Kategorie se argiewe: Heilsweg

Die onderskeid tussen Wedergeboorte en Loon vir Goeie Werke

Indien ons die Bybel noukeurig bestudeer, sal opgemerk word dat daar ‘n duidelike onderskeid tussen aanvanklike verlossing (fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte) en loon wat ‘n gelowige na aanvanklike wedergeboorte, deur die inwerking en krag van die Heilige Gees, kan versamel. (Fase twee van verlossing, naamlik heiligmaking.) Lees asb die artikel “Drie fases van verlossing” vir meer inligting rondom die drie verskillende fases van ons verlossing. Dit is uiters belangrik om hierdie onderskeid duidelik waar te neem, want baie Christelike denominasies tref nie duidelik hierdie onderskeid nie en dit lei dan daartoe dat hulle op ‘n baie subtiele wyse goeie werke deel van die Evangelie maak. Om hierdie rede, kom dit as geen verassing dat die apostel Paulus dit nodig geag het om Timoteus baie sterk aan te moedig, om die woord te bestudeer en homself daarop toe te lê om die woord reg te sny.
2Ti 2:15 “Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ‘n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny.”
Die Here neem leerstellige suiwerheid en Bybelse leerstellings baie ernstig op en daarom sal ons wys wees indien ons dieselfde doen. Om hierdie rede, gaan met die skryf van hierdie artikel, gepoog word om vanuit die Skrifte die onderskeid tussen wedergeboorte en loon, wat deur goeie werke gedoen bekom kan word, gedemonstreer word. Dit sal verhoed dat ‘n persoon goeie werke/dissipelskap deel van die Evangelie van God se genade maak en die Evangelie in ‘n werke evangelie verander nie. Lees meer Die onderskeid tussen Wedergeboorte en Loon vir Goeie Werke

Bekering, Geloof en die Ewige Lewe

Vraag: Vic, jy sê dat wedergeboorte en bekering op dieselfde tyd plaasvind? Ek glo in Jesus en is n ______ dosent en verkondig die Evangelie en lei dissipels op deur die genade van die Here. Ek is in die Volle Evangelie kerk en vra vir baie Pastore en selfs Dr’s die vraag en kry na my mening n grys antwoord. Hier is my storie, ek vind myself sonde doen selfs wanneer ek voel dis verkeerd. Ek sal saam my vrou by die huis sit en n paar biere drink wanneer ons bordspeletjies speel, en dan nog my rook verslawing. Nou beoefen ek my geliefde ou sonde by my huis omdat ek nie skade aan God se koninkryk of n struikeling vir ander gelowiges wil wees nie. Waar plaas dit my en loop ek gevaar om verlore te gaan?
Dankie  Lees meer Bekering, Geloof en die Ewige Lewe

Sewe verskillende vorms van Dood in die Bybel

Wat beteken die woord “dood” in die Bybel en beskik hierdie woord oor meer as net een betekenis? Met die skryf van hierdie artikel, sal daar gepoog word om hierdie vraag te beantwoord. In 2 Timoteus 2:15 merk ons op, hoedat die Apostel Paulus aan sy getroue metgesel, Timoteus, die opdrag gee, om homself beproef voor God te stel, deurdat hy die woord van God reg sny.
2Ti 2:15 “Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ‘n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny.”
Dieselfde opdrag geld vir ons vandag, veral in die tye waarin ons lewe, waar valse leerstellings so ‘n groot ingang in die belydende Christendom gemaak het. Hierdie stelling geld veral, wanneer dit by die verdediging van die Evangelie, van God se genade sonder verdienste, kom. Om hierdie rede is dit belangrik, dat ons oor die vermoë beskik, om die nodige onderskeid tussen die betekenisse van sekere terme in die Skrifte te onderskei. In hierdie artikel gaan ek die sewe verskillende vorme van dood in die Bybel uiteensit en kortliks bespreek, wat sal verhoed dat die leser werke deel van die Evangelie maak, en dit sal boonop die bestudering en verstaan van die Bybel vergemaklik. Dit is alle gelowiges se plig om die Evangelie van God se genade, sonder verdienste, teen alle pogings om werke daarby te voeg, te beskerm. Veral as dit by fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte kom. Om hierdie rede is dit uiters belangrik vir die leser om deeglik van die drie fases van verlossing kennis te dra. Indien die leser dit nie alreeds gedoen het nie, word hy/sy ten sterkste aangeraai om eerstens die artikel “Drie Fases van Verlossing” te lees, alvorens hy met die lees van hierdie artikel voorgaan. Lees meer Sewe verskillende vorms van Dood in die Bybel

God se Liefde en Alwetendheid vs die Mens se Rebellie

Vraag: Hi Vic, ek het al jou artikels op die blad gelees. Dit is baie leersaam. Ek het ‘n vraag wat lank in my gedagtes is. Ek glo volkome in God en dat Hy alwetend is. Die vraag vra ek met die grootste respek. Hoekom het God die mens gemaak as hy geweet het dat die mens gaan sondig en dat dit sy Seun se lewe gaan kos om ons te red. Hy het ons nie as robotte gemaak nie maar met ‘n wil. Nogtans…..
Groete.

Antwoord: Dit is ‘n baie goeie vraag en ek dink daar is baie gelowiges wat met dieselfde vraag worstel. Die antwoord op jou vraag, glo ek, is gesetel in wie God is, soos wat Hy Homself in die Bybel aan die mens openbaar. Hierdie feit is nogal belangrik, want daar is groot gedeeltes van die belydende Christendom wat ‘n konsep van die Here handhaaf wat nie ooreenstem met hoe God Homself in die Bybel aan ons openbaar nie. Daar is dus teoloë wat beweer dat die Here liefde is, en om hierdie rede sal Hy niemand na die poel van vuur verdoem nie. Alhoewel die Here ‘n God van liefde is, stel die Bybel dit egter duidelik, dat Hy ook ‘n God van geregtigheid is en daarom moet Hy sonde straf. Dit wil dus voorkom asof daar ‘n paradoks is, maar die oplossing lê in wie die Here is. (Ek sal later meer oor hierdie punt uitbrei) God kan op geen stadium in stryd met enige van Sy attribute optree nie, want dan sal Hy nie meer God wees nie. Die Bybel stel dit egter baie duidelik, dat iemand wat die Evangelie verwerp in die poel van vuur gewerp sal word.
Joh 3:35 “Die Vader het die Seun lief en het alles in sy hand gegee. 3:36 Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom.” Lees meer God se Liefde en Alwetendheid vs die Mens se Rebellie

Ewige Sekuriteit van die Gelowige

Aangesien die mens geensins verdien om gered te word nie, en boonop niks kan doen om homself te red nie, maar slegs die ewige lewe as geskenk, deur geloof by God ontvang, kan hy ook niks doen om die geskenk van die ewige lewe te verloor nie. Die Here is nie ‘n mens dat Hy ‘n geskenk, wat Hy kosteloos aan die mens gegee het, sal terugneem nie. Die vrye gawe van die ewige lewe is ewigdurend en kan nie verloor, ongedaan gemaak, nietig verklaar, omgekeer of beëindig word, deur ‘n gedagte, daad of die verandering van die geloof van die wedergebore persoon nie. Die ewige sekuriteit van die gelowige kan omskryf word as ‘n onverbreekbare verhouding met God, wat Sy integriteit, absolute geregtigheid en Sy onmeetbare liefde insluit. Met aanvanklike geloof in die Evangelie vorm die Here ‘n onbreekbare Vader/kind verhouding met die gelowige en sal God,  op grond van wat die gelowige ook al mag doen, nooit daardie verhouding verbreek of ongedaan maak nie . Die Vader se werk in die verlossing van die mens kan dus geensins ongedaan gemaak word nie! Dit is God wat die verhouding inisieer en na aanvanklike geloof/wedergeboorte onderhou, nie die mens nie. Lees meer Ewige Sekuriteit van die Gelowige

Ek voel te sondig om gered te word

Vraag: Ek voel te sondig om gered te word. Help asb!!

Antwoord: Eerstens is dit baie belangrik om te besef dat jou gevoelens jou nie red nie. Jy word gered deur om eenvoudig in Jesus Christus (die voorwerp van jou geloof), en Sy versoenings werk aan die kruis,(die Evangelie) te glo en nie op jou gevoelens, werke, doop , kerkbywoning of enige iets anders nie!! Dit is van uiterste belang, om te glo wat die Here in Sy woord aan jou sê, en nie wat enige persoon (my inkluis) of kerk denominasie aan jou mag voorhou nie. Moet ook nie op jou gevoel staatmaak nie, want ons emosies is nie baie betroubaar nie en kan selfs totaal en al misleidend wees. Vergelyk altyd alles wat ek of enige persoon aan jou verkondig, met wat God in Sy woord (die Bybel) aan jou sê, en interpreteer altyd onduidelike teksgedeeltes met die wat duidelik gestel is, nie anders om nie. Onthou altyd, dat as jy wil hoor wat die Here aan jou wil sê, dan moet jy jou Bybel lees en nie op buite Bybelse profesieë, gevoelens, omstandighede en tradisies staatmaak nie. Kom ons gaan kyk wat God oor jou situasie te sê het. (Lees ook asb die artikel “Die onderskeid tussen ‘n gelowige en n dissipel“) Lees meer Ek voel te sondig om gered te word

Slegs geloof as basis vir wedergeboorte

Rom 4:5 “aan hom egter wat nie werk nie, maar glo in Hom wat die goddelose regverdig, word sy geloof tot geregtigheid gereken.”
Geen mens sal ooit gered word deur sy eie goeie werke nie. Die sondaar word slegs op grond van God se genade en geloof in Jesus Christus gered en nooit op grond van die persoon se eie goeie werke nie. (Efesiërs 2:8-9; Titus 3:5) Nie een van ons sal ooit genoeg goeie werke kan doen om by God geregverdig te word nie, omrede ons goeie werke nooit by God aanvaarbaar sal wees as grond vir regverdiging nie.
Jes 64:6 “En ons het almal geword soos ‘n onreine, en al ons geregtighede soos ‘n besoedelde kleed; en ons het almal verdor soos blare, en ons ongeregtighede het ons weggevoer soos die wind.”
Op grond van hierdie feite, moet ons ophou werk om gered te word en in geloof, in die voltooide werk van Jesus Christus aan die kruis, te rus.
Joh 19:30 “En toe Jesus die asyn geneem het, sê Hy: Dit is volbring! En Hy het sy hoof gebuig en die gees gegee.”
Met die woorde: “Dit is volbring” het Jesus dit duidelik gestel dat Sy verlossingswerk voltooi is. Daarom is dit van kardinale belang, dat ons as gelowiges besef, dat Jesus vir al ons sondes aan die kruis betaal het en dat dit Hy was wat al die werk gedoen het. Al wat Hy van ons verwag is om Sy Evangelie in geloof toe te eien en te rus van ons eie werke en slegs op Hom te vertrou. Lees meer Slegs geloof as basis vir wedergeboorte

Die gelowige se posisie in Christus vs sy optrede

Dit kan nie genoeg beklemtoon word hoe belangrik dit vir die gelowige is om teksgedeeltes in die regte konteks van die Skrif te lees en verstaan nie. As hierdie reël getrou nagevolg word sal dit baie verwarring en onsekerhede uitskakel en behoort die bestudering van die Bybel ‘n plesier te word en nie as iets beskou te word wat net vir sekere persone beskore is nie. God in Sy liefde en genade het die Bybel aan al Sy kinders geskryf en Hy wil hê dat hulle almal dit vir hulleself moet lees en verstaan. Dit is ook ‘n mite dat sekere gedeeltes van die Skrif nie verstaan kan word nie. God sal nie die Bybel vir die mens gee met die bedoeling dat die mens sekere gedeeltes nie kan verstaan nie. As die Bybel nie vir die mens geskryf is nie, vir wie is dit dan geskryf? Die Bybel is deur God gegee om verstaan te word. Met hierdie waarheid ingedagte gaan ons ‘n teksgedeelte bespreek wat baie onsekerheid en vrees by sommige mense veroorsaak, omrede die teksgedeelte gereeld buite sy konteks aangehaal word. Lees meer Die gelowige se posisie in Christus vs sy optrede

Drie Fases van Verlossing

Voordat ons met hierdie Bybel studie begin, moet ons net besef dat die dood nooit in die Bybel as die totale uitwissing van die mens beskryf word nie. Met fisiese, sowel as geestelike dood, vind daar ‘n skeiding plaas. As ‘n persoon fisies tot sterwe kom, word sy vleeslike liggaam van sy gees en siel geskei, maar die persoon is nog steeds bewus van alles wat om hom aangaan. Dus, word die liggaam van die persoon in die graf gelê, maar sy siel en gees leef bewustelik in die Hel of in die Hemel voort. ( Luk 16:19 – 31 Lasarus en die ryk man )
2Ko 5:8 “Maar ons het goeie moed en verkies om liewer uit die liggaam uit te woon en by die Here in te woon.”
Net so ook, wanneer ‘n persoon geestelik dood is, is sy gees van God geskei a.g.v. sy sonde. Solank as wat hy nog in sy fisiese liggaam, hier op aarde lewe, is hy nog steeds van sy aardse bestaan bewus, asook die omstandighede waarin hy homself mag bevind. Indien so ‘n persoon egter in sy ongeredde toestand tot sterwe sou kom, dan word sy gees en siel permanent van God en Sy teenwoordigheid geskei, en is hy volkome bewus van die omstandighede waarin hy homself bevind.
Lukas 16:24 “En hy roep en sê: Vader Abraham, wees my barmhartig en stuur Lasarus, dat hy die punt van sy vinger in water kan insteek en my tong verkoel; want ek ly smarte in hierdie vlam.”
In bostaande teksgedeelte sal opgemerk word, dat die Here Jesus dit baie duidelik stel, dat wanneer ‘n persoon fisies tot sterwe kom, daardie persoon nog steeds bewustelik voortbestaan en kan hy ook boonop lyding en smarte ervaar. Lees meer Drie Fases van Verlossing

Die Breë en die Smal Weg

Mat 7:13 “Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan.
7:14 Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind.
Hierdie is seker een van die belangrikste waarskuwings wat die Here ooit kon uiter, en verbasend genoeg steur baie mense hulle nie daaraan nie. Baie mense wat hulle wel daaraan steur verstaan die teksgedeelte verkeerd en begin dan onnodiglik vrees. So wat het die Here dan werklik hier bedoel? Lees meer Die Breë en die Smal Weg