Sleutelwoord se argiewe: voorblad

Krag in ons Woorde?

Daar is deesdae ‘n gewilde konsep in die kerk wat beweer dat ons woorde krag het. Volgens hierdie siening kan ons, indien ons genoeg geloof het en die regte woorde uitspreek, rykdom, gesondheid en geluk verkry deur positiewe uitsprake oor ons omstandighede te maak. Daar word ook beweer dat mens nooit negatiewe uitsprake mag maak nie, aangesien woorde kwansuis die vermoë het om in die werklikheid te manifesteer. Die argument lui dat aangesien God die wêreld deur Sy woord geskape het, en ons in Sy beeld geskape is, ons in die “God-klas” val en dus self met ons woorde kan skep.

Die vraag wat ons egter moet beantwoord, is of hierdie leerstelling skriftuurlik geregverdig kan word. Of is dit maar net ‘n moderne vorm van gnostisisme? As Christene moet ons ons lewens inrig volgens die Woord van God alleen.
2 Timoteus 3:16-17 “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.”

Lees meer Krag in ons Woorde? →

Is die boek Openbaring Volledig?

Vraag: Kan jy vir my asseblief kommentaar lewer op die feit dat iemand meen dat die boek Openbaring nog nie klaar geskryf is nie en dat mens nog openbaringsinligting daarby kan voeg? In Openbaring 22:18 staan dat niks bygevoeg of weggelaat mag word nie, asook in Deuteronomium 4:2.

Antwoord: Baie dankie vir die vraag; dit is ’n uitstekende en relevante navraag. Met die Here se hulp sal ek poog om u vraag so bondig moontlik te beantwoord. Onthou, ek is net ’n mens en kan foute maak. Toets asseblief alles wat ek sê aan die Skrif!

Die Bybel, vanaf Genesis tot en met die einde van Openbaring, is ’n progressiewe openbaarmaking van God aan die mens. Dit is noodwendig ook die openbaarmaking van Jesus Christus aan die mensdom; dit vertel hoe die mens in sonde verval het en hoe God in Sy genade die gevalle mensdom verlos het. (Die leser word ten sterkste aangeraai om die reeks artikels “Die Duiwel se aktiwiteit sover dit die gelowige aanbetref” te lees, wat die mens se geskiedenis en die satan se betrokkenheid in diepte bespreek).

Lees meer Is die boek Openbaring Volledig? →

Soekers van Ydele Eer

Gal. 5:22-26 “Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing. Teen sulke dinge is die wet nie. Maar die wat aan Christus behoort, het die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede gekruisig. As ons deur die Gees lewe, laat ons ook deur die Gees wandel. Laat ons nie word soekers van ydele eer wat mekaar uittart en mekaar beny nie.”
‘n Ware Christen is nie veronderstel om oor homself te spog nie, maar moet in die Here roem (1 Ko 1:26–31). Wettiese mense vergelyk hulleself dikwels met ander en spog dan met hul goeie werke, asof hierdie werke hulle meer aanvaarbaar voor God maak. Sulke mense vergeet egter dat al ons eie geregtighede soos besoedelde klere voor God is.
Jes. 64:6 “En ons het almal geword soos ’n onreine, en al ons geregtighede soos ’n besoedelde kleed; en ons het almal verdor soos blare, en ons ongeregtighede het ons weggevoer soos die wind.”

Lees meer Soekers van Ydele Eer →

Val in die Gees?

Vraag: Is dit skriftuurlik om in die Gees te val?

Antwoord: Die vraag wat ons hier moet beantwoord, is of die apostels van Jesus ons op enige plek in die Bybel beveel het om “in die Gees te val”. Die antwoord is nee; ons word nêrens in die Bybel so ’n opdrag gegee nie. Ons word wel beveel om in die Gees te wandel. Die vraag wat ons dan moet vra, is: Hoe wandel ’n mens in die Gees? Kom ons raadpleeg die Skrif vir die antwoord.

Johannes 15:5 “Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.”
Hier sien ons dat die Here ons die opdrag gee om in Hom te bly, en dan gee Hy aan ons die versekering dat ons veel vrug sal dra. Is dit deel van vrug dra om “in die Gees te val”, soos wat sommige mense beweer? Vir ’n antwoord gaan ons weer na die Skrifte om te sien wat die vrugte is waarvan die Here hier praat.

Lees meer Val in die Gees? →

Is jy seker God bestaan nie?

Net die dwaas sê in sy hart: “Daar is nie ‘n God nie. Daar is deesdae baie mense, veral ook in Suid-Afrika, wat hierdie stelling maak. Ek glo elke mens is geregtig op sy eie mening, maar om so ‘n stelling te maak, is na my beskeie mening ietwat arrogant. Verder is dit my eie keuse of ek so ‘n persoon gaan glo of nie. (Dit is immers ‘n kwessie van lewe of dood!) Ek sou hom graag wou glo, maar dit sou dwaas van my wees om sy stelling sonder enige nadenke van my kant af goedsmoeds te aanvaar. Die gevolge kan rampspoedig wees. Om my standpunt te staaf, moet ons teruggaan na die begin.

In Genesis maak die Here ‘n stelling dat Hy die wêreld gemaak het in ses letterlike 24-uur dae, en op die sewende dag het Hy gerus. (Genesis 1:1-31 en Genesis 2:1-3) Dit is ‘n feitelike stelling en Hy neem aan dat ons dit sal glo; dit kom immers van Homself af. Om God se stellings oor Homself te verwerp, kom daarop neer om Hom te verwerp. Die persoon wat beweer dat God nie bestaan nie, demonstreer twee van sy eie gebreke wat daartoe bydra dat ek geen rede het om sy stelling te glo nie: hy demonstreer dat hy arrogant is en boonop ‘n leuenaar. So ‘n persoon hoef nie ernstig opgeneem te word nie, ongeag hoe slim of geleerd hy mag wees.

Lees meer Is jy seker God bestaan nie? →

Juk jou Ore? Wat sê die Bybel werklik?

Wil ons werklik hoor wat die Here aan ons wil sê, of wil ons net hoor wat ons sondige natuur begeer? As daar ooit ‘n tyd was om Paulus se waarskuwing aan Timoteus ernstig op te neem, is dit nou, in hierdie dae waarin ons leef.
2Ti 4:3 “want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, 4:4 en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.”

Is dit nie wat tans in die grootste gedeelte van die belydende Christendom gebeur nie? Praat van leerstellings en mense kyk jou skeef aan. Ek het gehoor hoe ‘n gewilde televisieprediker verkondig dat doktrines die kerk verdeel. Dink net by jouself: as ‘n prediker nie leerstellings verkondig nie, wat verkondig hy dan? Waarom het ons dan nog die Bybel? Moet die Bybel nie ons leerstellings bepaal nie? As die Bybel nie die laaste woord in die bepaling van doktrines is nie, kan enigiets as die waarheid verkondig word. Dit sal chaos tot gevolg hê – en is dit nie miskien wat ons vandag in die belydende Christendom waarneem nie?

Lees meer Juk jou Ore? Wat sê die Bybel werklik? →

Skinder: Die Verwoestende Krag van die Skindertong

Die wysheid van Salomo waarsku ons in Spreuke 20:19: “Wie met kwaadsprekery omgaan, maak ‘n geheim openbaar; laat jou dus nie in met een wat sy lippe laat oopstaan nie.”
Dit is aangrypend om te dink aan die seerkry en trane wat ‘n skindertong al veroorsaak het. Ongelukkig is dit dikwels nie net ongelowiges nie, maar juis gelowiges — mense wat veronderstel is om Jesus se ambassadeurs op aarde te wees — wat hulle hieraan skuldig maak. Hoeveel keer het ons nie al in ‘n Bybelstudiegroep gesit waar ‘n persoon sleggesê word terwyl hy nie teenwoordig is om homself te verdedig nie?

Ons verskoon dikwels ons gedrag deur te beweer dat ons die persoon bespreek omdat ons “omgee” of wil “help”. Die eenvoudige waarheid is egter dikwels dat ons nie werklik omgee nie, maar dat ons ‘n sondige genot daarin vind om ander te kritiseer terwyl ons ons eie foute ignoreer. As ons werklik vir iemand omgee, sal ons nie daardie persoon met ander bespreek nie, maar direk na hom of haar gaan om die saak in liefde te hanteer. Sou dit nie baie voordeliger vir die persoon wees nie?

Lees meer Skinder: Die Verwoestende Krag van die Skindertong →

Ek kan nie Tiendes gee nie

Vraag: Sal die Here my kwalik neem as ek finansieel sukkel en nie meer tiendes aan die kerk kan gee nie? Ek is bang Hy straf my en weerhou Sy seëninge omdat ek van Hom “steel”. My pastoor gebruik Maleàgi 3:8 om te sê ek moet bly gee ongeag my omstandighede. Ek is bang ek word vervloek.

Antwoord: Moenie jouself bekommer nie; die Here sal nie Sy seëninge van jou weerhou op grond van jou omstandighede nie. Hy is jou Vader en ken jou omstandighede baie beter as jyself. Eerstens sal ek jou aanraai om altyd jou Bybel eers te raadpleeg oor enigiets wat enige iemand aan jou mag sê — dit sluit my in. Bid eers dat die Heilige Gees jou leiding sal gee. Jesus het ons belowe dat die Heilige Gees ons sal lei; ons moet net bereid wees om te hoor wat Hy wil sê, al is dit nie altyd wat ons wil hoor nie.

Lees meer Ek kan nie Tiendes gee nie →

Versekering in Teëspoed

As kinders van die Here spring ons nie teëspoed en lyding in hierdie wêreld vry nie. (Lees ook asb die artikel “Die gelowige en lyding“) Net wanneer die Here ons kom haal, of indien ons tot sterwe kom voor dat Hy gekom het, sal ons nog steeds van tyd tot tyd teleurstellings en teëspoed in hierdie wêreld beleef. Maar ons moet net besef dat teëspoed, pyn en teleurstellings alle mense in hierdie wêreld tref , nie net die gelowige nie. Ons het egter ‘n troos wat die ongelowige nie het nie, en dit is die feit dat God alles raaksien en weet van al ons teëspoed. Ons bly nog steeds Sy kinders en God bly nog steeds lief vir ons.
Romeine 8:35 “Wie sal ons skei van die liefde van Christus verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard? 8:39 of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.“
Daar is absoluut niks wat ons van Sy liefde kan skei nie. Ons kan maar gerus die Ou-Testamentiese helde se geskiedenis gaan bestudeer. Daar sien ons, dat hulle met tye maar swaar gekry het , maar dat die Here altyd saam met hulle was en hulle op die ou einde geseëvier het. Hulle het ook as beter mense uit die stryd getree en teëspoed het soms as ‘n baie goeie leermeester gedien. In tye van teëspoed moet ons leer dat ons die saak in die Here se hande moet oorgee. Dit is Sy werk om ons deur die dal van doodskaduwee te neem. Hy is immers die Herder. Ons is maar net die skape. Lees meer Versekering in Teëspoed →

Waar lê jou Skat?

Lukas 12:34 “Want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.”
Om die vraag eerlik te beantwoord hoef mens net te kyk op wat ‘n persoon sy geld, tyd en moeite spandeer. Hoeveel geld spandeer ons op ons eie genot? Hoeveel tyd spandeer ons op wêreldse dinge? Waaraan spandeer ons die meeste tyd? Laastens met wie spandeer ons dit? Of kom ons stel die vrae op ‘n ander manier om vas te stel waar ons harte werklik lê.

Spandeer ons die meeste van ons geld op die Here en om Sy opdrag om met die verkondiging van die Evangelie besig te wees? Spandeer ons, ten minste, meeste van ons vrye tyd om vir die Here te werk of meer van Hom te leer? Doen ons werklik enige moeite vir die Here en Sy werk? Hoeveel van ons tyd spandeer ons in God se Woord of in gebed met Hom? Hoeveel tyd spandeer ons met wedergebore Christene? Bogenoemde vrae, as ons dit eerlik beantwoord, sal vir ons ‘n indikasie gee van waar ons harte werklik lê. Is ons skat nie dalk hierdie wêreld en die dinge in hierdie wêreld nie? Lees meer Waar lê jou Skat? →