Man en Vrou

Efésiërs 5:22-24: “Vroue, wees aan julle eie mans onderdanig, soos aan die Here. Want die man is die hoof van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die gemeente; en Hy is die Verlosser van die liggaam. Maar soos die gemeente aan Christus onderdanig is, so moet die vroue dit ook in alles aan hul eie mans wees.”
Opmerking: Anders as wat sekere groepe in ons tyd beweer, verwag die Here dat die vrou aan haar eie man onderdanig moet wees. Daar is geen manier om hierdie opdrag van God te omseil nie. Daar is egter geen sprake van minderwaardigheid hier nie. Net soos Jesus vrywillig aan die Vader onderdanig is, sonder om op enige manier minderwaardig te wees, is man en vrou gelyk voor God. God is ’n God van orde; waar orde ontbreek, ontstaan anargie—en dit geld vir ons land sowel as vir ons gesinne.

In Génesis lees ons dat God opgemerk het dat dit nie goed is vir die mens om alleen te wees nie en dat Hy besluit het om vir hom ’n “hulp” te maak (Génesis 2:18). Die woord vir “hulp” word hier op presies dieselfde wyse gebruik as wanneer daar na die Here as ons “Hulp” verwys word. Daar is dus ’n onmiskenbaar edele konnotasie aan hierdie woord verbonde.
Psalm 70:6: “Maar ek is ellendig en behoeftig: o God, kom tog gou na my! U is my hulp en my redder; HERE, vertoef tog nie!”

Lees meer Man en Vrou

Moenie Bekommer nie!

Lukas 12:22-26: “En Hy het aan sy dissipels gesê: Daarom sê Ek vir julle: Moenie julle kwel oor jul lewe, wat julle sal eet, of oor jul liggaam, wat julle sal aantrek nie. Die lewe is meer as die voedsel en die liggaam as die klere. Kyk na die kraaie, want hulle saai nie en hulle maai nie; hulle het geen voorraadkamer of skuur nie, en tog voed God hulle. Hoeveel meer is julle nie werd as die voëls nie! En wie onder julle kan, deur hom te kwel, een el by sy lengte voeg? As julle dan selfs nie die geringste kan doen nie, waarom kwel julle jul oor die ander dinge?”
Opmerking: Hoe maklik raak ons nie beangstig wanneer dinge begin skeefloop nie? Dit moet ons Here bedroef wanneer ons deur ons optrede demonstreer dat ons nie volkome op Hom vertrou nie. Waarom bekommer ons onsself so maklik?

Lukas 12:27-28: “Kyk na die lelies, hoe hulle groei: hulle arbei nie en hulle spin nie; en Ek sê vir julle, selfs Salomo in al sy heerlikheid was nie bekleed soos een van hulle nie. As God dan die gras van die veld wat vandag daar is en môre in ‘n oond gegooi word, so beklee, hoeveel meer vir julle, kleingelowiges!”
Opmerking: Ons moet op die punt kom waar ons besef dat die Here Jesus Christus ons met Sy bloed losgekoop het. Ons behoort nie meer aan onsself nie, maar aan Hom. Ons hoef onsself nie te bekommer nie; ons is Sy eiendom!
1 Korintiërs 6:19-20: “Of weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie? Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.”
Noudat ons weet dat ons nie aan onsself behoort nie, waarom bekommer ons ons dan oor alles? In die Here Jesus Christus het die Vader ons net so lief as wat Hy die Seun het. Oordink hierdie feit en die geweldige implikasies wat dit vir ons as gelowiges inhou. Sal God die Vader vir Jesus Christus in die steek laat? Nee—net so min sal Hy ons in die steek laat. Kom ons verheerlik Hom vir Sy genade deur op Hom te vertrou; aangesien ons aan Hom behoort, is dit Sy prerogatief om na ons om te sien. Ons moet ophou om ons oor alles te kwel.

Lees meer Moenie Bekommer nie!

Word met die Gees Vervul

Eféziërs 5:18: “Moenie dronk word van wyn nie—daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul.”
Uit bostaande teksgedeelte is dit baie duidelik dat die apostel Paulus ons vermaan om met die Heilige Gees vervul te word. Hy praat nie hier van die ontvangs van die Gees by wedergeboorte nie, maar van die dag-tot-dag vervulling met die Heilige Gees ná wedergeboorte.
1 Korintiërs 12:13: “Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge.”
Dit is belangrik om die onderskeid te merk. Anders as met wedergeboorte, waar die Heilige Gees outomaties in ons kom inwoon omdat ons die Evangelie verstaan en geglo het, word die opdrag om met die Gees vervul te word aan ons gegee—en hiervoor is ons samewerking nodig. ’n Persoon ontvang die Heilige Gees net een keer wanneer hy die Evangelie op ’n spesifieke tydstip glo.

Die vraag wat egter ontstaan, is: Wat moet ons doen om met die Gees vervul te word? Om die antwoord te kry, moet ons na die Bybel gaan en nie na buite-Bybelse praktyke of tradisies nie (waarvan daar ongelukkig baie voorbeelde in die belydende Christendom is). Die Bybel is God se Woord; ons moet ons leerstellings slegs vanuit die Skrif bekom en nie uit menslike opinies, tradisies of vleeslike manifestasies wat met die Bybel in botsing is nie.

Hier volg ’n paar Bybelse riglyne oor hoe ons deur die Gees vervul kan word, want dit is God se wil vir al Sy kinders. Onthou: om met die Heilige Gees gedoop te word, is ’n eenmalige gebeurtenis by wedergeboorte; om met die Gees vervul te word, is ’n voortdurende proses waar ons toelaat dat die Heilige Gees ons beheer.

Lees meer Word met die Gees Vervul

Die Bybelse Perspektief op Lewensafrigting

Vraag: Ek hoop jy kan my help. Ek wil net weet wat jou mening oor ‘n lewensafrigter is. In Engels noem mens dit ‘n “Life Coach”. My man meen dat hulle meer skade as goed doen en dat mense dit net doen om geld te maak. Watter antwoord kan ek vir my man gee?

Antwoord: Van die staanspoor af moet ek vir jou sê dat my antwoord moontlik nie baie gewild sal wees nie, maar met die hulp van die Here gaan ek eerlik my mening vanuit die Skrif weergee. Soos met enige vraagstuk, moet ons na die Bybel gaan vir die antwoord. As Christen is die Woord van God my enigste maatstaf, en daarvolgens gaan ek enige leerstelling of optrede ondersoek. (Maak dit ook deel van jou eie geestelike mondering.)

Lees meer Die Bybelse Perspektief op Lewensafrigting

Gelykenis van die Pêrel

Matteus 13:45–46: “Verder is die koninkryk van die hemele soos ‘n koopman wat mooi pêrels soek; en toe hy een baie kosbare pêrel kry, gaan hy weg en verkoop alles wat hy het, en koop dit.”
Opmerking: Die koopman verteenwoordig die Here Jesus Christus, en nie die kerk soos dikwels verkeerdelik verkondig word nie. Gelowiges gee niks prys en verkoop niks om Jesus as Verlosser te ontvang nie. Die ewige lewe is ‘n geskenk wat deur geloof ontvang word; ons betaal geensins daarvoor nie. God het deur Jesus Christus alles prysgegee om vir ons sondes te betaal. Dit is vir die mensdom onmoontlik om ‘n absolute heilige en regverdige God vir sonde te vergoed. Wat verlossing of wedergeboorte (fase een van ons verlossing) betref, kan ons niks by “geloof alleen in die Evangelie” voeg om wedergebore te word nie. Ons kan niks betaal nie, aangesien ons onsself nie kan red nie en oor niks beskik waarmee ons God kan vergoed nie. Dus is die lering dat die kerk die koopman verteenwoordig eksegeties foutief en vreemd aan die konteks van die Skrif. (Die leser word aangeraai om die artikel “Drie fases van verlossing” te lees).

Lees meer Gelykenis van die Pêrel

My Vyand se Teëspoed

Spreuke 24:17 “As jou vyand val, verheug jou nie; en as hy struikel, laat jou hart nie juig nie, 24:18 dat die HERE dit nie sien en dit miskien verkeerd is in sy oë en Hy sy toorn van hom afwend nie.”
Hoe dikwels sien mens sommer die lekker op mense se gesigte, as iemand wat hulle nie van hou nie struikel, of in die moeilikheid kom. Al verdien hulle dit, mag ons as Christene nie lekker kry as ons vyande gestraf of teenspoed beleef nie. Dit wys maar net dat die Heilige Gees ons nie beheer nie en daar skort dus iets in ons geestelike lewens, naamlik heiligmaking. Ons moet ook weet, dat om so iets te doen, sonde in God se oë is en soos enige sonde moet dit bely en laat staan word. Indien ons nie hierdie sonde bely en laat staan nie mag die Here dalk besluit om ons ook te tugtig. Soms vat dit jare maar wees verseker, dat sonde wat nie bely en laat staan word nie,  nooit ongestraf sal bly nie. (Dit geld veral vir gelowiges wat God se tugtiging te wagte kan wees omrede God al Sy kinders tugtig sodat hulle Sy heiligheid op aarde aan ander kan reflekteer.) Het die Here Jesus Christus ons dan nie beveel  om ons vyande lief te hê nie? Het Hy nie ons  nie beveel om ons vyande, wat ons vervloek, te seën nie? Dit is ‘n verskriklike mistasting (en sonde) om lekker te kry wanneer enige iemand, insluitende ons vyande, struikel of hulleself in moeilike omstandighede bevind.

Lees meer My Vyand se Teëspoed

Gelykenis van die Skat

Mat 13:44: “Verder is die koninkryk van die hemele soos ‘n skat wat verborge is in die saailand, wat ‘n man kry en wegsteek; en uit blydskap daaroor gaan hy en verkoop alles wat hy het, en koop daardie saailand.”

Teologiese Konteks en Interpretasie

Hierdie gelykenis, saam met die gelykenisse van die pêrel en die visnet, word vanuit ‘n hemelse perspektief aangebied. Dit fokus op die bestaan van ‘n gelowige oorblyfsel uit die Joodse volk gedurende twee spesifieke tydperke: die tyd toe Jesus fisies op aarde was, en die toekomstige tydperk net na die kerk-dispensasie (die Groot Verdrukking).

Die Identifikasie van die Simbole:

  • Die Man: Soos reeds gesien in die gelykenis van die onkruid, is die man Jesus Christus.
  • Die Saailand: Dit verteenwoordig die wêreld (Mat. 13:38).
  • Die Skat: Dit is die nageslag van Jakob (Israel). Die Skrif bevestig dit in Psalm 135:4: “Want die HERE het Jakob vir Hom uitverkies, Israel as sy eiendom.” (Sien ook Eksodus 19:5).

Israel versus die Kerk

Dit is krities om te verstaan dat die skat na die volk Israel verwys en nie na die Kerk nie. Om Israel met die Kerk te vervang, is vervangingsteologie, wat ‘n onbybelse leerstelling is. Die Kerk en Israel is twee afsonderlike entiteite met verskillende funksies in God se raadsplan. Terwyl die skat op Israel dui, handel die gelykenis van die pêrel hoofsaaklik oor die Kerk.

(Lees asb. die artikel: Het die Kerk die volk Israel, as God se verbondsvolk, vervang?)

Die Verborge Skat en die Versoening

Die skat is in die saailand “verborge”. Dit dui op die gelowige oorblyfsel van Israel wat onder die nasies verstrooi is — veral na die verwoesting van Jerusalem in 70 n.C. — maar wat steeds deur God geken word. Jesus is die Man wat die skat vind en “alles verkoop” om die saailand te koop. Dit beteken dat Hy aan die kruis met Sy lewe betaal het om die hele wêreld vry te koop, sodat Hy Sy eiendom (die skat) kan opeis.
2 Kor 5:19: “naamlik dat God in Christus die wêreld met Homself versoen het deur hulle hul misdade nie toe te reken nie…”
1 Joh 2:2: “En Hy is ‘n versoening vir ons sondes, en nie alleen vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld.”

Die Toekomstige Openbaring

Die gelowige Jode bly tans “versteek” in die wêreld, maar die Here sal hulle versamel en aan die nasies bekend maak wanneer Hy Sy koninkryk op aarde vestig na die Verdrukking. Intussen is Hy besig om Sy Bruid (die Kerk) te versamel, wat Hy voor die oordeel met die Wegraping sal wegneem.

Alles uit Genade

‘n Belangrike soteriologiese punt is dat die skat (die gelowige Jode) niks betaal nie. Dit het Christus alles gekos, maar vir die sondaar is dit ‘n vrye geskenk. Dit beklemtoon die leer van Vrye Genade: die mens kan nie sy eie heil uitwerk nie, maar ontvang dit slegs deur geloof. Wedergeboorte vind plaas wanneer ‘n persoon die Evangelie verstaan en glo.

Mag ons altyd dankbaar bly vir die prys wat aan die kruis betaal is. Christus het duidelik onderskei tussen die skat (Israel) en die pêrel (die Kerk) sodat ons Sy plan vir die eeue reg kan verstaan.

(Lees asb. die artikel: Het die Kerk die volk Israel, as God se verbondsvolk, vervang?)

Seëngroete

Vic

Esau en Ons

Die Gebed van Isak en die Onvrugbaarheid van Rebekka

Gen 25:21: “En Isak het die HERE gesmeek met die oog op sy vrou, want sy was onvrugbaar; en die HERE het hom verhoor, sodat sy vrou Rebekka swanger geword het.”
Hier kan ons ‘n waardevolle les by Isak leer. In teenstelling met Abraham en Sara, wat sake in eie hande geneem het (met die geboorte van Ismael), het Isak sy probleem na die Here geneem en gewag op God se tydsberekening. Die gevolge van Abraham se gebrek aan geloof word vandag nog weerspieël in die voortdurende vyandigheid van Ismael se nageslag (die Arabiese volke) teenoor die land Israel. Om sonder God se leiding op te tree, kan langdurige en pynlike gevolge hê.

Lees meer Esau en Ons

Jesus en die Koperslang

Soos ek in ‘n vorige artikel gemeld het, is die studie van tipologie in die Ou Testament een van die mees verrykende vorme van Bybelstudie. Die Ou Testament is ryk aan “tipes” wat soos pêrels in die teks opgesluit lê. Die hele Bybel — nie net die Nuwe Testament nie — openbaar Jesus Christus aan die mensdom. Daarom is dit noodsaaklik om die hele Skrif te bestudeer, anders loop ons ryk geestelike seëninge mis. Soos die bekende gesegde lui: “Die Ou Testament is die Nuwe Testament in versteekte vorm, en die Nuwe Testament is die Ou Testament in geopenbaarde vorm.”

Die Historiese Konteks: Numeri 21

Kom ons beskou die geskiedkundige gebeure tydens Israel se woestynreis:
Núm 21:4-9: “Toe trek hulle van die berg Hor af weg op pad na die Skelfsee om die land Edom om te trek; maar die siel van die volk het op die pad ongeduldig geword. En die volk het teen God en teen Moses gespreek: Waarom het U ons uit Egipte laat optrek om in die woestyn te sterwe? Want daar is geen brood en geen water nie, en ons siel walg van die ellendige kos. Toe stuur die HERE giftige slange onder die volk wat die volk gebyt het; en baie mense uit Israel het gesterwe. En die volk het na Moses gekom en gesê: Ons het gesondig dat ons teen die HERE en teen u gespreek het. Bid tot die HERE, dat Hy die slange van ons wegneem. En Moses het vir die volk gebid. Daarop sê die HERE aan Moses: Maak vir jou ‘n giftige slang en sit dit op ‘n paal; dan sal elkeen wat gebyt is en daarna kyk, lewe. Toe het Moses ‘n koperslang gemaak en dit op ‘n paal gesit: en as ‘n slang iemand gebyt het en hy kyk na die koperslang, het hy in die lewe gebly.”

Die Tipologiese Betekenis

Die slange verteenwoordig die sonde, waardeur die hele mensdom “gebyt” is.
Rom 5:12: “Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het.”
Daar is geen mens wat nie gesondig het nie; ons is almal deur die sonde vergiftig en daarom geestelik dood. Die Bybel beskryf die dood nie as annihilasie (gehele uitwissing) nie, maar as skeiding. Wanneer ‘n mens sterf, sterf slegs die liggaam, terwyl die gees en siel bewustelik voortbestaan — óf in die teenwoordigheid van God, óf in die hel, geskei van God (Lukas 16:19-31).

Die koperslang is ‘n tipe van Jesus Christus, wat in ons plek ‘n sondeoffer geword het. Elkeen wat in geloof na Hom kyk, word regverdig verklaar en ontvang die ewige lewe as ‘n vrye geskenk.
2 Kor 5:21: “Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.”
Let wel: Die Skrif leer nie dat Christus self sondig geword het nie, maar dat Hy ‘n sondeoffer gemaak is deurdat ons sondes op Hom gelê is. Die Vader het Jesus Christus in ons plek gestraf. Vanuit ‘n regstegniese oogpunt (die beginsel teen dubbele vervolging) kan die Vader ons nie weer straf as Hy Christus reeds in ons plek gestraf het nie.

Christus se eie verklaring

Jesus self het hierdie historiese gebeurtenis gebruik om Sy missie te verduidelik:
Joh 3:14-15: “En soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, so moet die Seun van die mens verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”
As God het die Here Jesus ons sondes op Homself geneem. Die koperslang simboliseer die oordeel oor die sonde wat op Christus gelê is. Deur geloof in Hom vind die mens, wat dood was in die sonde, die lewe. Dit is die omvang van God se liefde (Johannes 3:16). Hoe verskriklik moes dit nie vir die sondelose Seun gewees het om die skeiding van die Vader te ervaar nie? Daar was egter geen ander wyse waarop God die regverdige oordeel oor die sonde kon voltrek en die mens terselfdertyd kon red nie.

Die Universele Uitnodiging

Net soos elke Israeliet deur geloof na die koperslang moes kyk om gesond te word, so sal enige persoon wat in geloof na Jesus Christus kyk, die ewige lewe ontvang.
Joh 12:32: “En Ek, as Ek van die aarde verhoog word, sal almal na My toe trek.”
Die Here trek alle mense, maar nie almal reageer in geloof nie. Diegene wat die aanbod verwerp, is verantwoordelik vir hulle eie verlore toestand. Die uitnodiging is universeel:
Opn 22:17: “En die Gees en die bruid sê: Kom! En laat hom wat hoor, sê: Kom! En laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet.”

Praktiese Toepassing: Vertroue bo Murmuring

In moeilike tye moet ons ons versoeke deur gebed na die Here neem in plaas van om moed te verloor of te murmureer.
Filip.4:6: “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God.”
Daar is ‘n groot verskil tussen om jou hart voor die Here uit te stort (soos Dawid in die Psalms) en om teen Hom te murmureer. Murmuring openbaar ondankbaarheid en ‘n gebrek aan geloof, terwyl gelowige gebed erken dat Hy ‘n goeie Vader is wat die beste vir Sy kinders wil hê. Soms vra ons dinge wat tot ons nadeel sal strek, en dan moet ons God dank vir ‘n “nee”. Dikwels kla ons “met ‘n witbrood onder die arm” — ‘n vorm van selfsug wat ons moet bely.
Psa 33:18: “Kyk, die oog van die HERE is op die wat Hom vrees, op die wat op sy goedertierenheid wag.” 1 Tim 6:8: “Maar as ons voedsel en klere het, moet ons daarmee vergenoeg wees.” 1 Pet 5:7: “Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle.”

Laat ons leer om oomblik tot oomblik op die Here te vertrou, in die vaste wete dat Hy presies weet wat ons nodig het.

Seëngroete.

Vic

Keuses

Keuses 1Keuses 2

Die Keuse tussen Lig en Duisternis

Dit is waarlik verblydend om ‘n outobiografie van ‘n sendeling of ‘n ander dienskneg van God te lees; om te sien hoe so ‘n persoon die goeie nuus van die Evangelie verkondig het en hoe hulle deur geloof selfs die onmoontlikste struikelblokke oorkom het. Dit is inspirerend om van hulle hoogte- sowel as laagtepunte te lees, en te sien hoe die Here hulle deur alle moeilike tye onderskraag het. Dit bemoedig mens en herinner ons dat daar wel mense is wat God werklik op Sy Woord neem en te midde van ‘n bose wêreld in Hom glo.

Ons lees ook van gelowiges wat hulle lewens opgeoffer het om die Evangelie aan ander te bring, sodat hulle hoorders nie verlore hoef te gaan nie. Wat ‘n voorbeeld van toewyding en geloof! Sulke verhale gee mens moed om voort te stry in diens van God – wat immers ons opdrag is. Ons het egter die keuse: gaan ons die Here glo en gehoorsaam wat Hy ons beveel, of gaan ons ongehoorsaam wees?

Ek wil spesifiek gesels oor wat gebeur wanneer ons die wêreld – en dus indirek die duiwel – kies en deur hom verlei word. Ons almal het keuses om te maak en ons sal persoonlik vir daardie keuses verantwoordelik gehou word. Beskou die eerste foto hierbo. ‘n Mens kan maklik dink dat hierdie vroue eenvoudige sendelinge is wat hulle lewens aan die Evangelie toegewy het. Dit is egter nie die geval nie. Hulle was almal wagte in die Stutthof-konsentrasiekamp tydens die Tweede Wêreldoorlog. Die meeste is ter dood veroordeel nadat hulle skuldig bevind is aan misdade teen die mensdom. Daar word selfs beweer dat een van die dokters in die kamp seep van slagoffers se liggaamsvet gemaak het. Ek sal nie al die skokkende misdade hier opnoem nie, aangesien dit sensitiewe lesers mag ontstel en nie die hoofdoel van hierdie artikel is nie. Ek sal egter ‘n paar skakels onderaan plaas vir diegene wat meer hieroor wil lees.

Wat ek wil beklemtoon, is dat ons as wesens wat na die beeld van God geskape is (Imago Dei), morele keuses kan uitoefen en dus oor ‘n vrye wil beskik. Om te beweer dat die mens se verstand na die sondeval dermate verduister is dat hy nie meer tussen reg en verkeerd kan kies nie, is vals en sou God indirek die skepper van boosheid maak. Die Bybel stel dit duidelik dat God lig is en dat daar geen duisternis in Hom is nie. Dus kan God geen aandeel in boosheid hê nie!
1 Johannes 1:5: “En dit is die verkondiging wat ons van Hom gehoor het en aan julle verkondig: God is lig, en geen duisternis is in Hom nie.”

God versoek ook niemand met die kwaad nie:
Jakobus 1:13-15: “Laat niemand, as hy in versoeking kom, sê: Ek word deur God versoek nie. Want God kan deur die kwaad nie versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie. Maar elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word. Daarna, as die begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde; en as die sonde tot volle ontwikkeling gekom het, bring dit die dood voort.”

Wat is sonde en waar kom dit vandaan? Sonde is enige daad wat teen God se geopenbaarde wil gepleeg word. As Skepper het God die reg om reëls neer te lê en gehoorsaamheid van Sy skepsels te verwag. Hy doen dit uit liefde, want net Hy ken die mens ten volle en weet wat tot ons beswil is. Die gebooie is ‘n openbaring van God se karakter. Omdat ons na Sy gelykenis geskape is, verwag Hy dat ons Sy karaktereienskappe sal reflekteer. Ons het egter dikwels gekies om die duiwel te glo en hom te gehoorsaam – sekerlik die hartseerste keuse wat die mensdom nog gemaak het.

Baie mense verwyt die Here vir die lyding op aarde omdat Hy dit sou toelaat. Die antwoord is egter eenvoudig: Vir God om mense te skep wat Hom werklik kan liefhê, moes Hy hulle met ‘n vrye wil beklee. Sonder ‘n vrye wil sou ons bloot “robotte” gewees het wat geprogrammeer is om liefde te betoon. Ware liefde vereis die vryheid om te kies. Dus moes God die mens die opsie gee om Hom lief te hê of te verwerp. Wanneer ‘n persoon dus kies om boos op te tree, is dit nie God wat die boosheid bewerk nie, maar die mens se eie keuse. Die mensdom moet die skuld vir die boosheid op aarde voor eie deur lê.

Sou God die mens se wil wegneem bloot omdat hy boos handel, sou God onregverdig wees. Waarom sou Hy die geleentheid tot ewige seëninge ontneem aan diegene wat wel die Evangelie in geloof aanvaar, net omdat ander kies om dit te verwerp? Sonder vrye wil sou God die mens nooit moreel verantwoordelik kon hou nie. Dit is die mens se rebellie – gedryf deur gierigheid, liefdeloosheid en hoogmoed – wat veroorsaak dat mense mekaar verskeur. Sonde en swaarkry is die gevolg van die mens se opstand teen God.

Dink net hoe die wêreld sou lyk indien die mensdom God se Wil uitgevoer het! Ongelukkig is dit nie die geval nie, en dinge sal toenemend vererger namate die mens God verder verwerp. Dit het by Adam en Eva begin en duur vandag voort.
Jakobus 4:1-4: “Waarvandaan kom oorloë en vegterye onder julle? Kom hulle nie hiervandaan, van julle welluste wat in julle lede stryd voer nie? Julle begeer en julle het nie… Wie dan ‘n vriend van die wêreld wil wees, word ‘n vyand van God.”

Die Bybel waarsku dat sake sal versleg totdat die Here self ingryp:
2 Timoteus 3:13: “Maar goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger, hulle wat verlei en verlei word.”
Markus 13:20: “En as die Here dié dae nie verkort het nie, sou geen vlees gered word nie…”

Voordat ons oordeel oor die kampwagte uitspreek, moet ons onsself ondersoek. Is ons nie ook dikwels skuldig aan sonde, dalk net in ‘n ander vorm nie? Dink aan ons gedagtewêreld.
Romeine 1:29-32: “…hulle is vervul met allerhande ongeregtigheid… mense wat al ken hulle die verordening van God goed… dié dinge nie alleen self doen nie, maar ook hulle goedkeuring skenk aan die wat dit doen.”
Beskryf hierdie gedeelte ons nie ook nie? Magsmisbruik kom voor op alle vlakke van die samelewing. Verdien ons nie ook die dood nie? As ek na my eie verlede kyk, verdien ek niks minder nie – alles weens keuses wat ek vrywillig gemaak het. Die Here oordeel die hart; Hy beskou ‘n bose begeerte net so ernstig as die daad self (Mattheus 5:28).

Ons moenie soos Barábbas wees nie. Hy het vrygegaan omdat Jesus in sy plek gesterf het, maar hy het waarskynlik voortgegaan in sy ou leefwyse. Christus het nie gesterf sodat ons in sonde kan voortgaan nie, maar sodat ons daarvan bevry kan word. (Lees asb. die artikels “Drie fases van verlossing”, asook “Heiligmaking op grond van genade deur geloof” vir meer besonderhede.)
1 Petrus 2:16: “…as vrymense en nie asof julle die vryheid het as ‘n dekmantel vir die boosheid nie, maar as diensknegte van God.”
2 Petrus 2:19-22: “…want waar ‘n mens deur oorwin is, daarvan het hy ook ‘n slaaf geword… Die hond het omgedraai na sy eie uitbraaksel…”
Ons keuses moet meer as bloot lippetaal wees.
Lukas 6:46: “En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?”
Jakobus 2:14-17: “Wat baat dit, my broeders, as iemand sê dat hy die geloof het, maar hy het nie die werke nie? Dié geloof kan hom tog nie red nie? … Net so is ook die geloof, as dit geen werke het nie, in sigself dood.”

Hoe lyk die voetspore wat ons agterlaat? Is ons lewens besaai met “geestelike lyke” weens belastering en selfsug? Reflekteer ons die Here Jesus, of is ons lewens soos geestelike konsentrasiekampe vol doodsheid? (Lees asb. die artikel “Sewe verskillende vorms van dood in die Bybel”).
Galasiërs 6:7: “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai.”

Ons moet ons in geloof vereenselwig met Jesus se dood. In tye van versoeking moet ons op Christus fokus en vertrou op die instaatstellende krag van die Heilige Gees.
Romeine 6:3-4: “Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? …sodat ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel.”
Kom ons wandel as kinders van die lig. Ons vyand, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu (1 Petrus 5:8). Ons moet waak, bid en die volle wapenrusting van God aantrek (Efesiërs 6:11). Ons almal het keuses om te maak, en ons sal verantwoording doen.

Seën Groete.

Vic

Om hierdie artikel te skryf was vir my ‘n moeilike ondervinding, omrede ek baie oor die afskuwelikhede wat daar in die konsentrasiekampe van die tweede wêreldoorlog gepleeg was, moes oplees. Ek het ook tot die gevolgtrekking gekom, dat ek nie beter as enige van daardie mense is nie en dat ek maklik ook so sou optree. Ek kan net die Here dank dat Hy my verlos het en besig is met heiligmaking in my lewe en my sodoende verlos van die houvas wat sonde op my lewe na wedergeboorte het. ‘n Persoon waardeer net werklik wat vryheid is, indien daardie persoon eers bevry is van die sondes wat oor hom geheers het. Ek kan daarvan getuig en dank die Here daarvoor. Ek het egter nog ‘n ver pad om te loop.

Groete

Vic

Hier is ‘n paar skakels wat ek gelees het.
Herta Oberheuser
Female guards in Nazi concentration camps
Stutthof concentration camp
Soap made from human corpses
Rudolf Spanner
Gerda Steinhoff
Wanda Klaff
Jenny-Wanda Barkmann
Ewa Paradies
Elisabeth Becker

Wat sê die Skrifte