artikel is aan alle gelowiges gerig wat die evangelie geglo het en wat geleer is om na hulle eie werke te kyk om te bepaal of hulle werklik gered is. Het ‘n hartseer brief van ‘n persoon wat 68 jaar oud is ontvang en wat voel dat God hom al vir die laaste drie jaar verlaat het omrede hy nog steeds met sonde sukkel. Ek gaan die brief nie hier plaas nie want dit is lank en bevat boonop baie persoonlike inligting wat ek nie met ander wil deel nie. Ek gaan net een klein gedeelte van sy brief hier weergee omrede ek glo dat daar baie mense is wat met dieselfde probleem worstel. Vervolgens die stelling wat hy gemaak het: “Intussen is dit nou al 3jr dat ek voel God is nie meer met my nie en hoor nie meer my gebede nie. Ek weet presies wat die gevolge daarvan is en lê nagte lank wakker en betreur my lot. Bid vir genade, maar voel geen deurbraak nie.” Hierdie artikel is op antwoord van sy boodskap geskryf en alle gelowiges wat met dieselfde probleem worstel kan hierdie brief lees en op hulleself toepas.

Lees meer Die tragedie van Werke-Gebaseerde Verlossing

Moet nooit Wedergeboorte met Dissipelskap Verwar nie

Vraag: Baie dankie vir die werk wat jy doen. Ek worstel egter met een probleem, dissipelskap . Ek sukkel om gemoedsrus in Christus te vind, omrede dit soms vir my voel asof ek nie die Here altyd volkome as dissipel navolg en alles doen wat Hy my beveel om te doen nie. Ek het die evangelie geglo maar as ek soms na al my foute kyk dan is ek nie so seker dat ek gered is nie. Het jy enige raad vir my.

Antwoord: Wat ‘n goeie en eerlike vraag. Dit is ‘n worsteling wat baie Christene deel, so jy is beslis nie alleen nie. Die feit dat jy hierdie vrae vra, wys juis hoe ernstig jy jou geloof opneem, en dit is ‘n goeie ding. Dit is egter nooit ‘n goeie ding om in God se beloftes te twyfel nie. Jou probleem lê daarin dat jy nie die nodige onderskeid tussen redding (fase een van jou verlossing, naamlik wedergeboorte) en dissipelskap (fase twee van jou verlossing, naamlik heiligmaking) tref nie. Wedergeboorte en dissipelskap is albei noodsaaklike dele van die Christelike lewe, maar hulle funksioneer verskillend en het unieke doelstellings, vereistes en resultate. Onthou altyd dat jy nooit genade met werke/verdienste kan “balanseer” sonder om genade self te ondermyn nie. In hierdie studie sal ek wedergeboorte met dissipelskap vergelyk, asook die doel, vereistes en resultaat/uitkoms van elkeen uitlig. Dit sal jou help om nie die vereistes vir wedergeboorte met dissipelskap te verwar en dit te vermeng nie. Solank as wat jy nie hierdie onderskeid handhaaf nie sal jy onsekerheid met jou verlossing ondervind. Boonop sal jy in die strik van werkheiligheid (wettisisme) trap, wat niks anders as ‘n vorm van Moderne-Fariseïsme is nie. Indien jy dit nie alreeds gedoen het nie raai jou aan om asseblief eerstens die artikel “Die Drie Fases van Verlossing” sorgvuldig deur te lees.

Lees meer Moet nooit Wedergeboorte met Dissipelskap Verwar nie

Die wet van nie-teenstrydigheid en die ewige lewe

Vraag: Een van my kinders het op ‘n stadium die evangelie soos wat jy dit op jou webtuiste geplaas het geglo. Hy het daarna ook ‘n tydlank Jesus as ‘n dissipel gevolg, maar het in tussentyd net soos Demas in wie wêreld teruggeval. Hy lewe nie meer as ‘n dissipel van Christus nie maar jaag eerder rykdom en genot na. Ek is baie bekommerd oor hom en wil nie hê dat hy verlore gaan nie. Ons predikant het gesê dat my kind verlore sal gaan indien hy in daardie toestand tot sterwe kom. Hy het Joh.3:18 aangehaal om sy bewering te staaf. Ek het boonop ook op ‘n ander webtuiste gelees dat ‘n wedergebore persoon wel die ewige lewe kan verloor. Ek hoor graag jou opinie.

Antwoord: Ek het ‘n soortgelyke gesprek met ‘n vriend van my gehad en ek glo daar is baie mense wat met dieselfde vraagstuk as jy worstel. Hierdie vraag kom veral onder Gereformeerde Calvinisme voor, wie beweer dat indien ‘n persoon nie tot die einde van sy lewe bly glo nie, hy nooit in die eerste plek werklik geglo het nie. Die skrifte, asook die tweede wet van logika, naamlik die wet van nie-teenstrydigheid verklaar egter onomwonde dat indien jou kind die evangelie op ‘n punt in tyd geglo het, dan het hy die ewige lewe as ewige besitting en kan nooit verlore gaan nie. Hy het God se woord daarvoor. Mense wat glo dat ‘n gelowige wel verlore kan gaan (Armenianisme) weerspreek ook die skrifte en die wet van nie-teenstrydigheid.

Lees meer Die wet van nie-teenstrydigheid en die ewige lewe

1Joh.5:16 Die sonde wat tot die dood lei

Vraag: Hi Vic. Kan jy my asb sê watter sonde verwys Johannes na wat tot die dood lei.
1Joh. 5:16 “As iemand sy broer ‘n sonde sien doen wat nie tot die dood lei nie, moet hy bid, en God sal aan hom, ja, aan hulle wat sonde doen wat nie tot die dood lei nie, die lewe gee. Daar is ‘n sonde wat tot die dood lei – ek sê nie dat hy daaroor moet bid nie.”

Antwoord: Uitstekende vraag. Baie mense neem verkeerdelik aan dat die stelling “sonde wat tot die dood lei “die tweede dood of ewige verderf beteken.” Hulle vergeet egter een van die kardinale reëls vir korrekte skrifuitleg, naamlik konteks, konteks en weereens konteks. Ek sal die leser van hierdie artikel ten sterkste aanraai om eers die artikel “Sewe verskillende vorms van dood in die Bybel” sorgvuldig deur te lees.” Johannes praat hier met mense wat alreeds wedergebore is en broeders in die geloof is. Hierdie mense besit dus die gawe van die ewige lewe as ewige besitting en kan nie verlore gaan nie.
Joh 5:24 “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe(as huidige besitting) en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe.
Joh 10:28 En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie,sal hulle uit my hand ruk nie. 10:29 My vader wat hulle aan My gegee het, is groter as almal; en niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie.”

Lees meer 1Joh.5:16 Die sonde wat tot die dood lei

Heb.6:6 “en afvallig geword het om dié weer tot bekering te vernuwe”

Vraag: Hi Vic

Verwys die Hebreërs skrywer na gelowiges wat sondes gepleeg het en afvallig geraak het, of ‘n ander geloof beoefen. M.a.w daar is geen vergifnis.

Hebreërs 6:4-6 AFR20 “Dit is immers onmoontlik om hulle wat eenmaal verlig is, wat die hemelse gawe gesmaak, en deel gekry het aan die Heilige Gees, en wat die goeie woord van God gesmaak het, en ook die kragte van die komende bedeling, en tog afvallig geword het, weer opnuut tot bekering te bring; aangesien hulle wat hulleself betref, die Seun van God opnuut kruisig en openlik tot skande maak.“

Groete

Antwoord: Dis ‘n baie goeie vraag wat jy opbring. Die skrywer van Hebreërs spreek met Messiaanse Jode, en dus Christene wat uit die Joodse geloof kom. Hulle was onder druk van hulle volksgenote om na die Jodedom met sy toe nog bestaande tempeldiens terug te keer. Die sondes wat hier van gepraat word moet in daardie konteks verstaan word.

Heb.6:6 is nog ‘n verdere teksgedeelte wat soms aangehaal word as bewys dat ‘n gelowige die gawe van die ewige lewe kan verbeur. Ek gaan net gou weer die teksgedeelte waarna jy verwys hier aanhaal en dan kan ons dit binne die korrekte konteks bespreek.
Heb.6:4 “Want dit is onmoontlik om die wat eenmaal verlig geword het en die hemelse gawe gesmaak en die Heilige Gees deelagtig geword het, 5 en die goeie woord van God gesmaak het en die kragte van die toekomstige wêreld, 6 en afvallig geword het — om dié weer tot bekering te vernuwe, omdat hulle ten opsigte van hulleself die Seun van God weer kruisig en openlik tot skande maak. 7 Want die grond wat die reën indrink wat dikwels daarop val, en nuttige plante voortbring ter wille van hulle vir wie dit ook bewerk word, het deel aan die seën van God. 8 Maar as dit dorings en distels oplewer, deug dit nie en is naby die vervloeking — die einde daarvan is verbranding.”

Lees meer Heb.6:6 “en afvallig geword het om dié weer tot bekering te vernuwe”

Heb.10:26 en die opsetlike sonde


Vraag: Hallo Vic. Dankie vir die inligting. Kan u die volgende ook behandel. Heb.10:26. Hoe verskil dit van die sondes waarmee ons sukkel? Groete

Antwoord: Baie goeie vraag en dit is een van die teksgedeeltes wat mense wat glo dat ‘n gelowige die gawe van die ewige lewe kan verbeur (moderne Armenianisme) aanhaal om hierdie dwaalleer te regverdig. Ek gaan eers die teksgedeelte aanhaal en dit dan binne die korrekte konteks bespreek.
Heb.10:26 “Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie, 27 maar ‘n verskriklike verwagting van oordeel en ‘n vuurgloed wat die teëstanders sal verteer. 28 As iemand die wet van Moses verwerp het, sterf hy sonder ontferming op die getuienis van twee of drie; 29 hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy verdien wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die testament waardeur hy geheilig is, onrein geag en die Gees van genade gesmaad het? 30 Want ons ken Hom wat gesê het: My kom die wraak toe, Ek sal vergelde, spreek die Here; en weer: Die Here sal sy volk oordeel. 31 Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God. 31 Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God. 32 Maar onthou die vorige dae waarin julle, toe julle verlig geword het, ‘n groot lydensworsteling deurstaan het, 33 gedeeltelik omdat julle deur smaad en verdrukkinge ‘n skouspel geword het, gedeeltelik omdat julle deelgenote geword het van die wat in so ‘n toestand verkeer het. 34 Want julle het ook saam met my gevoel in my boeie, en julle het die berowing van julle goed met blydskap aanvaar, omdat julle geweet het dat julle in julself ‘n beter en blywende besitting in die hemele het. 35 Werp dan julle vrymoedigheid, wat ‘n groot beloning het, nie weg nie. 36 Want julle het lydsaamheid nodig, om, nadat julle die wil van God gedoen het, die belofte te verkry. 37 Want nog ‘n klein tydjie, en Hy wat kom, sal kom en nie versuim nie. 38 Maar die regverdige sal uit die geloof lewe; en as hy hom onttrek, het my siel geen welbehae in hom nie. 39 Maar by ons is daar geen onttrekking tot verderf nie, maar geloof tot behoud van die lewe.”

Wanneer dit by die uitleg van die skrifte kom is dit van uiterste belang om eers die korrekte konteks te bepaal. Alle teksgedeeltes in die Bybel is binne die raamwerk van ‘n spesifieke konteks gemaak en dit geld ook vir die brief aan die Hebreërs. Hierdie is een van die kardinale reëls vir korrekte Bybel uitleg.

Lees meer Heb.10:26 en die opsetlike sonde

Die sonde van lieg vir die Heilige Gees

Vraag: Kan jy asseblief vir my verduidelik hoekom God Ananias en Saffira gedood het toe hulle van die geld vir die verkoop van hulle eiendom vir hulleself teruggehou het. Die teksgedeelte waarna ek verwys is Hand.5:1-10. In watter opsig het hulle vir die Heilige Gees gelieg?

Antwoord: Ek glo daar is baie mense wat met dieselfde vraag worstel. Wanneer ons die skrifte bestudeer is dit belangrik om altyd die konteks waarin die spesifieke teksgedeelte in voorkom te bepaal. Die gebeure wat in Hand.5:1-10 plaasgevind het, het vroeg tydens die Kerk Dispensasie plaasgevind en het dus direkte toepassing op die kerk.

Lees meer Die sonde van lieg vir die Heilige Gees

Kinderdoop vs grootdoop


Daar heers groot omstredenheid rondom die kwessie van kinderdoop vs grootdoop en onlangs het ek ‘n epos van ‘n persoon ontvang wat juis met hierdie vraagstuk worstel. Ek gaan die genoemde epos in dele opbreek en dit d.m.v. die “jou vraag/stelling ” en “antwoord” metode beantwoord. Dit is my bede dat hierdie artikel meer lig op die onderwerp sal werp, en ek moet vooraf meld dat elke individuele persoon verantwoordelik is om seker te maak dat dit wat aan hom verkondig word uit die skrifte geregverdig kan word. God gaan elkeen van ons verantwoordelik hou vir die keuses wat ons maak. Ons moet vas oortuig wees van dit wat ons glo en hoekom ons dit glo. Die Here het ons Sy woord gegee waarin Hy Sy wil aan ons bekendgemaak het. In hierdie opsig moet ons God toelaat om vir Homself te praat, en ons moet met alle erns teen die versoeking waak om ons vooropgestelde idees (en tradisies) in die Bybel in te lees. God het die skrifte aan ons gegee sodat ons dit kan verstaan, en dan op grond van daardie Godgegewe openbarings ‘n keuse kan maak of ons dit gaan eerbiedig of nie.

God is ‘n God van logika en hierdie feit vloei uit Sy attribute van alwetendheid uit. Omrede God die mens na Sy beeld geskape het, is een kenmerk van die mens sy kapasiteit om binne die raamwerk van sy beperkte menslike vermoëns ook logies te dink. God het met hierdie wete die skrifte aan ons gegee en Hy verwag dat ons dit moet kan verstaan. Daar is niks in die skrifte wat in stryd met die mens se kapasiteit om logies te dink in botsing kom nie, en dit juis omrede God ‘n logiese God is en Hy ons in Sy beeld geskape het. Of God se logika, soos wat ons dit in die skrifte vind, is deur die mens op ‘n logiese wyse verstaanbaar of daar kan geen betekenisvolle Goddelike openbaring wees nie. God is alwetend en Hy gaan nie aan die mens die skrifte gee indien die mens nie oor die kapasiteit beskik om Sy woord te verstaan nie. God spreek met ons deur Sy woord, en verwag van ons om, d.m.v. die inwerking van die Heilige Gees, bybelstudie te doen om vas te stel wat Hy werklik aan ons wil sê. Vir die mens om in staat te wees om God in hierdie opsig te eerbiedig, moes God die mens met die kapasiteit geskape het om Sy woord te kan verstaan, anders sou daar geen sin in die gee van die geïnspireerde skrifte wees nie. God verwag van elke persoon om d.m.v. korrekte hermeneutiese (skrifuitleg) metodes seker te maak dat die skrifte reg verstaan en toepas word. Die skrifte moet dus op ‘n konsekwente, letterlike, grammatiese en historiese wyse geïnterpreteer word.

Lees meer Kinderdoop vs grootdoop